Bobbejane wat landerye en boorde stroop, asook kleinvee en wild aanval, word toenemend ’n probleem vir landbouers in die Karoo, Wes-, Suid- en Oos-Kaap.

“Bobbejane is al simbioties met die menslike omgewing – hulle is primate en uiteraard intelligente diere wat kan dink en afleidings maak,” sê dr Gerhard Verdoorn, onafhanklike raadgewer vir die Predasiebestuursforum (PMF). “Hulle het oor die jare geleer dat plase ’n bron van volop en smaaklike kos is, al is dit soms riskant vir hulle om daardie kos te benut.

“Normaalweg is die skade wat hulle aanrig nie noemenswaardig nie, maar weens die uitmergelende droogte in die Wes-Kaap, Suid-Kaap en Oos-Kaap dwing die skaarste aan natuurlike kos hulle om waaghalsig te raak en plase te besoek waar groente, vrugte, lusern en kleinvee is om hul knaende honger te stil.”

Verskeie instansies wat navorsing oor diere doen wat skade veroorsaak, kom tot die slotsom dat daar nie ’n maklike oplossing is nie. ’n Boer kan die bobbejane nie net los om sy oeste te vernietig nie, maar dit werk ook nie om hulle voor die voet uit te wis nie.

Bydraende faktore

“Die mens is verantwoordelik vir die probleem,” sê prof Justin O’Riain van die Departement Biologiese Wetenskappe aan die Universiteit van Kaapstad, wat onder meer by die Karoo Roofdierprojek in die Koup-gebied naby Laingsburg in die Sentraal-Karoo betrokke is. “Ons het die balans versteur deur bobbejane se natuurlike vyande soos leeus en luiperds in groot dele van die land uit te roei.”

Prof O’Riain meen bobbejane is nie van nature roofdiere nie, maar weens die droogte lok enige boerdery hulle, insluitend wingerde, vrugteboorde, groentelande, gesaaides en ook vee. In Mpumalanga en KwaZulu-Natal loop plantasies ook deur.

Omdat dit droog is, verskaf die boere voer vir hul vee, wat ook vir die bobbejane ’n bron van kos is. Soms is hulle egter nie net met die voer tevrede nie, maar vang ook in sommige gevalle die vee.

Gevaar vir vee

“Gevalle is bekend waar bobbejane volwasse skape oopskeur ter wille van die kos in hul pense en lammers vang ter wille van die melk in hul melkpense,” sê Joseph Steyn, wat in die omgewing van Prins Albert met vee boer.

“Dit is ontstellend om te sien hoe bobbejane die volwasse diere en lammers verniel. Soms ruk hulle die lewende dier se maag uit, en die dier ly totdat hy uiteindelik vrek of deur die boer van kant gemaak word.”

Prof O’Riain meen ’n boer het die reg om sy oes en vee te beskerm. Die vraag is egter hoe dit op ’n menslike manier gedoen kan word.

“Dit help nie om bobbejane voor die voet van kant te maak nie. Duisende rande word jaarliks daaraan bestee om honderde bobbejane van kant te maak, maar dit los nie die probleem op nie. As jy een trop uitskiet, beweeg ’n ander trop baie gou in die eerste trop se gebied in.”

Bobbejane se gedrag

Navorsing in die Koup-gebied het bevind dat nie al die bobbejane in ’n trop skape of lammers vang nie. Bobbejane het ’n streng rangorde, met ’n leier en minder dominante mannetjies. Solank as wat die mees dominante mannetjie die alfa-bobbejaan is, lei hy die trop, besluit waar hulle moet kos soek en paar met die wyfies.

Dit help dus nie om die alfa-mannetjie van kant te maak nie, want sy opvolger sit gereed om sy plek in te neem. Wanneer die alfa-mannetjie deur ’n jonger, sterker opvolger verdryf word, kan die ou een nie meer so maklik oorleef nie.

“Dit is hierdie alleenlopers wat skape en lammers vang,” sê prof O’Riain. “Jong mannetjies wat van die trop afwyk, moet ook self sien kom klaar.”

Elektriese heinings

Volgens prof O’Riain span wingerd- en vrugteboere geëlektrifiseerde heinings om hul wingerde. “Die hoë koste moet egter opgeweeg word teen die skade wat die bobbejane aan die oeste aanrig,” sê hy.

’n Heining is in sommige gevalle die enigste manier om bobbejane weg te hou. Die heining moet ten minste 2,5m hoog wees en bestaan uit Bonnox-draad, met ’n oorhang na die buitekant. Dit moet met sonkrag geëlektrifiseer wees en moet baie goed in stand gehou word. “Die bobbejane is vindingryk en sal ’n plan maak om by die heining verby te kom,” sê Gerhard.

“Dit is ook die moeite werd om die teenwoordigheid van mense met klein radio’tjies na te boots. Die kese gaan versigtiger wees as daar mensestemme in die boorde en wingerde is. Die beste teenvoeter is die fisieke teenwoordigheid van ’n mens, maar dit kos gewoonlik geld.”

Anatoliese herdershonde

Waar in verafgeleë, bergagtige gebiede met vee geboer word, word ’n mate van sukses behaal met Anatoliese herdershonde. “Bobbejane op hul eie is glad nie so dapper soos wanneer hulle die hele trop agter hulle het nie,” sê prof O’Riain. Gerhard meen ’n groot trop bobbejane sal selfs met so ’n hond afreken.

In sommige gevalle is al genade om ’n vanghok te stel. “Die vanghok moet ’n dak vir skaduwee hê en water moet verskaf word. Die vanghok moet ten minste een keer elke 24 uur besoek word,” sê prof O’Riain.

“Om te voorkom dat die dier in die hok ly, kan ’n veldkamera met ’n radiosender by die hok gestel word, wat die boer op sy selfoon in kennis stel wanneer ’n dier in die hok is. Die dier mag nie ly nie en wanneer hy gevang is, moet hy so gou moontlik op die menslikse manier moontlik van kant gemaak word.”

Professionele wildvangers

Volgens prof O’Riain word diere wat in die Verenigde State van Amerika skade veroorsaak, op goedgekeurde maniere deur professionele wildvangers beheer. “In Suid-Afrika moet die boer te midde van moeilike boerdery-omstandighede self ’n plan maak met diere wat hom van sy inkomste ontneem.”

Wanneer bobbejane by ’n piekniekplek lastig is, is dit gewoonlik die mens se eie skuld. “Dikwels moet ons onsself blameer omdat mense bobbejane ondanks talle waarskuwings en aanmanings kos en snoeperye gee,” sê Gerhard. “Die kese raak gewoond daaraan en as mense dit nie vir hulle vrywillig aanbied nie, raak die bobbejane astrant en ‘roof’ dan basies sulke kos.”

Gerhard sê elke provinsie het sy eie wetgewing vir die beheer van bobbejane. “In sommige provinsies mag ’n mens soveel bobbejane van kant maak as wat jy nodig ag, terwyl in ander provinsies beperkings is. Gif mag onder geen omstandighede gebruik word nie. Vind by jou provinsiale Departement van Omgewingsake uit watter regulasies geld.”

Vir meer inligting, kontak dr Gerhard Verdoorn by 082 446 8946 of nesher@tiscali.co.za, en prof Justin O’Riain by 083 419 4228 of justin.oriain@uct.ac.za

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY