Estimated reading time: 4 minutes
Die Dohne Merino-telersgenootskap van Suid-Afrika beoog om in September 2026 die ras se 60ste bestaansjaar met ’n wêreldkonferensie in Suid-Afrika te vier. Die konferensie gaan Dohne Merino-telers van regoor die wêreld bymekaarbring om hierdie spesiale geleentheid te herdenk. So het Philippie Marais, voorsitter van die genootskap, onlangs by ’n perskonferensie by Nampo Kaap in Bredasdorp gesê.
Daar word beplan om die wêreldkonferensie in die tweede week van September 2026 in Bredasdorp in die Suid-Kaap aan te bied as deel van die Nampo Kaap landbou-ekspo. Besoekers van Australië, Nieu-Seeland en Suid-Amerikaanse lande gaan die konferensie bywoon.
“Die konferensie gaan ’n geleentheid bied waar internasionale kenners in genetika en ekonomiese produksie van kleinvee die nuutste navorsing, innoverende teeltegnieke en volhoubare produksiepraktyke wat met die ras verband hou, kan deel,” het Marais gesê.
Dohne Merino in internasionale kollig
Kobus Delport, die bestuurder van die Dohne Merino-telersgenootskap van Suid-Afrika, het gesê die konferensie is ’n geleentheid om die Dohne Merino-ras en -telersgenootskap internasionaal te erken.
Die ras is amptelik op 16 Mei 1966 gevestig. Dit nadat die aanvanklike ontwikkeling van die Dohne Merino-ras as ’n klein staatsprojek begin is en deur sowat ses private kleinveeboere in die Oos-Kaap ondersteun is. “Hierdie pionier-telers het wetenskaplik te werk gegaan om die ras uit te brei tot ’n ras met internasionale status. Hierdie status is bereik toe dit vir ’n klein vensterperiode rondom die jaar 2000 moontlik was om Dohne Merino-embrio’s na Australië en die Falkland-eilande uit te voer,” het Delport gesê.
Delport het gesê die Suid-Afrikaanse wêreldkonferensie sal die derde Dohne Merino-wêreldkonferensie wees wat gehou word. Die eerste Dohne Merino-wêreldkonferensie is in Bendigo, Australië gehou en die tweede in Uruguay.
Program sal Dohne Merino-ras versterk
Marais het gesê dieregesondheidsregulasies verhoed tans dat Suid Afrika se Dohne Merino-telers doeltreffend in die internasionale arena kan meeding. “Hierdie aspek sal na verwagting groot aandag geniet in die aanloop tot die 2026-wêreldkonferensie.”
Die konferensie sal ’n vol program met hoofsprekers, paneelbesprekings, werkswinkels en netwerkgeleenthede, asook toere voor en na die konferensie, insluit. “Die konferensie sal ook ’n wetenskaplike komponent hê, waar die gemeenskaplike teeldoelwitte en teeltverbeteringsmetodes van die Dohne Merino-ras bespreek sal word,” het Marais gesê.
Die toere sal die deelnemers in staat stel om verskillende Dohne Merino-stoeterye in Suid-Afrika te besoek en inligting rondom hul teeltbeginsels en boerderymetodes te kry.
“Die doel van die program is om die Dohne Merino-bedryf internasionaal te bevorder. Die konferensie sal die deelnemers ’n magdom kennis, bewese beste praktyke, lewende debat en geleenthede vir samewerking wat impak maak bied. Die Dohne Merino is ’n trots Suid-Afrikaanse skaapras wat die vindingrykheid van ons boere en navorsers toon,” het Marais gesê. – Hugo Lochner, Plaas Media
Lees meer oor die onlangse SA Vleismerino Super Ramskou by Nampo Kaap.
BKB is die hoofborg van die konferensie en Plaas Media is die mediaborg.