EasyWean® NeusRinge®: 25 jaar al hand-aan-hand met die natuur

Estimated reading time: 7 minutes

Vyf-en-twintig jaar gelede het Dick en Judy Richardson van Whole Concepts ’n produk ontwikkel wat mettertyd duisende boere, miljoene kalwers en derduisende lammers regoor die wêreld sou bevoordeel.

Die EasyWean® NeusRing®-konsep het ontstaan uit ’n behoefte aan ’n meer omgewingsvriendelike en ‘sagter’ metode om kalwers te speen. “Ons het geen idee gehad dat die besigheid so goed sou groei nie,” sê Judy, wat aan die stuur van sake by Whole Concepts is.

Verminderde speenstres bevoordeel die kalf, die koei én die produsent. (Foto: Carla van der Vyver)

Die onderneming, wat as EasyWean® NoseRing® bekendstaan, is in 1997 in Suid-Afrika en Namibië op die been gebring en het mettertyd ook vastrapplek in Botswana, Zimbabwe en Zambië gekry. In 1999 het Judy die kans gewaag om haar besigheid na Australië uit te brei (waarna die naam na EasyWean® verander is). Die NeusRing® is sodoende ook in daardie deel van die wêreld beskikbaar gestel. Amerika en Kanada het daarna gevolg en die besigheid het tot so ‘n mate uitgebrei, dat selfs die Falkland-eilande vandag op die NeusRing®-kaart is!

Werk saam met die natuur

“Ons was op soek na ’n manier om speenstres te verlig, want dit veroorsaak gewigs- en kondisieverlies by beide kalwers en koeie. Om nie eens te praat van die stukkende heinings, en benoude koeie en kalwers nie,” sê Judy. Sy bedryf haar besigheid vanaf Vryburg in Noordwes, waar sy ook met beeste boer en speenkalwers in ’n ekstensiewe koei-kalfstelsel produseer.



Judy meen dat baie speenkalfprodusente nog glo dat die impak van speenstres nie húlle probleem is nie. “Hulle glo dikwels die koste van die stres, en dus die verlies in produksie, is vir die koper se rekening, nié die verkoper s’n nie,” sê sy. “Dit is natuurlik onwaar, aangesien speenstres nie net die gesondheid en groei van die kalf benadeel nie, maar ook die koei se melkproduksie en toekomstige dragtigheid affekteer, terwyl moedereienskappe en reproduksievermoë ook onderdruk word.”

“Dit beteken dat speenstres beslis ’n faktor vir die verkoper is. Boonop is die menslike behandeling van vee al hoe belangriker vir verbruikers. Die lae-stres hantering van vee het ’n impak op beide openbare mening en die produsent se winsgewendheid.”

Die vele voordele van EasyWean® NeusRinge®

Produsente wat hulle eie verse of afrondingspeenkalwers aanhou voordat hulle verkoop word, geniet aansienlike voordele. Tydens die eerste Suid-Afrikaanse proef in 1998 is 1 500 kalwers suksesvol gespeen. Die verse met NeusRinge® is in die kudde by die koeie gehou en het uiteindelik 30kg swaarder geweeg as verse wat op die konvensionele manier gespeen is.

Deur gewigsverlies as gevolg van speenstres te verhoed wanneer speenkalwers vooraf vir die voerkraal voorberei word, beteken dat kalwers sonder onderbreking aanhou groei, wat ’n deurslaggewende produksievoordeel vir speenkalfprodusente inhou.

Speenkalwers vir die voerkraal: Berei hulle só voor

“Speenkalwers kan tot 30kg tydens die skeidingsproses by konvensionele speen verloor. Dit kos produsente beide in voer en tyd, net om die speenkalwers weer tot by hul voorspeense kondisie te kry. Deur met ’n NeusRing® te speen, verloor die kalwers nie gewig nie en word koste bespaar.”

Bulkalwers wat minder spanning tydens speen ervaar, hou ook groot voordele vir voerkrale in. Rustige kalwers presteer oor die algemeen beter as hul gespanne eweknieë en het minder veeartsrekeninge. Hulle groei ook vinniger, waarvoor voerkrale geredelik ’n premie betaal.

Een voerkraal wat die verskil tussen speen met ’n NeusRing® teenoor tradisionele speen nagevors het, het getoon dat kalwers wat met NeusRinge® gespeen is 90kg swaarder was met slag en 60 tot 100 dae vroeër afgerond is, as kalwers wat op konvensionele maniere gespeen is.

Tradisionele speenpraktyke

Daar is verskeie praktyke om kalwers en koeie tydens speen van mekaar te skei, en voorkeurpraktyke word meestal bepaal deur die beskikbare fasiliteite en die tipe boerdery. Uiteindelik is dít wat die beste vir die beeste is, egter ook die beste vir die plaas.

Hierdie jaar vier EasyWean® NeusRinge® 25 jaar van spanningsvrye speen. (Foto: Judy Richardson)

Kalwers word tradisioneel van hul moeders geskei en ver genoeg verwyder om te verseker dat hulle nie hul ma’s se geloei kan hoor nie. Dit kan lei tot spanning en selfs beserings en skade, soos wat die koeie deur heinings breek op soek na hul verlore kalfies.

Om kalwers van hul moeders te skei beteken dat die kalwers gelyktydig gewoond moet raak aan die verlies van hul melkbron en weiding, en by ’n onbekende omgewing, sowel as nuwe voer en water moet aanpas. Dié skielike en aggressiewe verandering in die kalf se omgewing kan groot gewigsverlies tot gevolg hê.

Heiningspeen is ’n alternatief. Die koeie en hul kalwers kan steeds kommunikeer, maar ’n baie sterk heining is nodig om die koeie en kalwers apart te hou, aangesien kalfies baie vasbeslote kan wees om ’n pad na hul ma’s se uiers te vind.

Stresvrye speen met EasyWean® Neusringe®

Die mees stresvrye speenoplossing is om ’n toestel soos die EasyWean® NoseRing® te gebruik. Die proses vind geleidelik plaas en boots die natuurlike speenproses na. Dit is natuurlik goed vir almal wat by die proses betrokke is, van die kalf en koei, tot die produsent. Dit is ook toepaslik vir selektiewe speen soos vroeë speen tydens droogtetye of om groepe kalwers in fases volgens ouderdom te speen, asook om buiteseisoenkalwers te speen.

Tydsberekening is ’n baie belangrike aspek van speen, asook die tegniek wat gebruik word. Die wyse waarop die kalf gespeen word, het ’n beduidende impak op die koei se vermoë om te herstel. Om die kalf op die regte tyd van die koei te verwyder, gee haar die geleentheid om haar kondisie te herwin en vir die volgende reproduksiesiklus voor te berei.

Die EasyWean®-proses behels twee stappe. Eerstens beperk die neusring toegang tot melk, aangesien die kalf nie die uier kan bereik nie. Die plastiekstekels druk ook teen die uier, wat daartoe lei dat die koei die kalf wegstoot. Sodoende kry dit die kalf binne ’n paar dae van melk af, terwyl hy nog by sy ma is.

Dit word gevolg deur ’n rustige speentydperk van ’n paar weke, waartydens beide die koei en kalf kondisie en gewig behou en selfs aansit. Indien nodig, kan die koei en kalf ná speen geskei word. Die spanningsvlakke sal aansienlik laer wees indien skeiding plaasvind nadat laktasie gestaak het.

Indien kalwers vir logistieke of bestuursredes van hul moeders weggeneem moet word, sal die gebruik van die NeusRing® vir so min as ’n week of twee vóór skeiding, ’n wesenlike verskil maak aan die produksie en gedrag van die speenkalf ná skeiding.

Wat is ’n EasyWean® NeusRing®?

Die EasyWean® NeusRing® is ’n stekelrige, plastiese, verwyderbare en herbruikbare neusring wat in die kalf se neus pas wanneer hy gespeen moet word. Die ring word aan die septum vasgeklem en steek nie deur die neus nie. Geen spesiale toerusting is nodig om die ring aan te sit nie.

Hierdie trots Suid-Afrikaanse produk is gemaak van asetielplastiek, met ’n vlekvryestaal hegstuk.

Pas, verwyder, stoor en gebruik NeusRing® só:

  • Beveilig die dier met ’n nekklamp.
  • Plaas die een punt van die NeusRing® in die kalf se neusgat, met die stekels na bo en vorentoe.
  • Trek die NeusRing® oor die ander kant en druk die ander punt in die ander neusgat.
  • Draai die bout vas en maak dit dan effens los, sodat die NeusRing® op en af in die neus kan beweeg sonder om uit te val.
  • Om die NeusRing® te verwyder is nóg makliker. Plaas die dier weer in ’n nekklamp, maak die vleuelmoer los vir maksimum buigsaamheid en trek die ring af.

As NeusRingee® reg gestoor word, kan jy dit weer en weer gebruik. Was die ringe goed en smeer ’n bietjie ghries of Vaseline aan om die hegstukke teen roes te beskerm. Dit is ook belangrik om die boute los te maak totdat daar geen spanning op die NeusRing® is nie. As die bout te styf is, sal die plastiek mettertyd sy spanning verloor.

Waar kan ek EasyWean® NeusRinge® kry?

EasyWean® NeusRinge® is beskikbaar by jou naaste koöperasie of veeartsenykundige winkel. Jy kan dit ook direk vanaf Whole Concepts bestel.

Vir meer inligting kontak Whole Concepts by+27 (0)53 927 4999 of +27 (0)82 459 9451, stuur ʼn epos aan judy@nosering.co.za of besoek die webtuiste by www.nosering.co.za.

Popular stories