Wisselvalligheid kan ten beste bestuur word deur veld in ’n goeie toestand te hou en dit doeltreffend en volhoubaar in verkoopbare veeprodukte om te skakel. Hoe beter die produsent die weidingsekosisteem verstaan, hoe makliker is dit om die veld oordeelkundig, volhoubaar en winsgewend te bestuur en benut.

1. Veeverhoudings en produksiestelsels word nie by die veld aangepas nie

Elke plaas het sy eie unieke samestelling van veldtipes – grasveld, bossieveld, struikveld, bosveld en mengsels daarvan, asook veldsoorte of topografiese eenhede – leegtes, rivierlope, bulte, rante, berge en so meer.

Elke veesoort het ’n voorkeur vir en aangepastheid by ’n spesifieke veldtipe. Beeste is byvoorbeeld goed by grasveld aangepas, en skape en bokke by struikveld. As ’n plaas dus oor ’n spesifieke veldtipe beskik, maar daar word nie met die mees geskikte veesoorte geboer nie, sal die plaas se veldhulpbronne nie optimaal benut word nie.

Skape is goed by struikveld aangepas en sal die struike tot op ’n hoogte van 50cm kan benut. Alles hoër as dit val buite hul maksimum weihoogte. Bokke se maksimum weihoogte daarenteen is 150cm. As daar slegs met skape en geen bokke op struikveld geboer word, sal al die voer bokant 50cm nie benut word nie en sal die plaas nie teen sy optimale drakrag belaai word nie.

Die plaas sal genoeg voer tot ’n hoogte van 50cm produseer om met byvoorbeeld 1 000 skape te kan boer. As bokke bygesit word, kan daar byvoorbeeld met ’n addisionele 500 bokke geboer word, omdat hulle die voer tussen 50 en 150cm hoog kan vreet. As die veld op die plaas dus geskik is vir 75% skape en 25% bokke, sal die ideale verhouding 75% skape tot 25% bokke wees. Daar kan effens hiervan afgewyk word as die ekonomie dit dikteer, byvoorbeeld 65% skape en 35% bokke.

Die veldsoorte wat op ’n plaas voorkom bepaal die optimale produksiestelsels wat toegepas kan word. Gestel ’n plaas bestaan uit 50% bergveld, 25% rante en bulte, en 25% leegteveld, dan sal dit moeilik wees om optimaal met ’n speenlamstelsel op so ’n plaas te boer. Daar sal eenvoudig net te min geskikte veld wees waarop ooie kan lam.

As ’n plaas byvoorbeeld uit minder as 50% veld waarop dit geskik is om op te lam of te kalf, bestaan, sal dit nie wys wees om net met ooie of net met koeie daarop te boer nie. Daar sal noodwendig ’n hamel-/tollie-/oskomponent ingeskakel moet word.

2. Produksiestelsels uit pas met die veld se voer- en voedingspatroon

Dit is belangrik om die vee waarmee geboer word se voerbehoeftepatroon met die plaas se voerverskaffingspatroon te sinkroniseer. As die veld se optimale voerproduksie en voergehalte byvoorbeeld in die somer- en herfsmaande voorkom, sal dit wys wees om ’n herfslamseisoen te gebruik.

As die produksiestelsels nie met die natuurlike voervoorsieningsritme van die plaas gesinkroniseer word nie, is dit moeilik en duur om aan die vee se voedingsbehoeftes met die beskikbare voervoorsiening op die plaas te voldoen.

3. ’n Mengsel van smaaklike en onsmaaklike veld in dieselfde kamp

Vee het die vermoë om selektief te vreet. Hulle sal altyd eerste die smaaklikste voer vreet en daarop konsentreer vir solank dit beskikbaar is. As daar dus beide smaaklike en minder smaaklike veld in een kamp voorkom, sal die diere die minder smaaklike veld ignoreer.

Dit skep twee probleme. Die smaaklike veld sal mettertyd agteruitgaan en verswak, terwyl die produksie van die minder smaaklike veld vermors word. Die relatiewe verskil in smaaklikheid tussen die twee stukke veld sal oor tyd vergroot, want die minder smaaklike veld sal oorgroei raak, wat dit nog minder aantreklik vir die vee sal maak. Indien die minder smaaklike veld egter afgekamp word, sal die vee geen probleem hê om dit ook te vreet nie.

Die beginsel is om veldsoorte wat drasties verskil in hul smaaklikheid, te skei. Indien dit om praktiese redes nodig is om veldsoorte met wisselende smaaklikheid in een kamp te hê, behoort die smaaklike veld so ’n groot deel as moontlik van die kamp uit te maak en nie andersom nie.

4. Veegetalle pas nie by die veld se seisoenale produksie aan nie

Geen twee jare het dieselfde hoeveelheid en verspreiding van reënval nie. Daar is twee denkskole om veegetalle by hierdie natuurlike variasie in voerproduksie en drakrag aan te pas. Die meer konserwatiewe denkrigting is om effens minder vee aan te hou as wat die langtermyn gemiddelde reënval dikteer – gewoonlik sowat 70 tot 80% daarvan.

“Dit is belangrik om die vee waarmee geboer word se voerbehoeftepatroon met die plaas se voerverskaffingspatroon te sinkroniseer.”

Die alternatief is om die veegetalle jaarliks of meer gereeld by die spesifieke jaar se reënval en voerproduksie aan te pas. Beide opsies het voor- en nadele. Die tweede opsie is waarskynlik meer winsgewend, maar nie geskik vir boerderye wat nie vinnige skuiwe met veegetalle kan maak nie. Dan sal die meer konserwatiewe benadering beter wees.

Die slegste opsie is om glad nie seisoenale variasie in veldproduksie in ag te neem nie. Dit lei gewoonlik daartoe dat die produsent salig onbewus bly van ’n ontwikkelende droogte.

5. Verkeerde brandbestuurspraktyke

Daar is ’n Engelse gesegde wat lui dat “veld burning is a great servant, but a bad master.” Daar is veldtipes in Suid-Afrika wat van tyd tot tyd gebrand moet word om dit vir veeproduksie in stand te hou. Dit is hoofsaaklik ons land se klam Hoëveldse grasvelde.

Die volgende belangrike beginsels geld wanneer veld gebrand word:

  • Die brandfrekwensie moet by die veldtipe aanpas. Sommige veld moet elke twee tot vyf jaar gebrand word, terwyl ander elke tien tot 15 jaar gebrand moet word. Vermy jaarlikse brande of brande wanneer dit nie nodig is nie.
  • Beweiding en die afsny van die veld is nie ’n voldoende alternatief vir velde wat gebrand behoort te word nie.
  • Die kamp/e wat gebrand gaan word, móét eers vir ’n volle groeiseisoen rus om genoeg brandbare materiaal en wortelreserwes op te bou voor dit gebrand word.
  • Die veld moet gebrand word voordat dit aktief begin groei. Enkele uitsonderings bestaan maar behoort nie sonder die advies van ’n kenner toegepas te word nie.
  • Moenie brand sonder om amptelik en deur die korrekte kanale daarvoor aansoek te doen nie, en volg die wetlike voorskrifte.

6. Rigiede rondskuif van vee

Gestel ’n trop diere het ses kampe tot hul beskikking en begin hul weisiklus in die eerste kamp. ’n Rigiede stelsel dikteer dan dat die vee na die tweede kamp sal verskuif wanneer die eerste kamp klaar bewei is, en dan na die derde kamp wanneer die tweede een klaar bewei is en so aan, totdat die sesde kamp klaar bewei is. Dan keer die vee weer na die eerste kamp terug.

Hierdie vaste patroon van verskuiwing is ’n probleem in gebiede waar die veld baie vinnig in die somer groei. In jare met bogemiddelde reënval sal die veld só vinnig groei, dat wanneer die tweede kamp klaar bewei is, die eerste kamp alreeds weer genoegsaam herstel het om bewei te word. Indien die diere eers deur die res van die kampe gesirkuleer word voordat eerste kamp weer bewei word, sal dit so oorgroei wees dat die diere met produksie sal inboet.

Strategiese bestuur van die kampe sal onder sulke omstandighede veel beter wees. Pleks daarvan om die vee volgens ’n voorafopgestelde patroon te skuif, word die kampe dopgehou om te bepaal watter een volgende vir beweiding gereed is.

Indien die tweede kamp byvoorbeeld klaar bewei is, kyk eers of die eerste nie weer bewei kan word nie. As dit reeds voldoende herstel het, keer terug na die eerste kamp in plaas daarvan om die derde kamp te bewei. As die eerste kamp klaar vir ’n tweede keer bewei is, stel vas of die tweede kamp nie weer gereed is vir beweiding nie. Indien nie, skuif dan na die derde kamp. Wanneer die derde kamp klaar bewei is, bepaal eers of die eerste twee kampe nie weer gereed is vir beweiding nie, ensovoorts.

So word daar gedurig aanpassings gemaak soos wat die kampe dit toelaat. Die veld sal nie skade ly nie en die diere sal goed presteer.

7. Veldtoestand word nie gemonitor nie

Veld is dinamies en verander oor tyd. Die enigste manier om te weet in watter rigting die veld se toestand beweeg, is om dit minstens eenkeer elke jaar of twee vas te stel. ’n Mens se geheue is kort en daarom moet enige verandering gemeet word.

Veldopnames is die mees akkurate metode, alhoewel foto’s wat jaarliks in dieselfde tyd van die jaar geneem word, ook goed werk. – Dr Louis du Pisani, onafhanklike landboukonsultant

Lees die ander artikels in hierdie reeks hier of klik hier vir Deel 5.

Vir meer inligting of navrae rondom opleiding in reproduksie- en kuddebestuur, kontak dr Louis du Pisani by 082 773 9778 of Ldupisani@gmail.com.