VL stel distrik-vloedrampverklaringsproses in werking

117

Sowat 60% en dalk meer van gesaaides in die Wes-Vrystaat is in gedrang weens erge vloedskade. “Dringende ingryping gaan nodig wees om te help om vloedgeteisterde boere in die Lejweleputswa-distrik op hul grond te hou,” sê Jakkals le Roux, Vrystaat Landbou– (VL) verteenwoordiger vir die Nala Munisipale-area wat groot mielieproduserende streke van Wesselsbron en Bothaville dek.

Enorme vloedskade is ook aangemeld in die Tokologo-munisipaliteit tussen Hertzogville en Christiana, in Tswelopele tussen Bultfontein en Wesselsbron, en in die Masilonyana-munisipaliteit waar die walle van ’n mynuitskotdam, waarin die munisipaliteit rou riool vrylaat, gebars het. Dié water, wat moontlik gekonsentreerde arseen en swaar metale bevat, het massiewe stukke plaasgrond oorstroom.

Aangesien hierdie veelvuldige plaaslike munisipaliteite almal binne die Lejweleputswa-distrik gebied is, het VL ’n beroep op die distrikrampbestuursbeampte gedoen om personeel te mobiliseer om ’n assessering van die omvang van die skade te doen.

Die departementshoof van die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling het VL ingelig dat die saak aan die provinsiale regering se uitvoerende komitee voorgelê is, en VL sal 11 Januarie ’n vergadering met die lid van die uitvoerende raad van landbou en polisie, paaie en vervoer bywoon om vinnig agteruitgaande paaie-infrastruktuur en die vloedramp te bespreek.

Luister hier na ‘n onderhoud met Deon van Zyl van AECI Plant Health oor gewasse in somergewasgebiede wat ly onder versuipskade:

Benewens moontlike belastingverligting-ingrypings van ’n regering wat sonder kontant sit, doen VL ook ’n beroep op landboubesighede, banke en versekeringsmaatskappye om ook met maniere vorendag te kom om hul lojale kliënte op hul plase te help hou. Staatshulp alleen sal nie sommige boere help wat produksie-insetkapitaal asook ’n hele produksieseisoen verloor het nie.

Le Roux meld dat omvattende dekkingsversekering nie meer bestaan ​​nie en boere moet spesifiseer of hulle vir hael-, ryp-, sprinkane en/of chemiese skade verseker. Daar kan nie vir vloede en droogtes verseker word nie, slegs insetkosteversekering waar ’n produksielening aangegaan word om ’n gewas te plant.

Selfs al droog dit genoeg uit ná historiese rekord-hoë reënval in baie dele van die Vrystaat, is dit te laat om mielies, soja en selfs sonneblomme te herplant. Waar gewasse oorleef, ding dit mee met ’n sterk onkruidgroei met alle kunsmis wat weggeloog het, en dus duur blaarvoeding of top-bemesting vereis om ’n ordentlike oes te behaal. Baie boere wag steeds dat watervlakke daal sodat hulle in die lande kan kom om die omvang van skade te bepaal. – Persverklaring, ​​Vrystaat Landbou