Die voer van kleinwild (wildsbokke)

0
819

Kleinbokkieboerdery het die bedryf die afgelope tyd behoorlik verower. Baie plase het die afgelope tien jaar van beesboerdery na wildboerdery oorgeskakel, wat beteken dat Suid-Afrikaanse wildboere klein kampies vir hierdie diere gebou en met hulle begin boer het.

Maar wat is “kleinwild”? Is dit die piepklein spesies wat tussen 0kg en 25kg weeg, of kan dit diere so groot soos die rooibok en blesbok wees? Oor die algemeen is kleinwild, wanneer hulle met vee vergelyk word, laasgenoemde. Hierdie artikel fokus egter op die baie klein spesies, wat bestaan uit die duiker-familie, grysbok-familie, vaalribbok, klipspringer, soenie, oribi, dik-dik en steenbok.

Die voeding van kleinwild in aanhouding moet reg aangepak word om te verseker dat elke spesie ’n optimale habitat het.

Om hierdie diertjies behoorlik te voer, is dit noodsaaklik om te weet watter voedingsbron elke spesie in hul natuurlike omgewing sal kies, en hoe die voedsel afgebreek en verteer word. Wanneer ’n mens die diere se natuurlike voedsel en metode van afbreking en vertering ken en verstaan, is dit moontlik om voere te formuleer wat vir elke spesie geskik is.

 

 

Drie groepe vreters

RR Hoffman het in ’n beskrywing van die maag-anatomie en -funksies van wilde Afrika-herkouers, dié diere in drie breë groepe verdeel: die grootmaat- en ruvoervreters (grasvreters), intermediêre vreters en dié wat konsentrate verkies (blaarvreters).

Met die uitsondering van die oribi, wat ’n hoogs selektiewe grasvreter is, is die res van die klein wildsbokkies almal blaarvreters of intermediêre vreters. Intermediêre vreters soos die grysduiker en rooibok kan gras of blare vreet, en sal op albei produktief wees. Blaarvreters soos die blouduiker en njala verkies sappige blare, vrugte en ander laeveselvoer wat hoog is in maklik verteerbare voedingstowwe van ’n hoë gehalte.

Wat blaarvreters en sommige van die kleiner intermediêre vreters van grasvreters onderskei, is hul vermoë om voer in te neem wat hoog in selinhoud (opgeloste stowwe) en laag in vesel is, en dit dan direk in die omasum te plaas, op dieselfde manier waarvolgens melk deur ’n babadiertjie ingeneem word. Met ander woorde, die voedingstofryke voedsel gaan verby die retikulorumen vir beter vertering en absorpsie in die maag en dunderm.

Dit is belangrik omdat die gekose bekvol lae-vesel voedsel nie nodig het om in beskikbare energie gefermenteer te word nie, want dit is reeds hoog in energie en ander voedingstowwe, wat verlore sou wees indien dit die retikulorumen moes binnegaan en deur die rumen-mikrobes as ’n voedingsbron gebruik sou word.

Tabel 1: Habitat, water, voerspektrum en gemiddelde volwasse gewigte van die klein boksoorte.

Herbivore Habitatvereiste Water-afhanklik Belangrikste voedingspektrum Gemiddelde gewigte teen volwassenheid in kilogram
Manlik Vroulik
Blouduiker Woude, digte ruigtes, ruigtes langs die kus of oop kolle, asook diep skaduwee. Nee Hoogs selektiewe blaarvreter, vrugte en kruidagtige blomplante. 4,5 5,4
Kaapse grysbok Digte struikagtige grasvlaktes en sappige bergagtige struikveld, fynbos. Nee Hoogs selektiewe blaarvreter, vrugte en kruidagtige blomplante. 10 10,5
Damara dik-dik Digte ruigtes en struik-onderbos. Nee Hoogs selektiewe blaarvreter, vrugte en kruidagtige blomplante. 4,5 5,1
Grysduiker Ruigtes, grasvlaktes en woude met bome, skaduwee en bedekking. Nee Gemengde vreter en hoogs selektiewe blaarvreter, vrugte en kruidagtige blomplante. 17 21
Vaalribbok Klipperige heuwels, hoë berghange en plato met goeie struik- en grasbedekking. Nee Gemengde vreter en hoogs selektiewe blaarvreter, vrugte en kruidagtige blomplante. 20 18
Klipspringer Rotsagtige kolle: Kranse, berge en klipperige heuwels, droë tot nat grasvlaktes. Nee Hoogs selektiewe blaarvreter, vrugte en kruidagtige blomplante. 10,6 13,2
Oribi Oop gebiede met hellings < 10°: Vloedvlakte, vleilande met kort grasveld en verspreide kolle lang grasveld, Hoëveld-grasveld. Nee Hoogs selektiewe grasvreter en kortgrasvreter. 14 14,2
Rooiduiker Sandwoude, digte bosse, ruigtes langs rivieroewers. Nee Hoogs selektiewe blaarvreter, vrugte en kruidagtige blomplante. 12 14
Tropiese grysbok Gebiede met struike, medium-lang gras en ruigtes langs rivieroewers in grasvlaktes. Ja Hoogs selektiewe blaarvreter, vrugte en kruidagtige blomplante. 7,3 7,7
Steenbok Oop grasvlaktes en grasvlaktes met verspreide lang graspolle en lae struike. Nee Hoogs selektiewe blaarvreter, vrugte en kruidagtige blomplante, asook kortgrasvreters. 11 11,3
Soenie Droë grasvlaktes met digte struike, bossies en struikagtige onderbos, digte bosse langs waterlope, immergroen gebiede en sandwoude. Nee Hoogs selektiewe blaarvreter, vrugte en kruidagtige blomplante. 5,1 5,5

Bothma en Du Toit, 2016. Data afkomstig van tabelle 18.1, 18.2 en 18.3 in die boek Game ranch management, 6th edition.

 Praktiese riglyne vir voeding

Die beste voeding vir enige klein bokkie is die blare of gras wat hulle natuurlik sou kies.

Die grootste uitdaging vir die meeste produsente wat met hierdie klein bokkies teel, is om hulle korrek te voer. Die meeste telers het meer as een van hierdie spesies in klein kampies. Om die produsent te help, wys Tabel 1 in watter habitat en voedingspektrum hierdie diere natuurlik val. ’n Mens kan sien dat sommige van die diere blaarvreters is en dat sommige meestal vrugte vreet, terwyl sommige ook spesialis-grasvreters is en ander ’n kombinasie van gras, blare en vrugte vreet.

Die beste voeding vir enige klein bokkie is die blare of gras wat hulle natuurlik sou kies, so probeer om dit bymekaar te maak en na die kampe te bring. Indien dit nie beskikbaar is nie, kan vars vrugte, groente en lusern verskaf word. Geskikte korrels wat hoog in proteïene en laag in stysel is, en met vitamien E-vlakke hoër as 200 internasionale eenhede, kan in klein hoeveelhede gegee word. Wanneer diere aan enige nuwe voer bekendgestel word, doen dit geleidelik sodat hul spysverteringstelsels kans kry om daarby aan te pas.

Hierdie diere verbruik ’n wye verskeidenheid kruidagtige blomplante, struike en boomspesies in natuurlike plantegroei. Dit is dus baie belangrik om ’n optimale habitat volgens ’n spesifieke bokspesie te kies, waar die grootste gedeelte van die voeding uit hul verkose blaarspesie bestaan.

Tabel 2: Voorbeelde van struik- en boomspesies wat deur klein bokspesies benut word.

Spesies Algemene naam Plantdele wat benut word
Akasia-spesies Soetdoring, sambreeldoring ens. Blare, blomme en peule.
Carissa bispinosa Woud num-num Blare, blomme en peule.
Grewia-spesies Rosyntjiebos Blare, blomme en peule.
Ehretia rigida Legkaartbos Blare, blomme en peule.
Euclea crispa Ghwarrie Blomme en peule.
Peltophorum africanum Huilende wattel Blare, blomme en peule.
Rhus-spesies Karee Blare, blomme en peule.
Ziziphus mucronata Buffelsdoring Blare, blomme en peule.

Vrugtevretende spesies

Wanneer vrugtevretende spesies soos die blou- en rooiduiker gevoer word, moet ’n verskeidenheid geskikte vrugte en groente by hul dieet gevoeg word. Appels, wortels en pampoen is goeie keuses. Vermy egter tropiese vrugte, want dit bevat hoë konsentrasies suiker en stysel, wat asidose kan veroorsaak.

Wanneer ’n dieet vir hierdie diere geformuleer word, is die maklikste benadering om ’n gekonsentreerde voer te formuleer en as aanvulling te gee wat ’n derde van die dier se droëmateriaalinname verskaf. Hierdie aanvulling moet geskik wees vir al bogenoemde spesies. Die res van die voedsel, dus die twee-derdes wat oorbly, moet verskaf word in die vorm van natuurlike voer wat hulle in hul natuurlike omgewing sou selekteer of ’n geskikte alternatief.

Watervoorsiening

Al die spesies, behalwe die oribi, is nie in hul natuurlike wildernis-omgewing van water afhanklik nie, want hulle kry genoeg vog vanuit die voedsel wat hulle selekteer. Wanneer hierdie diere egter in aanhouding is, moet hulle daagliks van skoon en vars water voorsien word, aangesien die voer wat hulle gegee word nie genoeg vog bevat nie.

Maak die water- en voerbakke gereeld skoon om die opbou van parasiete en moontlik mikotoksiene (muf) te voorkom. Maak seker dat die waterbakke/krippe diep genoeg is, en plaas dit in die skaduwee om te voorkom dat water warm word. -Craig Shepstone, Wildlife Nutrition Services

Vir meer inligting, kontak Craig Shepstone by 083 305 1380 of craig.shepstone@gmail.com, en Arnaud le Roux, voorsitter van Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA) se advieskomitee vir kleinwild, by 082 325 6578 of arnaudleroux109@gmail.com.

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY