Volksrust Grasvelderbulklub
’n Tipiese Grasvelderveldbul net nadat hy by die koeie uitgekom het.

Die Volksrust Grasvelderbulklub is in 1993 deur dr Hannes Dreyer, George Lubbe, Frans Kruger en Frans Duminy begin. Hulle het toe reeds gesien wat is die waarde van ’n veldaangepaste bul, wat veld in vleis omsit.

Die veldtoets is deur die jare op verskeie plase uitgevoer onder leiding van dr Hannes Dreyer, direkteur van Veldbulram Suid-Afrika (VBRSA). Die klub se eerste veiling is in Junie 2010 gehou. Die veiling word nou jaarliks op Volksrust gehou, waartydens driejarige veldaangepaste bulle aangebied word.

Vanjaar is die klub se 23ste veldbultoets. Die toets word die afgelope agt jaar op die plaas Maaltydspoortjie van Frans Duminy, buite Volksrust, gedoen. Frans is van die begin af deel van die klub, en het die nodige kennis en ondervinding om die bulle te bestuur. Die inname-getalle wissel van jaar tot jaar en hierdie jaar is 120 bulle van 15 telers ingeneem. Hierdie bulle is afkomstig van ongeveer 15 000 teelkoeie.

Hoe dit werk

Vanjaar se inname het op 1 September 2016 begin. Bulle word deur telers ingebring, waarna hulle gemerk word en die nodige inentings ontvang. Die bulle is die eerste keer op 20 September 2016 geweeg, hul gewig is aangeteken en hulle het ’n punt ontvang het vir temperament, kondisie, hare en bespiering.

Die bulle is weer op 11 November 2016 geweeg en die groep se gemiddelde daaglikse toename was meer as 500g per dag. Die bulle word verder sowat elke ses weke geweeg, waartydens die gewig weer geneem en weer punte gegee word.

Ekonomiese indeks

As die toets einde Februarie 2017 eindig, word al die data deur dr Hannes Dreyer verwerk om uiteindelik vir elke bul ’n ekonomiese indeks uit te werk. Die bulle word ook aan die einde van die toets deur onafhanklike keurders gekeur en gepunt op ’n ABC-skaal, waar die A-bulle die beste bulle, die B-bulle die gemiddelde bulle en die C-bulle die prulle is.

Alle C-bulle, asook al die bulle wat ’n ekonomiese indeks van minder as 90 het, word aan die einde van die toets geslag. Die A- en B-gekeurde bulle keer dan terug na die onderskeie telers se plase.

Die telers gebruik dan self die bulle in hul kuddes vir die volgende dekseisoen. Wanneer die bulle sowat twee en ’n half tot drie jaar oud is, word hulle weer op die plase gekeur vir die jaarlikse veiling. Teen hierdie tyd het die telers al die voordeel gehad om die bulle te gebruik en die volgende stel jong bulle kom al deur die toets.

Die veilingsbulle word sowat 120 dae voor die veiling ingeneem en word almal saam vir die veiling voorberei. Dit geskied op die veld, met ’n gebalanseerde bulrantsoen met lae energievlakke om te voorkom dat die rumen gebrand word. Die doel is om harde, veldaangepaste bulle aan kliënte te verkoop waarvan die rumen nie beskadig is in die afrondingsproses nie, sodat die bulle hul kondisie kan handhaaf.

Doel van die klub

Die klub se hoofdoel is om veldaangepaste bulle te teel wat die boer kan gebruik om sy kudde te verbeter. Die klub wil bulle teel waarvan die verse uiteindelik die koeikuddes se kondisie verbeter om koeie te teel wat gras in melk en vleis omsit. Bulverkope en veilings is ’n bonus van die stelsel, en stel telers in staat om teelmateriaal onder mekaar uit te ruil.

Onthou altyd dat die bees ’n herkouer is en in staat is om onbenutbare produkte vir die mens (veld) om te sit in benutbare produkte soos melk en vleis. –Gavin Aveling, sekretaris van die Volksrust Grasvelderbulklub

Vir meer inligting, skakel dr Hannes Dreyer, direkteur van VBRSA, by 082 823 1045, Tippie Swanepoel, voorsitter, by 076 611 2139, Frans Duminy, bestuurder, by 082 336 5497 en Gavin Aveling, sekretaris, by 082 824 6459.

Veldbultoetsing vir veldaangepastheid

Meet wat nie gesien kan word nie

Oos-Vrystaat Veldbulklub vier 30 jaar

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY