Die grootste uitdaging vir Suid-Afrikaanse vleisbeesboere is om hul koeie se dektyd so te beplan dat hulle in dié tyd kalf wat hulle die beste geleentheid gee om ’n kalf goed groot te maak en weer in die kondisie te kom om maklik dragtig te raak.

Die meeste van die land se vleisbeesboere draf saam voor as dit kom by die teel van geneties vrugbare diere, maar dit lyk asof baie van hulle nog nie die sinkronisasie van kalftyd met die optimale voedingstatus van die omgewing goed onder die knie gekry het nie, sê dr Danie Odendaal van Veearts-Netwerk.

Hy stem saam met Jurie Naudé, produkbestuurder van De Heus, dat koeie in ’n optimale kondisie moet wees tydens dektyd om die maksimum dragtigheid te verseker, maar voeg by dat produsente ook verder moet kyk om te verseker die koeie kalf wanneer die beste weiding beskikbaar is en wanneer hul voedingsbehoeftes die hoogste is.

Twee soorte plase

Danie sê daar is net twee soorte vleisbeesplase: Die een waar die bul die dink- en dekwerk doen, en die ander waar die produsent die dinkwerk doen en besluit wanneer die bul die dekwerk moet doen.

“Wanneer die bul die dinkwerk doen, gee hy nie om hoe die weiding lyk wanneer die koei nege maande later kalf nie. Die produsent se besluit oor wanneer die koeie moet kalf, is die belangrikste bestuursbesluit wat hy moet neem.

“Sowat ’n maand voor die begin van dektyd moet die koeie wat nie reg is vir dekking nie (te swak kondisie of toon nog nie staande hitte nie), geïdentifiseer word. Die produsent moet hierdie koeie in ’n aparte groep bestuur, want dit is hulle wat die kudde se dragtigheidspersentasie nadelig beïnvloed.

“Bulle moet voor dektyd vir vrugbaarheid en geslagsiektes getoets word en hulle moet ’n kondisiepunt van minstens drie hê. Hul dekvermoë moet in die eerste drie weke van die dektyd fyn dopgehou word,” verduidelik hy.

Daar is vier belangrike tydperke in die produksiesiklus van ’n vleisbeeskoei. Dit is:

 Kalftydperk en voorbereiding vir dek

Kritieke beheerpunte in dié tyd is die regte bestuur van koeie net voor en in kalftyd, die oorlewing van pasgebore en jong kalwers, die toets en voorbereiding van bulle en die voorbereiding van koeie vir ’n beperkte dektydperk.

In dié tyd moet die koei se geslagskanaal ná kalwing weer inkrimp, sy moet weer geslagsaktief raak en piek-melkproduksie behaal. Voeding is in hierdie tyd normaalweg beperk en baie goeie weiding is nodig vir dié belangrike voedingstydperk in die produksiesiklus. As daar nie genoeg weiding is nie, moet sy hooi kry en spoorelemente moet voor die aanvang van die dektyd toegedien word.

Dektyd en voorspeengroei van kalwers

Dit vereis die regte bestuur van bulle, koeie en verse in dektyd, die doeltreffende inenting van kalwers wanneer die biesmelk-beskerming verstryk en optimale groei voor speen moet volgehou word.

Danie sê bulle kan net koeie dek wat staande hitte toon. “Daarom is dit noodsaaklik dat koeie in dektyd reproduktief aktief en in ’n stygende liggaamskondisie moet wees vir optimale dragtigheid. Die beste weiding moontlik moet aan die begin van die dektyd beskikbaar wees, wat die koei in staat sal stel om vroeg dragtig te raak en steeds melk te produseer.”

Speentyd en dragtigheidsondersoeke

Die kalwers moet reg voorberei en met so min spanning as moontlik gespeen word. Goeie bemarking van die speenkalwers verseker verdere welslae. Ondersoek die koeie vir dragtigheid en evalueer hul reproduksieprestasie. Dit is ook die tyd wanneer vervangingsverse geselekteer moet word.

In die laaste derde van die koei se laktasie sal sy kondisie begin verloor as gevolg van die daling in die voedingswaarde van die weiding en voortgesette laktasie. Wanneer die koeie begin gewig verloor, kan ’n produsent begin om ’n lae-vlak proteïenaanvulling (oorgangslek) te gee. As die koei se kondisietelling onder 2,5 daal, moet die kalwers gespeen word. Dan kan ’n mens oorskakel na ’n hoëvlak-proteïen-byvoeding, wat sal help dat die koei genoeg (2% van haar liggaamsgewig per dag) van die droë weiding aanhou vreet.

Bestuur van droë koeie en voorbereiding vir kalftyd

Skot verse wat nie dragtig is nie uit, doen die jaarlikse inentings, begin ’n driejaarplan vir vervangingsverse en berei die verse en koeie voor vir kalftyd. In dié tyd moet die droë koeie vet opbou voor kalftyd, en dit is ook die tyd wanneer die fetus die vinnigste groei. Dié tyd is dus die tweede belangrikste voedingstyd in die produksiesiklus van vleisbeeste.

Aanvulling met ’n hoëvlak-proteïenlek moet voortgaan en diere wat teen dié tyd ’n kondisietelling van laer as 2,5 het, moet nou ook ’n energie- en spoorelement-aanvulling kry. Vitamien A moet van 30 tot 60 dae voor kalftyd begin, bygevoeg word.

Die optimale toestande vir die koeie om te kalf en weer dragtig te raak, is meestal beperk tot drie maande, wanneer goeie weiding beskikbaar is. Al die koeie moet dragtig raak wanneer goeie weiding beskikbaar is.

As boere hul koeie sinkroniseer en kunsmatige inseminasie op ’n vaste tyd doen, is die oogmerk om 50% van hulle op die eerste dag van die teelseisoen dragtig te kry. Altesaam 75% behoort dragtig te raak in die eerste hittesiklus (21 dae ná die begin van die teelseisoen) en 85% moet binne 45 dae dragtig wees.

Die vlak van voeding ses weke voor en ses weke ná dektyd bepaal grootliks die dragtigheidspersentasie van die teeltrop. Die bestuursdoelwit behoort te wees om die koeie se grootste voedingsbehoeftes te sinkroniseer met die tyd wanneer die beste weiding beskikbaar is.

Die regte kondisie

Jurie sê die kondisie is baie belangrik om te verseker dat koeie dragtig raak. “Te vet is net so nadelig as te maer. Die beste resultate word behaal as die kondisietelling van die koeie nie laer as 3 en nie hoër as 3,5 uit 5 is nie.

“Prikkelvoeding word gebruik om die proses van ’n maand of langer voor dektyd te bestuur. Prikkelvoeding moet egter nie vir diere met ’n goeie kondisie gegee word nie, aangesien hulle uiteindelik te vet kan raak. ’n Stygende kondisiefase tydens prikkelvoeding stimuleer diere om op hitte te kom.

“Daar moet ook baie aandag aan die gesondheid, voeding en dekbehendigheid van bulle gegee word. ’n Bul wat nie kan dek nie of die koeie nie dragtig maak nie, kan vir ’n boer baie groot skade berokken.

“As dektyd in die lente of somer val, het parasiete ’n groot invloed op die diere se gesondheid en moet die diere betyds voorkomend behandel te word. Alle inentings moet teen dektyd op datum wees en ingrypende hantering behoort nie net voor, tydens of net ná dektyd plaas te vind nie,” sê Jurie.- Andries Gouws, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak dr Danie Odendaal by 082 454 0532 of vnet@absamail.co.za, en Jurie Naudé by 079 090 7225 of JNaude@deheus.com.

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY