EDE Farming 2023 Boeredag: Bulkrag, die sleutel tot sukses

Estimated reading time: 3 minutes

Op 30 Augustus vanjaar het EDE Frieslands, ’n vertakking van Ede Farming, hulle jaarlikse boeredag aangebied onder die tema ‘Bulkrag, die sleutel tot sukses’.

Michiel Heyns, ’n Jersey-boer vanuit die Ventersburg-omgewing, het met besoekers gesels oor die ideale koei wat in ’n melkstal moet staan. Die eienskappe wat vir Lonel Jerseys belangrik is, is goeie kapasiteit, ’n goed-aangehegte uier, en ’n koei wat elke jaar kalf en lank melk (ses of sewe laktasies).

’n Eerste by dié boeredag was ’n bespreking oor die EDE Frieslands-dogtergroepe. Die gesprek is gelei deur Heyns en Poena van Niekerk, EDE Frieslands se kuddebestuurder. Hulle het 21 vroulike diere bespreek en onder andere na die swak- en sterkpunte van elke koei gekyk, asook die vader- en moederlyne tesame met paar-aanbevelings wat EDE se aanbevelings met SA Stamboek s’n vergelyk het.

Gesels saam oor genetika

Genetika-maatskappye wat by die boeredag betrokke was, het elk ook ’n geleentheid gekry om saam met Heyns en Van Niekerk te gesels oor die aanbevelings en die genetiese afkomste van elk van die vroulike diere.

Die SA Stamboek-span, Suretha Francis, spesialis-adviseur, en Thalia Brameld, diereverbeteringsbeampte, het gesels oor die interpretasie en gebruik van SA Stamboek se paringsprogram.

Buiten hulle voorlegging, het die SA Stamboek-span vir Van Niekerk en sy span by EDE Frieslands ’n spesiale sertifikaat oorhandig. Ede Farming het onlangs met SA Stamboek se Elite Platinum-toekenning weggestap vir hulle Friesland-kudde. Kuddes wat die platinumtoekenning ontvang, word as die topsuiwelkuddes in Suid-Afrika geag en sal volgende jaar vir SA Stamboek se nasionale suiwelkudde van die jaar-toekenning in aanmerking kom. Om meer uit te vind oor hierdie jaar se topsuiwelkuddes, lees gerus die artikel ‘SA Stamboek vereer top suiwelkuddes in George’ op AgriOrbit.

Chris Cloete, eienaar van Genimex, het oor Europese genetika gesels en verduidelik hoe dit in Suid-Afrika gebruik kan word. Cloete se praatjie het die belangrikheid van aantekeninge by bulle en akkurate syfers by prestasiemeting uitgelig. Donneè Murray, kliëntebestuurder by ABS Genetics, het aangesluit by Cloete se voorlegging.

Mike Mouton, verkoopsbestuurder by DeLaval sentraal Suid-Afrika, is een van EDE Farming se insetverskaffers en het ’n gelukkige trekking by die boeredag gehou waarna agt gaste met DeLaval se Proactive-speendoop weggestap het. Die wenners was Toit van der Watt, Jan Smit, Heinz Beneke, Corlia Swanepoel, Harry van der Merwe, Mornay Kotze, Hannes Neethling en Pieter Cloete.

In ’n onderhoud met Plaas TV, het Van Niekerk gesê die boodskap van die dag is dat produsente na die akkuraatheid van bulle se syfers moet kyk in vergelyking met die populasie waaruit hulle kom en dan op grond daarvan moet selekteer.


SA Stamboek en Van Niekerk en sy span met hulle spesiale sertifikaat. Agter van links na regs is Asanda Mbongwe, Metron Mdaka, Loveness Mawelele, Eunice Mawelele, Suretha Francis, Ben Mthimunye, Thalia Brameld, Fanie Maepa, Poena van Niekerk, Nhlanhla Ngwenya. Voor is Simon Mangangane
SA Stamboek en Van Niekerk en sy span met hulle spesiale sertifikaat. Agter van links na regs is Asanda Mbongwe, Metron Mdaka, Loveness Mawelele, Eunice Mawelele, Suretha Francis, Ben Mthimunye, Thalia Brameld, Fanie Maepa, Poena van Niekerk, Nhlanhla Ngwenya. Voor is Simon Mangangane

Wat is volgende?

Die 2024 EDE Frieslands-boeredag sal op voeding fokus. Van Niekerk het gesê die doel van volgende jaar se boeredag gaan wees om voeding maklik verstaanbaar te maak. Onafhanklike sprekers sal vir hierdie doel aangewend word. – Deidré Louw, Plaas Media

Vir meer inligting oor die 2024-boeredag, kontak Poena van Niekerk by 082 893 2783 of poenavniek@gmail.com.


Kyk na die Plaas TV onderhoud hieronder: