Estimated reading time: 6 minutes
Boerderye kom dikwels voor as eenvoudig, maar agter die skerms is dit nie altyd so romanties en rooskleurig as wat ’n mens dit graag sou wou hê nie. Soms moet die plaas uit die as herbou word – maar waar daar ’n wil is, is daar altyd ’n weg.
Dit is hoe Ockert Vermeulen in 2017 sy intrek op die plaas, Modderaskolk, wat hy van sy oupa geërf het, geneem het. Die plaas is in die Williston-/Fraserburg-omgewing geleë en was erg verwaarloos en glad nie meer die plaas wat hy as seun geken het nie. Dit was nogtans vir Ockert eerder ’n uitdaging as ’n ramp.
Hy het op 12-jarige ouderdom by sy oupa op die plaas gewoon en was baie geïnteresseerd in dié se bokke. As jong seun het hy gereeld agter die bokke aangeloop en die aand aan sy oupa kom verslag doen oor watter ooie gelam het en waar die lammers is.
Begin by melkbokke
Die lewe het egter ’n paar draaie met Ockert gestap en hy was in 2017 al in sy veertigs toe sy droom om ook in die Karoo te boer uiteindelik verwesenlik is. Hy het egter bokerf getrek, aangesien hy eintlik niks gehad het om op voort te bou nie en alles van voor af moes doen.
Omdat Ockert ’n voorliefde vir melkbokke gehad het was een van sy ideale om ’n melkbokstoet te begin. Hy het eers begin om met die Alpine-, Toggenburg- en Saanen-rasse te eksperimenteer, maar het later slegs op die Saanen gefokus. Hy het sowat vier jaar gelede ’n mylpaal bereik toe hy sy Modderaskolk-stoet by die Suid-Afrikaanse Melkboktelersgenootskap geregistreer het.
Buiten die feit dat bokmelk nuttig is vir menslike gebruik, veral vir babas wat allergies is vir beesmelk, word dit ook gebruik vir die maak van kaas. Ockert meen melkbokke is ’n waardevolle bate vir ’n skaapplaas, aangesien die melk gebruik kan word om hanslammers in die skaapkudde groot te maak. Die hanslammers word soms by die melkbokke gesit en die ooie maak dan sommer self die lammers groot.
’n Skaapras sonder naam
Ockert vertel dat hoewel hy ’n kommersiële skaapkudde het, dit nie een van die algemene skaaprasse is wat in die omgewing voorkom nie. Volgens hom het hierdie ras nie eens ’n naam nie; daarom noem hy hulle sy rooikoppe. Met die hulp van ander produsente het hulle die ‘ras’ uit hoofsaaklik Dorpers en Meatmasters geteel. Hulle is gehard en beter aangepas by die droë Karoo-omgewing.
“Die ras is besonder vrugbaar en kan makliker op baie min weiding oorleef. Boonop het die skape ’n goeie vetstert. Aangesien hulle so maklik reproduseer, het dit my in die minder as tien jaar op die plaas gehelp om vinniger op my voete te kom. Met die bystand van my melkbokke kon ek sekere boerderydoelwitte gouer bereik,” se hy.
Die skape lam basies elke ses maande. Een van sy ooie het byvoorbeeld vir hom twee drielinge en een tweeling binne drie lamseisoene gegee. Dit beteken agt lammers binne 18 maande.
“Hoewel sy dalk ’n uitskieter is, lewer die meeste rooikop-ooie meerlinge. Daarom is die melkbokke van groot waarde vir my kommersiële boerdery. Danksy hul nuttigheid het ek besluit om hierdie melkbokke na ’n hoër vlak te neem en hulle die beste melkbokke moontlik te maak. Ek het dus besluit om ’n stoet te begin en in die proses kennis en hulp van ander telers gekry,” vertel Ockert.
Dit is vir hom belangrik dat die melkbokke moet help om die skape se meerlinge groot te maak. Hy het ook nie ’n spesifieke lamseisoen vir sy skape nie; dit stel hom in staat om voortdurend te bemark volgens die beskikbare pryse. Verder bied die stelsel hom die geleentheid om elke week self deur sy skape te gaan en al die lammers te sien.
Melkbokke om mee rekening te hou
Met sy Saanen-melkbokke het Ockert reeds heelwat toekennings ingepalm. Tydens die Williston-landbouskou het hy in verskeie afdelings ’n eerste plek behaal en die reserwekampioen vertoon. Lees elders in hierdie uitgawe meer oor dié skou.
Dit is sonder twyfel ’n groot pluimpie vir Ockert dat talle melkbokprodusente sy Saanens as van die beste in die land beskou. Hy sê selfs buitelandse kopers het hom al gekontak om sy ramme te koop. Hoewel hy nog nie sy diere uitvoer nie, is dit een van sy doelwitte.
Ockert vertel dat dit nog altyd sy beleid was om dit wat hy doen, goed te doen – ’n beginsel wat hy met sy melkbokkudde getrou handhaaf. Hy het begin met wat hy kon bekostig en dit geleidelik verbeter totdat hy op nasionale vlak met die beste kon meeding.
“Ek het aanvanklik my eie standaarde gestel en veral gekyk na eienskappe soos bouvorm en uieraanhegting, aangesien melkproduksie baie belangrik is. Laasgenoemde het tot so ‘n mate verbeter dat ek vanjaar beeskalwers aangeskaf het om die uitstekende melkproduksie van die bokke te benut.
Ek het besef daar is faktore wat ek dalk miskyk om my melkbokke verder te verbeter, en daarom het ek begin skou om my teen ander te meet en my plek in die bedryf te bepaal.
“Een van die faktore wat ek by die skoue raakgesien het, is eenvormigheid. Vandag is dit vir my belangrik dat die diere wat ek vertoon nie net eenvormig moet lyk nie, maar ook van dieselfde kaliber moet wees,” sê hy.
Goeie genetika
Twee eienskappe is vir Ockert ’n prioriteit: ideale bouvorm en goeie melkproduksie. Om sy stoet te verbeter is goeie genetika ook belangrik, en daarom sorg hy dat die regte ram altyd by die regte ooie geplaas word. Hy koop ook gedurig nuwe genetika van bekende telers aan, hetsy ’n ram of semenstrooitjies.
“Aangesien daar eintlik so min melkbokstoete in die land is, is dit nie altyd maklik om beter genetika in te koop nie. Daarom probeer ek om die genetika wat uit my stoet kom te verbeter, sodat ek ander telers met goeie ramme kan help.”
Dit is vir hom belangrik dat die teelramme wat hy verkoop vir die koper waarde moet bied; daarom sorg hy dat sy ramme van die hoogste standaard is. Volgens Ockert is seleksie en noukeurige rekordhouding die sleutel. Hy sorg altyd dat elke ram wat bemark word oor ’n goeie agtergrond beskik en eienskappe soos vrugbaarheid, gehardheid, uieraanhegting en bouvorm weerspieël.
Vir Ockert is sy melkbokstoet nie bloot ’n snaaksigheid of nismark op die plaas nie. Hy glo dat elke dier ’n doel het en nie net rondstaan om mooi te lyk nie. Elke ooi vervul ’n funksie, en die waarde wat hy uit sy melkbokke vir sy kommersiële boerdery haal is van onskatbare belang. Dit is ook sy passie om ander melkboktelers te help waar hy kan. – Koos du Pisanie, Veeplaas
Vir meer inligting, skakel Ockert Vermeulen by 083 231 6393.


