Estimated reading time: 7 minutes
- Presisieboerdery is meer algemeen in gewasproduksie en behels die gebruik van tegnologie soos globale posisioneringstelsels (GPS) of outomatisering van boerdery-aktiwiteite. Die gebruik van presisieveeboerdery neem egter ook toe.
- Berckmans (2017) omskryf presisieveeboerdery as die bestuur van individuele diere deur voortdurende, geoutomatiseerde en intydse monitering van gesondheid, welsyn, produksie/reproduksie en omgewingsimpak.
- Die gebruik van presisietegnologie is ver gevorderd in Europa, Noord-Amerika en Australië. Die maklike aanvaarding van presisieveeboerdery in hierdie streke beteken dat die mark vir presisieveeboerdery-tegnologie teen 2028 na raming $11,2 miljard sal bereik.
- Die Decision Support Services (DSS)-stelsel, wat deur BKB bestuur word, dien as ’n hulpmiddel wat visuele klassering aanvul en raaiwerk tot die minimum beperk. Produsente kan optimale, presiese besluite neem, terwyl konsekwente meting tot meer doeltreffende bestuur lei.
- Veeproduksie dra 42,3% tot Suid-Afrika se landbouproduksie by (DARRLD, 2024) en die veesektor moet derhalwe aangemoedig word om praktyke toe te pas wat die bedryf kan laat groei en verder tot Suid-Afrika se ekonomiese groei sal bydra.
Die gebruik van presisietegnologie in die landbou is besig om in ’n noodsaaklikheid te ontwikkel nadat dit etlike jare gelede bloot ’n luukse was. Om hoë vlakke van winsgewendheid te handhaaf of hul ondernemings te verbeter, wend landbouprodusente hulle toenemend tot presisietegnologie.
Presisieboerdery is meer algemeen in gewasproduksie en behels die gebruik van tegnologie soos globale posisioneringstelsels (GPS) of outomatisering van boerdery-aktiwiteite. Die gebruik van presisieveeboerdery neem egter ook toe. Berckmans (2017) omskryf presisieveeboerdery as die bestuur van individuele diere deur voortdurende, geoutomatiseerde en intydse monitering van gesondheid, welsyn, produksie/reproduksie en omgewingsimpak.
By veeproduksie is presisietegnologie veral belangrik om gesonde kuddes meer doeltreffend aan te hou, terwyl aansienlike opbrengsverhogings op meer doeltreffende maniere gerealiseer word. Berckmans en Guarino het in hul 2017-ontledings van wêreldwye presisieveeboerderypraktyke, beraam dat die vraag na diereprodukte teen 2050 met 70% sal groei.
Leer meer oor die belangrikheid van beplanning met besproeiing in presisieboerdery hier.
Groei in presisietegnologie
Die gebruik van presisietegnologie is ver gevorderd in Europa, Noord-Amerika en Australië. Die maklike aanvaarding van presisieveeboerdery in hierdie streke beteken dat die mark vir presisieveeboerdery-tegnologie teen 2028 na raming $11,2 miljard sal bereik. Vyf maatskappye in Swede, Duitsland, Israel, die Verenigde State en Nederland hou sowat 60 tot 70% van die markaandeel hierin.
’n Voorbeeld van presisieboerdery in die buiteland is dié van die Weight Watcher-stelsel wat deur die Amerikaanse maatskappy, Osborne, ontwikkel is. Dit is ’n allesomvattende groeibestuurstelsel wat diere tydens hul groeitydperk outomaties in verskillende voergroepe sorteer, gebaseer op hul gewigsverspreiding in die hok.
Lees meer oor die gebruik van hommeltuie in presisieboerdery hier.
Die stelsel gebruik die ACCU-ARM-opnameskaal, ’n outomatiese sorteerskaal, om varke te klassifiseer terwyl hulle tussen verskillende hokke na voer en water beweeg. Voorsiening word gemaak vir geteikende fasevoeding: Ligter varke kry ’n rantsoen wat groei bevorder en swaarder varke ’n rantsoen wat opbrengs op wins optimaliseer. Sodra die diere markgewig bereik, sorteer die stelsel hulle outomaties in ’n laai-gereed hok. Dié proses skakel handsorteerfoute en arbeid uit, en verseker eenvormige versending na die mark.
Die Weight Watcher-stelsel werk in twee modusse, Weight Watcher en Market Sort. In die Weight Watcher-modus stuur die sorteerskaal diere outomaties na die regte voerarea op grond van ’n voorafbepaalde gewig. Diere onder hierdie gewig word in die hok vir ligte varke gesorteer, terwyl swaarder diere na die swaardierhok gaan. In die marksorteermodus kan die skaal diere identifiseer wat aan ’n voorafbepaalde markgewig voldoen, en dié wat die teikengewig bereik het dan in ’n kraal sorteer vir maklike laai na die mark.
Plaaslike ondersteuning
In Suid-Afrika is daar maatskappye met soortgelyke programme. Een so ’n voorbeeld is die Decision Support Services (DSS)-stelsel wat deur BKB bestuur word. DSS dien as ’n hulpmiddel wat visuele klassering aanvul en raaiwerk tot die minimum beperk. Produsente kan optimale, presiese besluite neem, terwyl konsekwente meting tot meer doeltreffende bestuur lei.
Feitegebaseerde seleksie beteken meer lewensvatbare kuddes, hoër produksie en beter algehele produktiwiteit. As ’n robuuste besluitnemingsinstrument, stel DSS produsente in staat om ingeligte besluite te neem, kuddebestuur te optimaliseer en meetbare resultate te lewer.
Lees meer oor presisieboerdery in die kleinveebedryf hier.
Hierdie stelsel kan produsente byvoorbeeld help om skape met dieselfde veseldikte te groepeer wanneer skeertyd aanbreek. Sodoende eindig die produsent op met eenvormige bale wol van dieselfde veseldikte. Dit help die produsent om die hoogste moontlike prys vir sy of haar bale wol of sybokhaar te behaal, aangesien die kopers presies weet wat hulle koop, en hulle nie die wol of sybokhaar ná aankoop hoef te sorteer nie.
Hierdie vlak van deursigtigheid verhoog uiteraard die waarde en aantreklikheid van die produk. Die huidige koste van DSS is R5/ooi en R2/lam. Dit sluit ’n wolverslag, wolontleding, reproduksie- en relevante groeidata asook ‘n doeltreffende vee-ontleding in. Hierdie koste sluit nie die DSS-oorplaatjies of skandeerder in nie. Die skandeerder kan wel teen ‘n vaste dagtarief gehuur word.
’n Vroeë waarskuwingstelsel
Presisieveeboerdery bied die produsent beter beheer oor winsdraende parameters deurdat die tegnologie intydse besluitnemingsdata verskaf. Dit verminder boonop potensiële verliese weens menslike foute en vertragings in die opsporing van sleutelproduksiefaktore.
Verskeie tipes sensors kan aspekte soos vee-aktiwiteit (beweging, angs) in ’n algoritme weergee wat die data as normaal of abnormaal aandui (Kleen en Guatteo, 2023). Die data word dan geïntegreer om ‘n moontlike produksiefaktor soos hittesiklusse te identifiseer, tesame met ’n besluitnemingsopsie (Kleen en Guatteo, 2023). Produsente kan besluitnemingsparameters meer doeltreffend raaksien en betekenisvolle gedrag wat andersins gemis kon word, identifiseer.
Die voordele van presisieveeboerdery vir produsente sluit vroeë siektewaarskuwingstelsels in en ondersteun dus dierewelsyn, terwyl die verspreiding van siektes verminder word, kuddes beter bestuur word, en die plaas se algehele ekonomie uiteindelik beter daar uit sien. Terselfdertyd bied dit aan die verbruiker gemoedsrus oor die produk wat hulle aankoop en die omstandighede waaronder die vee aangehou is (Hilto, 2023).
Lees meer oor voedingsbeginsels met vee in ‘n presisieboerdery hier.
Met geruste verbruikers kan produsente hul markte behou of nuwe markte betree en meer voedselbewuste verbruikers bedien. Niemand ken egter die plaas beter as die produsent nie, en hierdie ekstra paar oë en ore is nie daar om hom of haar te vervang nie. Dit is eerder ‘n hulpmiddel wat die bestuursproses meer vaartbelyn maak.
Talle navorsers het al die gebruik van tegnologie in presisieveeboerdery en die verskillende parameters wat met behulp daarvan gekwantifiseer kan word, bestudeer. Tabel 1 bied ’n breë beeld van die moontlikhede wat tegnologie vir ‘n veeboerdery bied. Die inligting is saamgevat uit die bevindinge van Cui et al. (2024), Gonçalves, Monteiro en Santos (2021), en Kleen en Guatteo (2023).
Tabel 1: Moontlikhede wat tegnologie vir presisieveeboerdery bied.
Kategorie | Tegnologie | Aanwending |
Dieremonitering | Versnellingsmeters | Monitor dieregedrag en -aktiwiteit. |
RFID (radiofrekwensie-identifikasie) | Diere-identifikasie en opsporing. | |
GPS (globale posisioneringstelsel) | Volg dierebeweging. | |
Temperatuursensors | Monitor liggaamstemperatuur. | |
Kameras | Visuele monitering van dieregesondheid en -gedrag. | |
Gesondheidsmonitering | Biosensors | Neem siektes en fisiologiese parameters waar. |
Infrarooi termografie | Nie-ingrypende temperatuurmeting. | |
Outomatiese melkstelsels | Monitor uiergesondheid en melkgehalte. | |
Mikrofone | Spoor asemhalingstoestande deur middel van klankontleding op. | |
Reproduksie-bestuur | Hittewaarnemingstelsels | Identifiseer optimale dektye. |
Ultrasonografie | Dragtigheidsdiagnose. | |
Voerbestuur | Outomatiese voerders | Presisievoeding en inname-monitering. |
Rumensensors | Monitor rumen-pH and verteringsaktiwiteit. | |
Omgewingsbeheer | Klimaatsensors | Monitor en beheer binnenshuise klimaat. |
Ammoniaksensors | Meet ammoniakvlakke om luggehalte te verbeter. | |
Ventilasiestelsels | Reguleer lugvloei om optimale toestande te behou. | |
Produksiemonitering | Gewigskale | Volg diere se groei en gewig. |
Melkopbrengsmonitors | Monitor melkproduksie. | |
Eiertellers | Tel en bepaal die gehalte van eiers. | |
Databestuur | Plaasbestuursagteware | Integreer en ontleed data vanaf verskeie bronne. |
Wolk-rekenaargebruik | Berg en prosesseer groot datastelle. | |
IoT (Internet of Things) | Konnekteer verskillende toestelle vir intydse monitering. | |
Besluitondersteunende stelsels | Algoritmes vir masjiene | Ontleed data om besluite oor plaasbestuur te ondersteun. |
Voorspellingsanalise | Voorspel toekomstige tendense en potensiële probleme. |
‘n Laaste woord
Veeproduksie dra 42,3% tot Suid-Afrika se landbouproduksie by (DARRLD, 2024) en die veesektor moet derhalwe aangemoedig word om praktyke toe te pas wat die bedryf kan laat groei en verder tot Suid-Afrika se ekonomiese groei sal bydra. Presisieveeboerdery bied oplossings vir verbeterde doeltreffendheid en potensieel hoër opbrengste. In vandag se ekonomiese klimaat is marges klein, en presisietegnologie kan tot meer gewenste resultate en ‘n sterker bedryf lei.
Vir meer inligting of vir verwysings, kontak Siphiwe Tshabalala by TshabalalaS1@ufs.ac.za, of Meyer Van der Merwe by VanDerMerweM10@ufs.ac.za.