Veeboere word met baie uitdagings gekonfronteer, waarvan wisselvallige klimaatstoestande en produkpryse waarskynlik die belangrikste is. Die wisselvalligheid kan ten beste bestuur word deur die veld in ’n goeie toestand te hou en dit doeltreffend en volhoubaar in verkoopbare veeprodukte om te skakel.

Daar is geen resepte nie. Hoe beter die produsent die weiding se ekosisteem verstaan, hoe makliker is dit om die veld oordeelkundig, volhoubaar en winsgewend te bestuur en benut.

1. Oor- of onderskatting van veld se dravermoë

Veld se produksievermoë word deur ’n paar faktore bepaal, waarvan die reënval, grond (veral gronddiepte) en veldtoestand die belangrikste is.

Die veebelading moet in ooreenstemming met die weidingskapasiteit toegepas word. As die belading te lig is, is die produksie per dier hoog, maar die produksie per hektaar laag, want daar bly voer oor wat nie in diereprodukte omgesit word nie. As die belading te swaar is, is die diere kronies verhonger, hul produksie suboptimaal, die produksie per hektaar laag, en die veld gaan agteruit.

Figuur 1 demonstreer hierdie konsepte. Die kuns is dus om die veld se langtermynweidingskapasiteit so goed moontlik te bepaal en om binne sowat 90% tot 110% daarvan met die dieregetalle te begin boer (sien die grys blok in Figuur 1).

kuddebestuur
Die verwantskap tussen produksie/dier en produksie/ha by verskillende veebeladings (sogenaamde Jones-Sandland-model).

Natuurlik wissel veld se voerproduksie jaar na jaar soos die reënval wissel en dit is raadsaam om die veegetalle daarvolgens aan te pas. Tog moet ’n mens iewers op ’n bepaalde getal diere besluit en daarvandaan jaarlikse aanpassings maak. Daarom is die eerste stap om die langtermynweidingskapasiteit van die veld te bepaal en dan die basiese kuddegrootte daarvolgens vas te stel.

2. Lang weiperiodes met klein troppies vee

Vee besit die vermoë om selektief te bewei. Wanneer daar met klein troppies vee vir lang periodes in ’n kamp geboer word, sal die diere hierdie vermoë tot die uiterste gebruik. Hulle sal sekere plante kort afvreet en telkens die nuwe, sagte en sappige hergroei vreet. Die diere sal floreer, maar die plante sal mettertyd afsterf, terwyl die res van die plantegroei oorgroei en onsmaaklik sal raak, en mettertyd ook begin afsterf.

Vee se weigedrag pas aan wanneer hulle in groter troppe loop. Hulle vreet dan minder selektief as gevolg van kompetisie met die res van die trop. Wanneer die veetroppe groter gemaak word, is die aantal troppe op die plaas minder en word minder van die beskikbare kampe vir korter periodes bewei.

"Hoe beter die produsent die weidingsekosisteem verstaan, hoe makliker is dit om die veld oordeelkundig, volhoubaar en winsgewend te bestuur en benut."

Die veld word dus baie meer egalig bewei, ’n groter persentasie van die plante dra tot die vee se produksie by, toesig oor die vee en water is makliker aangesien daar minder troppe is, die veld se toestand stabiliseer en dit is makliker om ’n weidingstelsel saam te stel vir plase met min kampe.

Soms is dit nodig om die vee tydelik toe te laat om baie selektief te vreet, byvoorbeeld met tweelingooie in die laaste derde van dragtigheid en tydens laktasie, wanneer hulle hoëgehalte weiding benodig.

Wanneer groter troppe met korter weiperiodes toegepas word, moet daar seker gemaak word dat watervoorsiening vir die groter troppe voldoende is.

3. Kort herstelperiodes tussen beweidings

Veld is veerkragtig en die beweiding van ’n kamp is soos ’n rek wat uitgerek word. Solank die diere in die kamp is, word die rek uitgerek. Wanneer die diere uit die kamp gehaal word, keer die rek na sy oorspronklike posisie terug.

Hierdie periode wat die rek na sy oorspronklike posisie terugkeer, word die herstelperiode genoem. As die kamp weer bewei word voordat dit voldoende herstel het, kan die rek mettertyd breek of slap raak. Wanneer veld ‘breek’, verloor dit heel eerste daardie plantspesies wat die waardevolste vir diereproduksie is. Die waardevolle bogrond waai of spoel dan ook weg en sulke veld is besonder sensitief vir droogtes.

4. Afwesigheid van seisoenrus

Daar is ’n groot verskil tussen die herstel van ’n kamp tussen beweidings, en rus. Veld bied weerstand teen verandering en sal selfs swak bestuur weerstaan, maar net tot op ’n punt.

Dit is menslik om foute met die bestuur van veld te maak en soms word dit met opset verkeerd bestuur tot voordeel van sekere diere se prestasie, soos om ooie toe te laat om selektief te vreet tydens laatdragtigheid en laktasie.

Die negatiewe effekte van verkeerde bestuur word nie tydens die normale herstelperiodes tussen beweidings opgehef nie. Daarom is dit nodig dat elke kamp minstens een keer elke drie tot vyf jaar vir ’n volle groeiseisoen moet rus. Dit sal die kamp kans gee om sy ‘rek’ weer tot volle sterkte te herstel.

5. Beweiding van dieselfde kampe, dieselfde tyd

Die groeikurwe van plantspesies en plantgroepe verskil van mekaar. Sommige groei aktief in die lente, ander in die somer en ander weer in die herfs of winter. Plante is op hul heel smaaklikste wanneer hulle aktief groei.

As ’n kamp dus jaar na jaar in die lente bewei word, sal daardie plante wat aktief in die lente groei, se rekke telkens daardie tyd van die jaar uitgerek word. Mettertyd sal dié plante uit die kamp verdwyn.

Die winter- en somerkampe in die bergkampproef by die Grootfontein Landbounavorsingsinstituut. (Foto’s: Dr Loraine van den Berg)

Die bergkampproef te Grootfontein Landbounavorsingsinstituut op Middelburg in die Oos-Kaap is ’n weidingsproef wat die effek van langdurige seisoenale beweiding demonstreer. Die proef het in 1934 begin en word steeds volgehou. Die somerkamp, wat sedert 1934 net in die somer bewei word (tussen November en Februarie), bestaan uit 100% bossies, met bykans geen gras wat oor is nie. Die winterkamp bestaan weer uit 100% gras, met bykans geen bossies nie.

6. Kampe ewe lank bewei, ongeag grootte en toestand

Daar is produsente wat alle kampe, klein en groot, vir vaste weiperiodes van twee weke bewei. Na afloop van die weiperiode word die diere na die volgende kampe in die siklus verskuif, sonder om die verskille in kampgrootte en veldtoestand in ag te neem. Die kleiner kampe word dus oorbenut, terwyl die groter kampe onderbenut word.

Die slegste scenario is wanneer die kleiner kampe ook nog in ’n swak toestand is, want die oorbenutting is dan soveel erger. Kleiner kampe is ’n bate wanneer ’n goeie weidingstelsel toegepas word, maar raak ’n probleem wanneer dit teen verkeerde weilengtes benut word.

7. Gebrek aan infrastruktuur vir goeie veldbenutting

Daar is veral drie infrastruktuur-sondes op veeplase: Te min en te groot kampe, en kampdrade wat op die verkeerde plekke gespan is. Elk gee aanleiding tot oormatige selektiewe beweiding en die stelselmatige agteruitgang van die veld.

Daar is geen manier om die selektiewe oor- en onderbeweiding van veld wat verkeerd afgekamp is, stop te sit nie, behalwe om die draad te verskuif. Die korrekte skeiding van veldtipes is die eerste en belangrikste stap in die beplanning van die kampinfrastruktuur.

Dikwels begin produsente om eers die toekomstige waterpunte binne ’n groot kamp te installeer, om dan later die beplande heinings te maak. Die diere se beweging kan dan tot ’n mate met die toemaak van waterpunte beter beheer word. – dr Louis du Pisani, onafhanklike landboukonsultant

Lees Deel 4 hier.

Vir meer inligting of navrae rondom opleiding in reproduksie- en kuddebestuur, kontak dr Louis du Pisani by 082 773 9778 of Ldupisani@gmail.com.