Eeram-boerevereniging vier sy eeufees

Estimated reading time: 7 minutes

Die Eeram-boerevereniging by Harrismith vier vanjaar sy 100ste bestaansjaar met die feesvieringe wat op 17 en 18 Mei ’n hoogtepunt bereik het.

Die naam Eeram, verduidelik Jean-Pieter Corver, huidige voorsitter van die boerevereniging, en 27ste voorsitter sedert die ontstaan van die vereniging, is Maree agteruitgelees. Die storie loop dat die eienaar van die plaas waarop die Eeram-stasie destyds gebou is, Zach de Beer, ’n prokureur van Harrismith, toestemming gegee het dat die stasie op sy plaas gebou word, mits dit na sy vrou, Gertruida Maree, genoem word. Haar nooiensvan is toe in sy omgekeerde vorm gebruik.

Aanvanklik was die rol van die Eeram-boerevereniging hoofsaaklik om veilings aan te bied, en die spoorlyn en stasie het natuurlik baie handig te pas gekom om vee te vervoer, veral KwaZulu-Natal toe. Later is silo’s ook opgerig, wat die vervoer van graan vergemaklik het.

“Oor die jare, lyk dit my, het die ledetal redelik gewissel. Vandag is ons 65 lede, maar daar was tye dat maar net 13 mense die vergaderings bygewoon het. Dis moontlik dat daar baie meer lede was, maar dat die belangstelling in die vergaderings net min was. Wat wel uit die notules blyk, is dat die vereniging redelik aktief was met vetveekompetisies en skoue, afgesien van die veilings. En dan was die vereniging natuurlik die middelpunt van baie gereelde sosiale samekomste.”

Hulp met instandhouding

Die afgelope sowat tien jaar het die vereniging se missie redelik baie verander, sê Jean-Pieter. “Omdat die staat tot ’n groot mate faal in die verrigting van sy funksies op die platteland, het die boerevereniging toenemend begin instaan vir van hierdie funksies.

“Ons probeer beslis nie om die staat se funksies oor te neem nie, maar ons speel wel ’n groot rol in die koördinering daarvan, soos weerspieël word in ons veiligheidskomitee en paaiekomitee, en ook ander komitees waarmee ons by die Harrismith Distriksboereunie se strukture inskakel. Die rol wat ons in effek speel, is om ’n ruggraat te wees waaraan ekonomiese, logistieke en ook sosiale aktiwiteite geanker kan word.”

Lees meer oor ernstige veesiektes hier.

Voorbeelde van hoogs suksesvolle projekte wat hulle in die onlangse verlede aangepak het, sê hy, is die kameraprojek, waar kameras op sleutelroetes in hul gebied aangebring is en waardeur verkeer dopgehou en verdagte voertuie geïdentifiseer kan word, die aanstel van ’n sekuriteitsmaatskappy om monitering en gewapende reaksie te behartig, asook die instandhouding van paaie in hul gebied.

“My fokus gedurende my voorsitterstermyn is vernuwing. Daar is ’n groot gros nuwe, jong toetreders tot die boerdery in ons omgewing wat met ’n opwindende nuwe gees kom. As dit reg gekanaliseer word, kan dit ’n opwindende nuwe tydvak vir die vereniging beteken. Daar is groot druk op boere uit verskillende oorde, maar as ‘n mens die boerevereniging so kan struktureer dat dit jou kan help om die druk te hanteer, dink ek jy vervul die rol van ’n moderne boerevereniging.”

Jong boere op die plaas

Op ’n vraag oor waarom soveel jong boere terugkom plaas toe terwyl daar ’n tyd was, sowat 20 jaar gelede, dat dit nie die geval was nie, sê Jean-Pieter hy glo die antwoord lê in die onsekerheid wat rondom die oorgang na die nuwe regering in 1994 geheers het.

“Ons jonger geslag se ouers het daardie oorgang beleef, en daardie onsekerheid het waarskynlik veroorsaak dat baie seuns nie die risiko wou aangaan wat daarmee saamgegaan het nie. Ons geslag het nie daardie onsekerheid beleef nie, en ons sien die geleenthede wat die landbou bied. Daarom dink ek dat meer seuns deesdae bereid is om plaas toe te kom.”

Die gemiddelde ouderdom van lede, skat Jean-Pieter, is in die omgewing van 45. “Ons twee oudste aktiewe lede is in die middel tot laat 80’s. Dan is daar ’n hele paar tussen 60 en 80, en ’n sterk groep lede van in die 50. Die kleinste groep, interessant genoeg, is tussen 40 en 50, met ’n groot groep van onder 40.”

Lees meer oor die 2023 Agri Wes-Kaap Jongboer van die Jaar-wenner hier.

As ‘n mens moet veralgemeen, sê Jean-Pieter, is daar ’n merkbare verskil in benadering tussen die ou garde – die sogenaamde baby boomers – teenoor die jonger geslag, die sogenaamde millennials.

“My ervaring is dat die ou manne bo 75 nog stoere boere is; vir hulle gaan dit oor produksie, die plaas en wat binne die grense van die plaas gebeur. My ouers se geslag, wat nou in hulle 60’s is, is baie meer besigheidsgeoriënteerd. Hulle het ook baie beter strukture geskep waarbinne hul kinders by die boerdery betrokke kon raak.”

Voltooi ’n volle sirkel

“Wat ek by die garde jonger as ekself raaksien, is dat hulle die voordele van goeie besigheidstrukture geniet, en dat daar by hulle ’n groter behoefte vir sosiale strukture is waarbinne hulle kan saamkom. Dit voel dus eintlik asof die rol van die boerevereniging besig is om die sirkel te voltooi.”

Wat boerderybenadering betref, is daar ook merkbare verskille. “Ek dink my ouers se geslag, wat nou in hul 60’s is, het die begin van die reuse tegnologiese veranderinge in die landbou beleef. Hulle is gebombardeer met baie nuwe ontwikkelinge en hulle moes daaruit sin maak. Hulle het hul strukture op grond van hierdie nuwe inligting gevestig.

“Mettertyd het daar egter soveel nuwe inligting na vore gekom, wat nie noodwendig alles goed is nie. Dit het vereis dat boere toenemend die vermoë moes ontwikkel om tussen relevante, goeie inligting en minder goeie inligting te onderskei. Om dit te kan doen, moet jy ’n goeie skoot ervaring hê, maar ook die openheid van denke om potensiaal raak te sien.”

Dit is ook belangrik dat die Eeram-boerevereniging, sluit Jean-Pieter af, ook ’n rol speel om sin te maak van inligting deur middel van inligtingsdae en studietoere. Dis waar ondervinding en leergierigheid mekaar ontmoet. “Ons kry dit nogal reg om produsente en insetverskaffers bymekaar te bring, sodat goeie inligting doeltreffend oorgedra kan word.” – Izak Hofmeyr, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel Jean-Pieter Corver op 083 453 6097.

Must read

The Semonkong Hospital Trust veterinary outreach programme

Estimated reading time: 5 minutes The Semonkong Hospital Trust is a faith-based, interdenominational organisation that has been hosting an annual week-long veterinary outreach in Semonkong, Lesotho, since 2006. During this week, veterinary surgeons and...
Royal Skou

Kongresse, kompetisies en skoue – Kom kyk Plaas TV

Estimated reading time: 3 minutes Hierdie week het Plaas TV weereens vir interessante kykstof gesorg en vandag is #kykweervrydag. Hier is ’n opsomming van dié week se episodes: The 2024 Royal Agricultural Exhibition, held at the Royal...
Ten spyte van die moeilike ekonomiese klimaat het kopers vanoor die hele land die veiling bygewoon.

Syferfontein Bonsmaras hou suksesvolle veiling

Estimated reading time: 3 minutes Die bekende Bonsmarastoet by Vrede, Syferfontein Bonsmaras van Nico Pieterse, se 25ste produksieveiling is gekenmerk deur ’n prysvariasie wat dit vir alle kopers moontlik gemaak het om goeie bulle...

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse word weekliks aan u gebring deur Absa en die RPO. Neem kennis dat hierdie nie kleinhandelpryse is nie, maar wel plaashekpryse wat BTW uitsluit. Get...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 4 minutes Johan van den Berg is weer terug op sy pos met sy weeklikse weersake-gesprek met Lise Roberts op RSG Landbou. Soos ons nou winter betree, sit produsente in die...