Skape wat baie goeie voeding ontvang, produseer sterker wol. (Foto’s verskaf deur BKB.)

Wanneer ’n produsent besluit om die skeerpatroon van sy wolskape te verander, kan dit ’n rits ekonomiese en ander implikasies inhou. Daarom moet die voor- en nadele deeglik opgeweeg word alvorens enige daadwerklike besluite geneem word.

Buiten goeie voorafbeplanning soos die bestel van wolsakke, vroegtydige bespreking van ’n skeerspan en dies meer, moet ’n produsent ook die skeerfrekwensies, oftewel skeerintervalle, van sy skape bepaal.

Die invloed van skeerintervalle op die winsgewendheid van sy diere se wol, hang van verskeie faktore af. Dit sluit in die tyd van die jaar, die lengte van ’n skaap se wol, klimaats- en voedingstoestande, asook dek- en lamseisoene. ’n Skeerdery kan byvoorbeeld nie in die lamseisoen of koudste wintermaande plaasvind nie, aangesien dit tot groot verliese kan lei.

Verskillende skeertye

Volgens Jacobus le Roux van BKB is die keuse om te skeer ’n plooibare een. Wanneer droogtetoestande byvoorbeeld op pad is en breekwol begin kop uitsteek, kan ’n produsent vroeër skeer.

“Tradisioneel het wolprodusente in die verlede een keer per jaar geskeer, en was die vagwol tien tot 12cm lank,” vertel Jacobus le Roux, hoofbestuurder van korporatiewe bemarking en openbare betrekkinge by BKB. “Die twee piektye was gewoonlik van middel Januarie tot middel Maart, asook van Oktober tot Desember, wanneer die hoogste skeerfrekwensie voorkom.”

Hy sê namate meer produsente kortwol begin skeer het, het dit baie meer afgeplat, en oor die algemeen word daar tans feitlik regdeur die jaar geskeer. “Jy vind nog enkele produsente wat jaarwol skeer, maar die meeste het oorgeslaan na agt- en tien-maande skeersels.”

Baie produsente in die suidelike en suidwestelike dele van die land – soos Bredasdorp, Caledon en Riviersonderend – skeer ses-maande wol, met ander woorde twee keer per jaar. “Ander produsente skeer agt-maande wol, wat daarop neerkom dat jy twee keer in drie jaar skeer. Sommige produsente skeer ook elke tien maande.”

Hy sê produsente kan die skeerpatroon op hul plase enige tyd verander na gelang van omstandighede. “Een groot voordeel van ’n wolskaap is sy aanpasbaarheid. In ’n droogte groei die wol gewoonlik stadiger en is die produksie per skaap minder. Maar die vesel groei ook fyner as gevolg van die droogte en die prys vergoed vir die laer produksie. Dié tipe wol staan ook soms bekend as ‘hongerwol’.”

 Die onderskeie skeertye word volgens twaalf-maande, tien-maande, agt-maande en ses-maande wolgroei ingedeel.

Langwolskeersels

Suid-Afrikaanse skeertye is tipies op twaalf, tien, agt en ses maande-wolgroei.

Langwolskeersels kom gewoonlik voor op plase waar die weidingstoestande gunstig is en byvoeding beskikbaar is. Dit word soos volg ingedeel:

  • Twaalf maande – die lengte is hoofsaaklik A-, maar ook AA- en B-lengtes.
  • Tien maande – die lengte is hoofsaaklik B-, maar ook A- en C-lengtes.

Voordele

  • ’n Besparing op skeerkoste omdat die skape net een keer per jaar geskeer word.
  • ’n Laer risiko van verliese weens blootstelling aan koue en reën.
  • Die bestuur van skaapboerdery word vergemaklik deur vaste reëlings met skeerspanne.
  • Skeersels word makliker en noukeuriger bewerk en geklas.
  • Die produsent geniet ’n prysvoordeel, wat aan ’n hoër skoonopbrengs en groter aanvraag toegeskryf word.

Medium-lengte skeersels

Medium-lengte skeersels kom in dele van die land met swakker voedingstoestande asook in saaistreke voor. Dit word soos volg ingedeel:

  • Agt maande – lengte hoofsaaklik C-, maar ook B- en D-lengtes.

Kortwolskeersels

Lammers het kort wol wanneer hulle die eerste keer geskeer word.

Kortwolskeersels kom voor in dele van die land met swakker voedingstoestande, saaistreke en bergagtige plase, waar ’n groot drag wol die diere beperk in hulle soeke na weiding. Dit word soos volg ingedeel:

  • Ses maande – lengte hoofsaaklik D-, maar ook C- en E-lengtes.

Voordele

  • Beter of meer gereelde kontantvloei.
  • Kortwolskape behou tydens ’n voedselskaarste beter kondisie as langwolskape.
  • Mikskeer by ooie word uitgeskakel.
  • Hoër vrugbaarheid as langwolskape tydens swakker voedingstoestande.
  • Droogtetoestande wat swakker wolgroei en tenger wol veroorsaak, noodsaak produsente om korter wol te skeer.
  • Wolbeskadiging kom minder gereeld voor, want verwering en stofindringing word beperk.
  • Kortwolskape gedy beter op natuurlike weidings met steeksaadplante en/of doringbosindringing.
  • Beter beheer van aanvalle deur uitwendige parasiete, soos brommers en skaapluise.
  • Minder toesig is nodig vir skape in swak kondisie of swaar-dragtige ooie wat verkeerd kan val.

Nadele

  • Verdubbelde skeerkoste wanneer skape elke ses maande geskeer word.
  • By skape met ’n redelike goeie woldigtheid en wolstaankrag behoort die tip van die wol wat op twaalf maande geskeer is, minder te wees as die gesamentlike tip in twee ses-maande skeersels – met laasgenoemde teen ’n laer prys as gevolg van laer skoonopbrengste.
  • Seleksie vir woleienskappe, soos lywigheid, staankrag, stapelformasie, tip en olievloei, is nie so maklik waarneembaar op ses-maande groei nie.

Eerder meer as minder

Isak Staats, hoofbestuurder van wol en bokhaar by BKB, se siening is dat korter skeerintervalle meer voor- as nadele het.

“Wol is vandag die waardevolste kommoditeit wat op enige plaas geproduseer kan word op ’n per-kilogram-grondslag. Korter skeerintervalle word gereeld deur produsente bevraagteken en die antwoord hierop strek baie wyer as net die finansiële implikasies wat so ’n besluit kan inhou.”

Oorwegings by korter skeerintervalle

  • Pas ’n verandering in die skeerpatroon by die ritme van jou boerdery? Skeertyd moet dikwels tussen die ander bedrywighede van ’n gediversifiseerde boerdery ingepas word. ’n Hele wolgroeiseisoen se werk kan gemaak of gebreek word danksy ’n produsent se betrokkenheid of gebrek aan aandag.
  • Weerpatrone en klimaat bepaal wanneer geskeer kan word. Die gevaarlikste maand in Suid-Afrika om te skeer, is September. As besluit word om na ’n agt-maande patroon oor te gaan, kan dit beteken dat elke derde skeer dalk in ’n hoë-risiko maand kan gebeur.
  • Groeitoestande deur die jaar bepaal hoeveel wol ’n skaap in die seisoen gegroei het. Dit kan beteken dat, tesame met klimaat, die skeertyd aangeskuif of bespoedig kan word, afhangende van hoe lank die wol al is en of daar dalk ’n breuk in die wol kan wees vanweë veranderde groeitoestande.
  • Die skeerkoste gaan bepaal of dit die moeite werd is om meer koste aan te gaan om die ekstra wol te skeer. Die duimreël is dat wolproduksie met ongeveer 15% toeneem. Op ’n skeersel van 4kg beteken dit 600g se wol meer teen R100/kg.
  • Beter kuddegesondheid, en daarmee saam vrugbaarheid, maak ’n verskil. Om ’n wolvag rond te dra, verg energie en ’n skaap wat vir korter tye van die jaar swaar aan wol dra, het meer energie vir lammers en wolgroei.
  • Genetiese lengte van wol: Wolskape is die afgelope jare sterk geselekteer vir ekstra lengte en die gemiddelde groeiwol in Suid-Afrika is 0,3mm per dag, of ongeveer 1cm per maand. Hierdie tempo begin vanaf ongeveer sewe maande ná skeer afneem. Dit lei daartoe dat ’n skaap met ’n genetiese geneigheid tot vinnige wolgroei, wat toegelaat word om twaalf maande te loop voor skeertyd, se wol te lank kan raak vir markvereistes. Wol langer as 85mm dra geen premie nie. Wol moet verkieslik ook nie korter as 65mm wees nie.

Vir meer inligting, kontak Isak Staats by 041 503 3111 of stuur ’n epos aan isak.staats@bkb.co.za.

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY