Kaas, wyn, boetiekbier, Boerbokvleis, skaapstertjies, afval en roomys . . . al dié lekkertes en meer wag by die Groot Plaasproe op Saterdag, 14 Oktober 2017, op die plaas Sandringham buite Stellenbosch.

Agri-Expo, organiseerder van die gewilde Suid-Afrikaanse Kaasfees, bied hiermee ’n splinternuwe proe-ervaring aan van alles wat die plaaslewe bied, vir beide stads- en plaasjapies. Besoekers kan uitsien na unieke kombinasies soos Bok & Bier (Boerbokvleis en boetiekbier langs die braaivleisvuur). Allerlei nisprodukte soos wyn, Karoolam-sosaties, roosterkoek, biefstuk, jogurt en roomys sal by die kos- en wynstalletjies te proe en te koop wees.

Skryf in vir die Groot Roomys-eet-kompetisie vir deelnemers van alle ouderdomme, of kry ’n span bymekaar vir die Groot Braai-kompetisie, waarvoor jy jou eie vleis kan saambring of by ’n stalletjie kan koop.

Die Groot Plaasproe vorm deel van die vierde Agri-Expo Livestock, ’n wêreldklas-tentoonstelling van die Suid-Afrikaanse vee- en suiwelbedryf, wat jaarliks duisende landbou-entoesiaste na Sandringham bring. Dit vind van Donderdag 12 tot Saterdag 14 Oktober 2017 plaas.

Kaartjies vir Donderdag en Vrydag se program is R60 per dag, R50 vir pensioenarisse en skoliere (14 tot 18 jaar), en gratis vir kinders van 13 jaar en jonger. Kaartjies is by Computicket en by die hek beskikbaar. – Livestock.org.za

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY