Estimated reading time: 5 minutes

Williston is skaapvleiswêreld. Dit is dus gepas dat die 2022 Williston-skou afgeskop het met gesprekke rondom skaapvleis. John Durr, voorsitter van die Rooivleis Produsente Organisasie in die Wes-Kaap, het die boere ingelig oor hoe die skaapvleismark in die verlede gelyk het.

Hy het begin deur te vertel dat hy onlangs gelees het dat lamsvleispryse in 1971 met 35% tot 85c/kg gestyg het. Drie weke gelede is ’n video gewys dat daar in 1962 die meeste skape in Rusland was, met Australië die tweede meeste. Vandag is China eerste met 172 miljoen skape. Suid-Afrika (SA) se getalle was die hoogste in die sestigerjare met 38 miljoen, en vandag staan SA se syfer op 21 miljoen skape. Slagtings het ʼn hoogtepunt bereik in die laaste jare van die 1990’s. Volgens syfers slag SA nou sowat 5 miljoen tot 6 miljoen per jaar.

Die bevolking hierteenoor staan tans op 60 miljoen. Die verbruik van skaapvleis was op sy beste in die vroeë 1980’s. In 1994 was dit op ’n laagtepunt, maar dit het nou gestabiliseer. Vandag is daar 12 miljoen slagbare diere per jaar. Statistieke is tans egter nie betroubaar nie aangesien die eertydse vleisraad nie meer bestaan nie en daar geen betroubare bron van statistieke is nie.

Kliek vir meer oor hoe intensiewe skaapboerdery werk.

Wat het gebeur met vleispryse?

Van 1971 tot 1992 het vleispryse tussen 85c na R13/kg gewissel en dit het daarna met rasse skrede gestyg. Wat was die rede vir die lae pryse? Dit was in die tyd van beheerde bemarking. Die meeste het aan sentrale koöperasies behoort. Destyds is alle slagbare diere na groot abattoirs soos Maitland en City Deep gestuur. Vandag word skape by kleiner abattoirs geslag wat in die produksiegebiede gesentreer is.

Karkasse is op veilingstelsels aangebied. ’n Hollandse klokstelsel is gebruik en jy het bemark op ’n kwotastelsel. Ná die kwotastelsel het die permitstelsel gekom. Dit het baie ongerymdhede rondom die permitte veroorsaak. Beheerrade is rondom 1995/96 afgeskaf en toe het die vryemarkstelsel begin. Kleiner abattoirs het opgespring en sommiges het weer groot geraak. Dit het verlaagde kostes byvoorbeeld van vervoer meegebring met abattoirs wat in sommige gevalle die skaap sommer op die plaas kom haal het.

Werkverskaffing en waardetoevoeging op die platteland het gekom. Welvaart het aanvanklik ná 1994 gestyg. Dit was nog die nalatenskap van die vorige bestel. Mettertyd het misdaad, korrupsie en lae ekonomiese groei, maatskaplike toelae, werkloosheid en al hierdie faktore gemaak dat die verbruiker nie meer die welvaart het om skaapvleis te koop nie. Gevolglik het die verbruik daarvan begin sak. Pryse het gestyg.

Droogtes, veediefstal, roofdiere en dergelike faktore het skaapgetalle laat krimp. Die leefstyl van mense het in die laaste 20 jaar verander en gevolglik is vleis nie meer hoog op gesinne se prioriteitslys nie. Die hoë-inkomste groepe fokus nou op gesondheid en verbruik minder vleis. Die mark per kapita het dus verander omdat mense nou minder skaapvleis per week eet.

Wat is die groot bedreigings vir die skaapvleismark?

Dieresiektes is ’n groot probleem. Georganiseerde landbou is die reddingsboei in hierdie rompslomp van die staat. Dieregesondheidsprodukte kan nie uitgaan as die staat nie die stempel daarop plaas nie en daarom word boere aangemoedig om betrokke te bly by georganiseerde landbou. Die skaapvleisprodusent glo dus, soos met die droogte, dat die bedryf nie gekniehalter sal word deur siektes nie.

Probleemdiere vat in sommige gebiede tot 40% van die diere weg. Veediefstal is een van die grootste bedreigings vir die skaapvleisbedryf. Volgens syfers van die Nasionale Veediefstalkomitee word daar daagliks 249 skape en 115 bokke, asook 178 beeste, gesteel. Die grootste probleem in hierdie verband is dat veeboere nou moed opgee.

Daar is nou ’n neiging om skadunette te gebruik om skape in ’n hoek vas te keer. Dit word stadig gedoen sodat alarms nie meer afgaan nie. Met lang, skerp voorwerpe word daar in die trop gesteek. Sodra hul genoeg het, laat hul dié wat oorleef het, vrygaan. Dan sny hul die kop af en haal die binnegoed uit. Die tatoeëermerke kan dus nie gesien word wanneer hul aangekeer word nie.

Al hierdie dinge veroorsaak dat boere ophou om met skape te boer. In 2008 het die Universiteit van die Vrystaat bereken dat indien daar 100 000 ooie uit die Swartland weggeneem sou word dit in vandag se terme sou lei tot ’n bedrag van ongeveer R800 000 miljoen wat uit die waardeketting van die skaapvleisbedryf gehaal word.

Die 2022 Williston-skou het afgeskop met besprekings rondom skaapvleis deur John Durr, voorsitter van die Wes-Kaap Lewendehawe Agentskap. Van links is John Durr en Coetzee Reits, bestuurder van Williston Vleiskoöperasie en lid van die skoukomitee wat hom verwelkom het.

Dit beteken die einde van ’n abattoir, ’n vellestoor, en ’n wolverwerkingseenheid met gevolglike werksgeleenthede wat verlore kan gaan op die platteland. Die gevolg is dat boere hul nou tot meer intensiewe boerderystelsels moet wend om te kan oorleef. Hul produseer nou meer vleis met minder ooie om volhoubaar te boer.

Advies vir huidige seisoen

Na aanleiding van die goeie reën het Durr boere aangeraai om te oorweeg om veld te verhuur. Die veld is nou ideaal vir huurders. As jy veld wil verhuur, sorg egter dat jy ’n geregistreerde brandmerk-sertifikaat van jou huurder het in geval van diefstal.

Alhoewel so ʼn ooreenkoms vir beide partye voordelig kan wees, het Durr ook gewaarsku dat die huurder en verhuurder ook stry kan kry en dan kom dit dalk in die hof uit dat die skape op die verhuurde veld nie die wettige eiendom van die huurder is nie. “As jy dus weiding wil verhuur, maak seker dat alle papierwerk in orde is soos wat die wet vereis” het Durr gewaarsku. – Bets du Pisanie, AgriOrbit