Estimated reading time: 7 minutes
’n Groot gedeelte van Suid-Afrika se beskikbare landbougrond is meestal vir ekstensiewe veeboerdery geskik. Hierdie ekstensiewe weidingsgrond se weidingsgehalte en -kapasiteit word egter deur faktore soos seisoene en reënval beïnvloed, wat die afronding van diere op die veld bemoeilik.
Voerkrale het die voordeel dat hulle meer akkuraat aan alle diere se voedingsbehoeftes kan voldoen. Voerkrale het egter ook die nadeel dat dit meer koste-intensief is omdat dit meer insette vereis. Daar is ook die feit dat diere in voerkrale meer vatbaar is vir siektes.
In hierdie artikel word daar eerstens gefokus op die waarde wat die rooivleisbedrywe tot die ekonomie bydra, voordat daar gekyk word na die rol wat voerkrale speel.
Groottes, waardes en getalle
Landbou, bosbou, jag en visserye het in 2019 ‘n totaal van 2,1% van Suid-Afrika se bruto produksiewaarde bygedra. Diereprodukte se bydrae tot die brutoproduksiewaarde was 45% vir die 2019/20-jaar. Dié bydrae het effens gedaal vanaf 2017/18, waartydens die bydrae op 50% gestaan het. Akkerbou het oor die afgelope paar jaar sy bydrae vergroot, terwyl tuinbou se bydrae redelik konstant op ongeveer 30% vir dieselfde tydperk gebly het.
Figuur 1 illustreer die bydraes van die onderskeie lewendehawesektore tot die totale waarde van diereprodukte. Hoendervleis se bydrae is meer as ’n derde van die berekende totale waarde, naamlik R141 miljard. Met betrekking tot rooivleis was geslagte beeste en kalwers se bydrae 26%, geslagte skape en bokke ’n verdere 5%, en geslagte varke net onder 5%.
Figuur 1: Bydraes tot die totale waarde van diereprodukte vir 2019/20. (Bron: Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, 2021)

Volgens die Kortbegrip van Landboustatistiek vir Suid-Afrika was daar 12,3 miljoen beeste in die land in 2019/20, terwyl net oor die 3,2 miljoen beeste in dié tydperk geslag is. Plaaslike produksie van beesvleis is in 2019/20 op 1,08 miljoen ton geskat, wat die plaaslike verbruik oortref het.
Suid-Afrika is ook die laaste paar jaar ’n netto uitvoerder van beesvleis. Op provinsiale vlak meld Gauteng, Mpumalanga en die Vrystaat van die hoogste slagsyfers aan, met ’n duidelike tendens tussen maande waar die grootste getal diere vóór en gedurende Kerstyd (November tot Desember) geslag word, asook oor Paastyd (Maart).
Suid-Afrika het in 2019/20 sowat 18,9 miljoen skape en net meer as 1,7 miljoen bokke gehuisves. Die getalle is spesifiek op kommersiële vlak van toepassing. In dieselfde jaar is 6,4 miljoen skape en bokke geslag, met plaaslike produksie wat op 177 100 ton bereken is. Die Noord-Kaap, Wes-Kaap en Vrystaat het van die hoogste slaggetalle aangemeld, met die slagtendens wat grotendeels met dié van beeste ooreenstem.
Die getal varke het in 2019/20 op 1,36 miljoen gestaan, met 3,5 miljoen varke wat in die jaar geslag is om produksie van 289 700 ton te lewer. Vordering in varkvleisproduksie blyk goed te wees, waar die getal varke oor tyd geleidelik gedaal het, terwyl die aantal slagtings en totale produksie ’n stygende tendens toon.
Die vraag na varkvleis het ook die afgelope paar jaar gestyg, met die totale verbruik wat op 304 000 ton vir die ooreenstemmende jaar bereken is. Gauteng, Wes-Kaap en KwaZulu-Natal toon die hoogste slaggetalle, met ’n minder opsigtelike tendens in slagtings. Hier kan die produksie van die bedryf waarskynlik ’n groot rol speel en tot minder variasie lei, as gevolg van die intensiewe aard van die produksie-eenhede.
Lees meer oor die potensiale winsgewendheid van voerkrale hier.
Die rol van voerkrale
Voerkrale dien as die skakel tussen produsente en abattoirs in die waardeketting. Bronne toon dat rofweg 100 kommersiële voerkrale tans 5 000 werksgeleenthede verseker. Daar is sowat 430 abattoirs regoor die land waar beeste, skape, bokke en varke geslag word. Na raming is daar net oor die twee miljoen mense wie se bestaan op die beesbedryf geskoei is.
Baie van die bestaande abattoirs word deur voerkrale besit. Hul uitgangspunt is om groter beheer oor meer van die skakels in die waardeketting te hê en daardeur ook hul risiko te versprei. ’n Mens sien ook dat van hierdie uitbreidings al gelei het tot abattoirs wat direk aan die verbruiker verkoop.
Die vlak van integrasie in die waardeketting hou ’n groot risiko in waar daar aanhoudend geproduseer moet word om al die skakels in die ketting aan die gang te hou. Dit is veral die geval waar sekere skakels met tye teen verliese bedryf word.
Voerkrale het ten doel om diere tot op markgereedheid af te rond. Hulle voeg dus waarde tot die diere by deur die gewig wat die diere in die voerkraal bykry. Tussen 75 en 80% van die land se beeste word in voerkrale afgerond. ’n Kleiner gedeelte van die land se skape word in voerkrale afgerond, omdat afronding van skape meer gereeld op die veld of in plaasvoerkrale geskied as wat die geval by beeste is.
Daar kan dus geargumenteer word dat die waarde wat deur ’n voerkraal tot die ekonomie toegevoeg word, die verskil tussen die prys van die uitset (karkas, vel, ens.) en die insette (speenkalwers, voer, arbeid, ens.) is. Verder kan die rol van voerkrale gesien word as die reguleerder vir die beskikbaarstelling van markgereed diere aan die mark, op die regte stadium.
Dit is belangrik om te onthou dat ’n groot gedeelte van die land se speenkalwers in die herfsmaande bemark word, terwyl daar regdeur die jaar vleis op die rakke moet wees om verbruikers tevrede te hou. Speenkalfprodusente wil juis nie speenkalwers deur die winter dra wanneer daar druk op voerbronne gaan wees nie en verskuif dus die risiko na die voerkrale wanneer daar in dié stadium bemark word.
Figuurlik gesproke is voerkrale, tesame met hulle backgrounding-vertakkings, ’n opgaartenk in die beesbedryf wat genoeg produk beskikbaar stel na gelang van die wisselende vraag.
Stabiliteit in die mark
Alhoewel daar baie minder voerkrale as bees- en skaapprodusente in Suid-Afrika is, is daar steeds genoeg kompetisie in die bedryf om te sorg dat een individuele rolspeler nie die mark omver kan werp nie. As daar na die verspreiding van veilingskrale, voerkrale, hul kliënte en abattoirs gekyk word, bied dit gerieflike bemarkingskanale aan produsente. Dit is ook te danke aan ooreenkomste deur voerkrale en abattoirs met verskeie rolspelers, wat verseker het dat uitvoere oor die laaste paar jaar kon voortgaan ondanks verskeie gesondheidsuitdagings (mens en dier).
Buiten speenkalf- en lamprodusente, kan plaaslike graanprodusente ook oplet na die rol van voerkrale. Die groot getal diere wat in voerkrale afgerond word dra by tot ’n gesonde vraag na grane, wat tot groter stabiliteit in die mark lei. As dit nie die geval was nie, sou meer mielies byvoorbeeld elke jaar uitgevoer moes word.
Oorwegings op die horison
Die wolbedryf is tot ’n sekere mate die vleisbedryf ’n paar treë voor, met hul inisiatief om verantwoordelike of volhoubare wol te produseer volgens die vasgestelde standaarde wat al deur verskeie produsente ondersteun word. Rolspelers in die vleisbedryf sal ook meer aandag aan dié tipe aspekte moet begin gee en op ’n metode besluit waarvolgens gemoedsrus oor byvoorbeeld dierewelsyn aan die verbruiker gegee kan word.
Naspeurbaarheid sal goed inpas by hierdie klas van standaarde en sal ook toenemend geprioritiseer moet word, omdat dit waarskynlik groter voorkeur by baie voerkrale sal geniet. Voerkrale kan moontlik ’n leidende rol speel om ’n naspeurbaarheidstelsel in werking te stel, deur ’n premie te betaal aan produsente wat dit reeds toepas.
Uit die voerkraal se perspektief
Die produksie van vleis vanaf veld (meer spesifiek beesvleis) bly ’n uitdaging weens die beskikbaarheid van goeie gehalte weidings regdeur die jaar, en sal na verwagting nie in die nabye toekoms die hoofmetode van afronding word nie.
Veeprodusente kla soms oor die prys wat hulle vir hul speenkalwers of -lammers kry en dat die voerkrale glo saamwerk om pryse af te druk. Neem in ag dat voerkrale besigheidsgeoriënteerde besluite moet neem. Dit is algemeen dat speenlampryse daal wanneer mielies duur is en styg wanneer mielies goedkoper is. Onthou ook dat voerkrale bereid is om die risiko aan te gaan deur nóú ’n speenkalf te koop sonder om noodwendig te weet teen watter prys die karkas verkoop gaan word.
’n Voerkraalopset is ’n baie gespesialiseerde besigheid, waar ’n klein foutjie groot finansiële implikasies kan hê. Dit is beslis nie vir almal beskore nie. Oorweeg dus deeglik of jy as produsent kans sien om self die rol van afronding oor te neem. Netso kan voerkrale nie sonder die primêre produsente in die land bestaan nie – die een hand was immers die ander. – dr WA Lombard en prof Frikkie Maré, Veeplaas
Vir meer inligting of bronverwysings, stuur ’n epos aan
dr WA Lombard by LombardWA@ufs.ac.za.