aanvullende voeding
Voldoende kripspasie is noodsaaklik om te verseker dat al die vee hul regmatige porsie van die lek inneem. (Foto: Dr Louis du Pisani)

Die begrippe ‘aanvullende voeding’ en ‘byvoeding’ word dikwels as sinonieme gebruik, wat dit nie is nie. Eenvoudig gestel is byvoeding ’n plaasvervanger vir ’n tekort aan ruvoer. Droogtevoer, soos hooi, word as byvoeding geklassifiseer. Aanvullende voeding, daarenteen, word bykomend tot ruvoer gegee, hoofsaaklik om die gehalte en verteerbaarheid daarvan te verbeter en die voedingstowwe wat daarin opgesluit is, te ontsluit.

In die algemene omgang word daar na lekke as aanvullende voeding verwys, behalwe wanneer produksielekke byvoorbeeld in groot hoeveelhede gebruik word, wat dan eintlik as byvoeding geklassifiseer behoort te word.  

1. Lekvoorsiening as ruvoer onvoldoende is

Ruvoer bestaan uit twee tipes koolhidrate – struktureel en nie-struktureel. Die strukturele komponent bestaan uit vier tipes vesels: pektien, hemisellulose, sellulose en lignien.

Voedingstowwe (hoofsaaklik koolhidrate) is in die veselfraksie van ’n plant ingebou, maar die vesel moet eers verteer (afgebreek) word voordat daardie ingeboude voedingstowwe vir die dier beskikbaar raak. Die verteerbaarheid van pektien en hemisellulose is meestal goed, terwyl sellulose gedeeltelik verteerbaar en lignien minimaal tot onverteerbaar is.

Die verhouding tussen die verskillende tipes vesel word deur talle faktore bepaal, waarvan die groeistadium of ouderdom van die plant, verskille tussen plantspesies en plantdele, en die pH en gevolglike voedingstatus van die grond, waarskynlik die belangrikste is. Die veselinhoud van grasse is veral hoog nadat dit doodgeryp het. Wintermaande is dus gewoonlik die tyd vir aanvullende lekke.

Dit is die mikrobes in die groot- en blaarpens van herkouers wat die vesel verteer, nie die dier self nie. Vee wat voer inneem waarvan die veselinhoud baie hoog is en die mikrobekonsentrasie in die pens laag is, sal swak gevoed wees, al is hul pense vol. Dis omdat die vesel bloot nie vinnig genoeg verteer word nie.

Hoe groter die konsentrasie mikrobes in die pens en hoe harder hulle werk, hoe vinniger vind die vertering van die vesel plaas, hoe vinniger raak die voedingstowwe beskikbaar en hoe gouer is daar spasie in die pens om nog voer te kan inneem. Die geheim by hoëveselvoer is dus om die verteringsproses te verbeter.

Wat is die rol van lekke om veselvertering te bespoedig? Die mikroörganismes verteer die vesel, op soek na die stikstof wat tydens vertering vrygestel word. ’n Lek bevat verskeie komponente, waarvan stikstof een is. Normaalweg word ureum, wat as ’n nieproteïenstikstof (NPN) bekendstaan, as die bron van stikstof in lekke ingesluit. Ureum is nie kos vir vee nie, maar vir mikrobes. Hierdie aanvullende stikstof verhoog die konsentrasie en werkvermoë van mikrobes, wat weer die verteringstempo van die vesel versnel.

Hierdie stelsel werk egter net as daar voldoende ruvoer beskikbaar is. Soos reeds genoem, is die lek nie kos vir die dier nie, maar vir die mikrobes. Sonder ruvoer is daar nie vesel wat die mikrobes kan verteer om die voedingstowwe te ontsluit nie. As die ruvoer dus skraps raak, help dit nie om die mikrobes te stimuleer nie, want hul rol is ondoeltreffend sonder genoeg vesel om te verteer. Dan behoort daar byvoeding in die vorm van ruvoer verskaf te word, met dikwels ook ’n lek daarmee saam as die veselinhoud van die ruvoer hoog is.

Die stikstof in die ruvoer word deur die mikrobes gebruik om proteïen vir hul groei en produksie te sintetiseer. Die mikrobes sal mettertyd binne-in die dier afsterf en op hul beurt dan ook ’n bron van proteïen vir die dier word. Dit staan as mikrobeproteïen bekend.

2. Diere word nie by die lek aangepas nie

Die verhouding tussen die hoeveelheid ureum in ’n lek en die tempo waarteen die mikrobes dit kan gebruik, is belangrik. As die dier groter hoeveelhede ureum inneem en teen ’n hoër tempo as wat die mikrobes dit kan gebruik, ontstaan daar ’n oormaat ureum wat tot vergiftiging en vrektes kan lei.

Om ureumvergiftiging te verhoed, moet die hoeveelheid aanvulling en die tempo waarteen dit gevoer word dus tred hou met die pas waarteen die mikrobepopulasie groei. Dit is wat bedoel word met die aanpassing van die vee by ’n lek. Die sleutel is om tydig te begin en die diere stelselmatig aan te pas – eerder stadiger as vinniger.

’n Mens kan maklik in die slagyster trap om te dink dat hoe meer ureum in die lek is, hoe beter sal die stelsel werk. Onthou egter dat ’n dier se pens ’n beperkte kapasiteit het vir die hoeveelheid ruvoer wat dit kan hou. As die penskapasiteit byvoorbeeld 10kg is, sal alle ureum wat meer is as wat die mikrobes nodig het om 10kg te verteer, oortollig wees en tot vergiftiging lei.

3. Onvoldoende vreetspasie vir aanvullende voeding

Dit is raadsaam om genoeg kripspasie beskikbaar te stel sodat elke dier ’n gelyke geleentheid kry om sy daaglikse porsie in te neem. As die vreetspasie te min is, sal die dominante diere meer as hul deel inkry, terwyl die res van die diere te min inkry. Die nagevolge is legio.

Sommige diere oorvreet hulle en kan van ureumvergiftiging vrek. Ooie wat dragtig is maar nog nie gelam het nie, vreet die lek op voor die ooie met lammers by die bakke opdaag, omdat hulle deur hul lammers vertraag word. Ooie met lammers hardloop ook dikwels na die lekbakke toe en raak dan van hul lammers geskei.

4. Swak vermenging van ureum-bevattende lekmengsels

Ureumbevattende lekke wat swak vermeng is, kan daartoe aanleiding gee dat enkele diere toevallig ’n gedeelte lek inneem wat besonder hoog in ureum is. Hulle neem dan meer ureum in as wat die mikrobes kan verbruik, wat tot vergiftiging kan lei.

5. Ongebalanseerde lekmengsels vir aanvullende voeding

Daar bestaan ’n lys van reëls waaraan gebalanseerde lekrantsoene moet voldoen. Ongebalanseerde rantsoene kan tot siektetoestande en voedingstoornisse lei, wat die voordele van die lek totaal oorheers. Lekke met byvoorbeeld te veel stysel kan suurpens (asidose) veroorsaak.

Sout word meestal as ’n inname-inhibeerder by lekke ingesluit. Wanneer ’n lek met baie sout egter aan diere wat southonger is gevoer word, kan hulle juis agter die sout aan vreet en te veel lek inkry. Dit kan tot beide ureum- en soutvergifting lei. ’n Oormaat sout kan ook die inname van weiding verlaag, omdat die diere dan baie water drink, wat die spasie vir voerinname beperk. Dit kan ook tot ’n wanbalans in die diere se elektroliete lei.

6. Blindelingse aankoop van goedkoop lekke as aanvullende voeding

Twee lekke wat dieselfde prys per kilogram kos, kan byvoorbeeld in hul koste per kilogram proteïen of energie verskil. Wanneer die prys van lekke vergelyk word, moet appels dus met appels vergelyk word.

 

Wees ook versigtig om te dink meer is beter. Soms kan ’n lek byvoorbeeld baie hoog in proteïen wees – meer as wat die dier werklik benodig. Die dier sal dan gebruik wat hy nodig het en die res ongebruik uitskei

7. Verkeerde gebruik van lekke as aanvullende voeding

Ureumgebaseerde lekke help om die voedingstowwe in veselryke ruvoere te ontsluit, mits daar genoeg ruvoer is en die dier genoeg spasie in die buik het.

Byvoorbeeld, ’n droë ooi het genoeg pensspasie vir sowat 2 tot 3kg droë, veselrige ruvoer. Daar behoort ook genoeg voedingstowwe in die hoeveelheid ruvoer opgesluit te wees om aan haar onderhoudsbehoeftes te voldoen, mits sy dit daagliks ten volle kan ontsluit met die hulp van ’n ureumgebaseerde lek. Dus, solank sy genoeg ruimte vir voer in die buik het, sal die stelsel werk.

Daar ontstaan egter ’n probleem wanneer sy swaar dragtig is en die lam/mers in haar buik haar spasie vir voer beperk. Sy vreet dan minder ruvoer en kan selfs met die aanvullende lek nie genoeg voedingstowwe uit die verminderde ruvoer ontsluit nie. Dan werk die stelsel nie meer doeltreffend nie. Sy sal vermaer, met gevolglike probleme nadat sy gelam het.

Daar ontstaan egter ’n probleem wanneer sy swaar dragtig is en die lam/mers in haar buik haar spasie vir voer beperk. Sy vreet dan minder ruvoer en kan selfs met die aanvullende lek nie genoeg voedingstowwe uit die verminderde ruvoer ontsluit nie. Dan werk die stelsel nie meer doeltreffend nie. Sy sal vermaer, met gevolglike probleme nadat sy gelam het.

Jong diere se penskapasiteit en -funksie moet eers volledig ontwikkel voordat hulle ureumgebaseerde lekke doeltreffend kan gebruik. Voordat hul spysverteringskanaal nie volledig ontwikkel is nie, moet hulle liefs byvoeding en produksielekke met natuurlike proteïen eerder as ureumlekke ontvang.

Bou ’n goeie verhouding met ’n ervare voedingkundige op vir kundige, tydige raad. Voeding is ’n dinamiese proses en geen twee jare lyk dieselfde nie. Wat een jaar gewerk het sal moontlik die volgende jaar nie ewe doeltreffend wees nie.

Lees die ander artikels in hierdie reeks hier of klik hier vir Deel 7.

Vir meer inligting of navrae rondom opleiding in reproduksie- en kuddebestuur, kontak dr Louis du Pisani by 082 773 9778 of Ldupisani@gmail.com.