“Dieregesondheid is vir my die spilpunt waarom EDE Farming draai, want ’n gesonde koei maak ’n gesonde kalf groot en ’n gesonde vers, wat op haar tyd gereed is om geïnsemineer te word, gaan volgens haar genetiese potensiaal produseer in haar eerste laktasie. Ek glo dieregesondheid op enige veeplaas gaan bepaal of jou boerdery ’n sukses is of nie.” Só gesels Poena van Niekerk, bestuurder van die EDE Holstein-kudde naby Middelburg in Mpumalanga.

Hy en sy veearts het ’n vasgestelde program opgestel en hy volg dit stiptelik. Daar is weekliks inentings en in die somermaande word alle droë beeste een keer per maand gedip en teen uitwendige parasiete behandel, terwyl in die winter teen longprobleme gewaak word.

“In ’n melkery waar die diere gedurig in mekaar se teenwoordigheid is, is die kanse op siektes en die verspreiding van siektes soveel groter. Daarom moet ’n mens voortdurend op jou tone wees om jou diere gesond te hou.”

Keer vroegtydig

Hy vertel dat Danie Smit, ’n verteenwoordiger van Bayer Dieregesondheid, hom bekendgestel het aan Bayer se Byboost Rota Paste. “Ek was aanvanklik skepties omdat ek al soveel ander soortgelyke produkte gebruik het, maar na ’n paar maande het dié produk homself bewys. Dit is nou een van die belangrikste middels op my lys.”

Die Rota Paste word binne twaalf uur na geboorte vir die kalf gegee om gesonde mikrobes in die spysverteringskanaal te vestig om sodoende die dier te help beskerm teen bakteriese infeksies soos E. coli en Salmonella, en Rota- en Corona-virusse.

“Dit werk ook uitstekend vir kleinvee en selfs vir huisdiere soos honde.”

Poena glo daaraan dat ’n jong kalf se dermkanaal ontwikkel moet word sodat hy diarree kan teenwerk. “Ek het al geleer dat diarree een van die siektes is wat vir ’n kalf ’n agterstand kan gee. Cryptosporidium kom dikwels in ‘n gemengde infeksie saam met bakterieë soos E. coli en Salmonella voor, waartydens vrektes nie ongewoon is nie. Daarom is dit beter om voortydig op te tree as om te probeer vure doodslaan as dit te laat is.”

Inwendige parasiete

Poena gebruik ook verskeie ander produkte suksesvol in sy melkkudde. Aangesien hy baie versigtig is vir inwendige parasiete wat in sy omgewing voorkom, gebruik hy Levisan. Dit werk uitstekend teen inwendige parasiete soos rondewurm en lewerslak by beeste, skape en bokke.

Baycox is nog ‘n produk wat Poena met groot vrug gebruik. Hy vertel dat hy sowat twee jaar gelede die bestuur van die melkery oorgeneem het, en in daardie stadium was die voorkoms van koksidiose baie hoog op dié plaas. “Daar is reeds vir sowat 60 jaar op die plaas gemelk en ’n mens kan verstaan dat dit ’n groot probleem geword het. In ’n melkerystelsel is dit een van die besmettings wat jy van jou diere moet weghou.

Dit vernietig die inwendige slymvlies van die spysverteringskanaal en veroorsaak ook diarree, koors, verswakte eetlus, gewigsverlies en selfs vrektes.”

Voorkomende behandeling

Poena het begin om sy kalwers met Baycox te doseer en vandag is koksidiose nie meer ’n probleem nie. Dit pas by sy stelsel en daarom gaan hy voort met dié voorkomende behandeling. Hy vertel dat hy graag van Bayer se produkte gebruik maak. “Danie Smit, die Bayer-agent in ons omgewing, is ’n kenner op die gebied van dieremedisyne. Wat vir my lekker is, is dat die produkte maklik bekombaar is. Alles waarna ’n mens soek, is by die koöperasie beskikbaar en as dit nie daar is nie, sal Danie sorg dat jy dit kry.”

Vir meer inligting, skakel Poena van Niekerk by 082 893 2783. Skakel alternatiewelik Bayer Dieregesondheid by 011 921 5736 of besoek die webtuiste www.bayeranimalhealth.co.za. – Koos du Pisanie, Veeplaas

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY