Vars doringlose turksvykladodes (Opuntia ficus-indica) word in die knellende droogte aan beeste gevoer (28 Desember 2015, Oppermansgronde). (Foto: Phillip Barnes)

Turksvye het meer as 300 jaar gelede met seilskepe in die Kaap aangekom en stelselmatig dieper na die binneland versprei, waar dit wild begin groei het. Die turksvye met lang dorings het op plekke verdig en gaandeweg groot probleme vir boere veroorsaak.

In die vorige eeu is boere in droër streke aangemoedig om doringlose bloublad-turksvye, met hul redelike weerstand teen die skarlakenluis, te plant as voerbank vir vee in herhalende droogtes. Die meeste van hierdie boorde is nou erg verwaarloos en dien lankal nie meer die oorspronklike doel nie.

In 1913 is veredelde, doringlose turksvye vir vrugproduksie uit die sogenaamde Burbank-teelprogram in Kalifornië, VSA, na Grootfontein by Middelburg ingevoer. Die doringlose turksvye het ook oor die land versprei en die afgelope 20 jaar die basis gelê vir vrugproduksie in Suid-Afrika. Ten spyte van die lang geskiedenis en gebruik deur mense en diere, word turksvye steeds nie na waarde geskat nie. As gevolg van die verwaarloosde toestand van boorde word dit as ’n minderwaardige gewas gesien.

Benutting van turksvyblaaie

Turksvyblaaie (kladodes) word tradisioneel op verskeie maniere vir vee benut, naamlik vars, gedroog of as kuilvoer. Die hoë waterinhoud (sowat 900g/kg vars materiaal) en dus lae droëmateriaal (DM) skep groot uitdagings met hantering, vervoer en verwerking, veral tydens die jaarlikse snoei van boorde om vruggehalte te verbeter. Vars kladodes kan ook nie lank in hope geberg word nie voordat dit vrot word en as teelaarde vir siektes dien, wat boorde besmet.

Heel kladodes word meestal net so aan beeste en wild gevoer, maar vir skape en bokke word dit fyner gesny of gekerf. Groot hoeveelhede kladodes moet egter daagliks of weekliks gesny en na behoefte verwerk word. Vanweë die hoë waterinhoud word produsente aanbeveel om kladodes eers te sny of te kerf en gedeeltelik te droog voordat dit gevoer word.

Kladodes bevat sowat 100g DM/kg vars materiaal. Indien skape daagliks sowat 1,5kg DM moet inneem, word ses vars, gekerfde kladodes daagliks per skaap benodig – 1 000 skape benodig dus daagliks 6 000 vars, gekerfde kladodes. Die hoë waterinhoud beperk egter vrywillige inname en veroorsaak dat diere se mis baie nat is.

Gebalanseerde diëte

Kladodes is nie ’n gebalanseerde voerbron nie. Goeie vordering is by die Universiteit van die Vrystaat gemaak om doringlose turksvykladodes in repe te kerf, in die son te droog, grof te maal en vir skape in gebalanseerde diëte in te sluit teen peile van 300 tot 360g/kg op ’n lugdroë basis (soos gevoer). In die gebalanseerde diëte is grofgemaalde lusernhooi op ’n gewigsbasis met die songedroogde en grofgemaalde kladodes vervang.

Diëte word verder geformuleer met die insluiting van onder andere graan (mielies) en ’n proteïenbron. Die gedroogde kladodes en diëte kan nou regdeur die jaar gebruik en oor groot afstande vervoer word.

Turksvye is bekend vir groot DM-opbrengste/ha en plaaslik het jong doringlose turksvye meer as 8 ton DM/ha in die vorm van gesnoeide kladodes gelewer. Uiteraard sal die opbrengste van turksvye nie oral in Suid-Afrika dieselfde wees nie. Afhangende van die gebied en die behoefte vir vrug- of kladodeproduksie, of beide, kan spesifieke turksvysoorte nou reeds vir gebruik aanbeveel word.

Seisoenale vrugproduksie

Die vrugproduksie van turksvye is seisoenaal met opbrengste van sowat 20 tot 30 ton/ha en vrugte word in ’n relatief kort tydperk ryp. Tegnologie is ontwikkel om die surplus vars vrugte te verwerk as ’n bykomende voerbron vir diere.

Die vrugte word verpulp en op ’n gewigsbasis (1:5) met grofgemaalde lusernhooi, mieliereste of koringstrooi gemeng en in lugdigte houers (plastiek) geberg. Hierdie “kuilmoes” word gepreserveer deur ’n skerp verlaging in pH as gevolg van anaërobiese fermentasie van die maklik fermenteerbare suikers, soortgelyk aan kuilvoer.

Waterbronne is skaars en die groeiende behoefte vir menslike gebruik dien as stimulus vir die soeke na alternatiewe voerbronne vir diere, dus plante wat water doeltreffender gebruik. Turksvye maak baie doeltreffend van water gebruik en skakel stralingsenergie van die son om in verteerbare DM. Turksvye is baie goed aangepas in droër streke, en is daarom veral geskik as belangrike voedselbron vir mens en dier.

Beskikbare reënwater

Turksvye kan goed met beskikbare reënwater produseer, maar ’n klein bietjie ekstra water kan wel strategies vir jong plante na vestiging of in die vroeë lente gegee word om blomvorming en vrugproduksie in boorde te stimuleer.

Let streng op die volgende uitdagings in die bestuur van doringlose turksvye: Twee insekte, naamlik skarlakenluise en turksvymotte, moet streng beheer word. Beide insekte kan ’n gesonde boord binne ’n paar maande vernietig.

Die gevolge van ’n knellende droogte, oftewel groot voerskaarstes, heers nog in groot dele van die subkontinent. Dit behoort ’n aansporing te wees om doringlose turksvye as belangrike voerbron en integrale deel van die voervloeiprogram vir vee op natuurlike weiding (veld) te vestig. ’n Mens hoef nie te wag tot droogtes eers ontwikkel voordat doringlose turksvye op ’n baie groot skaal by veeproduksie ingeskakel word nie. -Prof HO de Waal

Prof HO de Waal is verbonde aan die Departement Vee-, Wild- en Weidingkunde aan die Universiteit van die Vrystaat. Vir meer inligting, skakel 051 401 2210/11 of 083 645 8958, of stuur ’n epos aan dewaalho@ufs.ac.za.

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY