Brangus
Gerald Fletcher van FFT Brangus op die plaas, Tafelkop, in die Hofmeyr-distrik van die Oos-Kaap.

Estimated reading time: 8 minutes

‘n Mens sou kon redeneer dat die Brangus ideaal geposisioneer is om die mees suksesvolle vleisbeesras in die wêreld te wees. Die twee rasse waaruit die ras onwikkel het, verteenwoordig immers elkeen die toppunt van die eienskappe waarvoor dit bekend is – die Angus vir vleisgehalte en die Brahman vir gehardheid. Boonop is hierdie twee rasse onderskeidelik die grootste verteenwoordigers in die wêreld van Bos taurus en Bos indicus.

Brangus SA het verteenwoordigers uit elk van sy ses streke genomineer om deel te neem aan ’n bespreking oor die rol van die Brangus in winsgewende beesvleisproduksie. Die deelnemers aan die bespreking is:

  • Piet Botma van die Firth Red Brangus-stoet op die plaas, Highlands, naby Wolmaransstad in Noordwes.
  • Gerald Fletcher van FFT Brangus op die plaas, Tafelkop, in die Hofmeyr-distrik van die Oos-Kaap.
  • Urban Uys van Eike Brangus op die plaas, Die Eike, by Ermelo in Mpumalanga.
  • Francois Scholtz van Beswil Brangus op die plaas, Makwasi, in die Reitz-distrik van die Oos-Vrystaat.
  • Scott Marwick van Little Harmony Brangus op die plaas, Little Harmony, by Richmond in KwaZulu-Natal.
  • Jimmy Roberts van Triangle Farms by Hertzogville in die Vrystaat.
  • Brangus
    Gerald Fletcher van FFT Brangus op die plaas, Tafelkop, in die Hofmeyr-distrik van die Oos-Kaap.

Veeplaas het drie vrae aan hulle gestel.

Wat onderskei die Brangus as ’n winsgewende ras in jou streek?

Piet: Ek dink die vraag moet eerder wees wat alles ’n bydrae lewer tot winsgewendheid en of die sentrale streek hieraan voldoen. Ek dink onteenseglik dat die streek daaraan voldoen.

Vroulike diere in ’n vleisbeeskudde speel ’n belangrike rol in die inherente vermoë van die kudde om winsgewend te produseer. Vrugbaarheid, oftewel reproduksietempo (tussenkalfperiode, TKP) van die koeie asook voerdoeltreffendheid en koeigewig is belangrik. Die ideaal is ’n mediumraamdier met ’n goeie netto-voerinname (NVI).

’n Klein kalfie by geboorte verseker kalwingsgemak. Daarmee saam is goeie groei belangrik om ’n speengewig van so na as moontlik aan 50% van die moeder se gewig op 205 dae te bereik. Die verdere ideaal is vrugbare bulle wat gehard is. Die Brangus is boonop poena en het geen horings nie.

Betroubare teelwaardes vir genetiese seleksie is belangrik. Dit maak seleksie makliker, veral wanneer die beesras van Breedplan gebruik maak.

Optimale kalwergroei is nodig, aan-gesien die verkoopprys grotendeels afhanklik is van gewig. Nou is die Breedplan-syfers belangrik by 200- en 400-dae gewigte. Sodoende kan nie net die koeie nie, maar ook swak bulle wat ligte kalwers produseer, uitgeskot word.

Gerald: Myns insiens is Brangus-beeste besonders aangesien hulle uiters aanpasbaar is by enige omgewing. Die Oos-Kaap wissel van baie warm en droë toestande in die weste (Hofmeyr en Middelburg) tot nat toestande en baie koue winters in die ooste (Maclear en Matatiele). Die Brangus pas goed aan by die kustoestande van Oos-Londen en Port Elizabeth.

Weidingstoestande wissel van soetveld en gemengde Karoo tot suurgrasveld. Ons klub het suksesvolle telers en kommersiële produsente in al hierdie streke. Telers verkoop bulle aan kliënte uit alle provinsies wat getuig van die aanpasbaarheid van Brangus-beeste.

Verder is die Brangus ’n poenskopras wat die erge stres wat deur onthoorning veroorsaak word, uitskakel. Die kalwers word maklik aan voerkrale verkoop.

Urban: Die Brangus-ras is hoogs aanpasbaar en gehard. Dit is een van die hoofredes wat die Brangus onderskei as ’n winsgewende ras op die Hoëveld.
’n Aangepaste Brangus-koei se sterk moedereienskappe bring mee dat sy alles sal doen om haar kalf te beskerm. Dit beteken dat kalfverliese as gevolg van roofdiere afneem en tot groter winste lei. Die vroulike diere lewer ligte kalwers (kalwings-gemak) met goeie groei tot en met speen en ’n koei-kalfgewigsverhouding van 50%.

Die Brangus vaar goed in kruisteling in die area weens sy basterkrag wat goeie speenkalwers oplewer. Dit gaan gepaard met die poenageen wat gesog is onder voerkrale.

Francois: Die Oos-Vrystaat bied talle uitdagings. Dit is grotendeels suurveld met bitter koue winters en hoë insekladings in die somer. Ondanks die diverse uitdagings van ons streek, het die Brangus die vermoë om te presteer danksy die ras se gehardheid en aanpasbaarheid. 

Die vroulike diere het uitstekende moedereienskappe. Hulle lewer klein kalwers met goeie speengewig wat gesog is by voerkrale, omdat hulle so goed groei. 

Scott: Onderhoud, bestuur en bemarkingspotensiaal staan vir my uit. Brangus-beeste is geharde diere. Hulle is aanpasbaar en die kalwingsgemak tesame met goeie tempe-rament vergemaklik die onderhoud en bestuur van die kudde. Speenkalwers en slagdiere is gesog vir die gehalte van hulle vleis en maklike vleisvermoë.

Jimmy: Die Brangus-ras staan in ons omgewing uit weens koei-kalfspeengewig-
verhoudings. Ons spog met ’n speenverhouding van 50% plus van die ma se gewig, wat ons terugbring na die goeie moedereienskappe wat een van die ras se beste eienskappe is.

Om ons gras in vleis om te skakel, is die Brangus-ras die beste om die veld te benut en om geld te maak.

  • Brangus
    Francois Scholtz van Beswil Brangus op die plaas, Makwassie, in die Reitz-kontrei van die Oos-Vrystaat.

Vir watter eienskappe selekteer jy wat in jou streek en onder jou omstandighede bydra tot winsgewendheid?

Piet: Die Brangus in Noordwes voldoen beslis aan ons vereistes en daarom is dit absoluut winsgewend om met die ras te boer.

Ons weet almal dat bestuur en voeding ’n groot bydrae maak. Brangus-beeste is maklik om mee te werk en vergemaklik dus bestuur. Dit is dus voor die hand liggend dat seleksie sodanig plaasvind dat dit die genoemde punte aanspreek.

Gerald: My seleksieproses is gebaseer op ’n koei wat onder ekstensiewe toestande bestuur word en elke jaar ’n kalf produ-seer. Koeie kalf in die vroeë somer en kry gedurende die somer ’n fosfaatlek, met ’n proteïenlek wat gedurende die winter gegee word.

Brangus-kalwers is klein by geboorte en koeie ondervind byna geen kalwingsprobleme nie. Ons selekteer vir ’n medium-raamkoei (450 tot 500kg) en hulle moet ’n kalf speen wat 50% van die moeder se gewig bereik in ’n jaar met normale reënval. Verse word geselekteer vir goeie lengte van lyf, goeie diepte en breedte, goeie beenstruktuur en vroulikheid.

Bulkalwers loop in veldtoestande en slegs dié wat op die veld kan presteer en uitgroei, word behou en as teeldiere verkoop. Gehardheid is vir my baie belangrik.

Urban: Op die Hoëveld selekteer ek vir ’n mediumraamkoei met ’n gladde haarkleed wat elke jaar kalf. Weens die strawwe suurveld pas ’n mediumraamkoei net makliker aan en is goedkoper om te onderhou.

’n Gladde haarkleed dui op ’n koei wat aangepas is in haar omgewing. Die haarkleed maak dit ook moeiliker vir bosluise om vas te klou. As diere nie aanpas nie, val hulle maklik uit omdat die parasietlading hoog is. ’n Aangepaste koei sal elke jaar vir jou ’n kalf gee.

Francois: Ek selekteer eerstens vir vrugbaarheid en goeie moedereienskappe. Verder selekteer ek vir vroegryp, mediumraambeeste met goeie teelwaardes en wat fenotipies korrek is. Goeie loopvermoë is belangrik. Bulle wat ingekoop word, word aan dieselfde kriteria gemeet.

Scott: Ek selekteer vir ’n doeltreffende koei wat in die kudde kan bly en goeie plaasvervangers grootmaak. Vrugbaarheid, speengewig, volwasse koeigewig en melk is die eienskappe waarop ek fokus. Ek het meer klem op koei-kalfverhouding begin plaas en oor die jare het dit die koeigrootte afgebring, met speengewigte wat relatief konstant gebly het.

Ons stelsel kan groterraamdiere dra, maar oor die algemeen presteer meer gematigde koeie beter. ’n Doeltreffende kudde maak voorsiening vir ’n toename in getalle per hektaar en ’n toename in kalwers wat jaarliks gespeen word.

Jimmy: Ek selekteer sterk vir gehardheid wat hand aan hand met loopvermoë gaan. Ons drakrag hier is een grootvee-eenheid (GVE) op 12ha. Ons beeste moet dus ver kan loop om die weiding te benut. Verder is vrugbaarheid en aanpasbaarheid vir my belangrike eienskappe.

Is daar, na jou mening, subtiele verskille in seleksie in verskillende streke om voorsiening te maak vir die diverse omstandighede in die land?

Piet: Ek glo dat seleksie in die meeste streke dieselfde sal wees want die Brangus-ras is bekend vir ’n aantal sterkpunte soos poena, klein kalfies by geboorte, goeie speengewig en geharde diere met goeie moedereienskappe.

Ek voel tog dat in streke waar weiding beter en meer vrylik beskikbaar is, produsente vir effe groterraamdiere sal selekteer. In die sentrale streek is seleksie meer op mediumraam gefokus. Produsente wat op moeilike terrein boer, soos in die berge, sal verseker meer fokus op diere se loopvermoë.

Gerald: Ek dink nie daar is enige subtiele variasies in teel- of seleksiebeleid onder telers nie. Ons wil almal ’n funksionele dier hê wat nageslag met minimum insetkoste en aandag kan produseer. Ons wil ’n dier hê wat gras/voer kan omskep in gehalte beesvleis. Die Brangus-ras kan dit doen.

Urban: Ek is van mening dat daar wel subtiele verskille in seleksie tussen die verskillende streke voorkom weens die tipe veld en parasiete en siektes. Diere se voedings-behoeftes gaan tussen die suur- en soetveldstreke verskil. Diere in elke streek moet kan aanpas by die parasiete wat daar voorkom, sodat weerstand kan ontwikkel. Dit is waarom die Brangus ’n goeie keuse is: Hulle pas gemaklik aan in enige streek en daar word regoor die land winsgewend en suksesvol met hulle geboer.

Francois: Ek is oortuig dat die Brangus-ras oral in Suid-Afrika kan aanpas. Maar ja, daar is na my mening subtiele verskille in seleksie.

Telers in verskillende gebiede sal waarskynlik grotendeels vir dieselfde basiese eienskappe teel en selekteer, maar mag dit nodig vind om meer klem te lê op sommige eienskappe wat belangrik is vir die area waarin hy of sy boer. In ’n berg-agtige gebied, byvoorbeeld, sal die bees se loop- en klimvermoë belangriker wees. In die warmer soetveld sal raamgrootte dalk minder belangrik wees as in die koue suurveldstreke. 

Scott: Ek dink omgewing speel die grootste rol in seleksie en die produsent baseer sy/haar besluit op wat die beste by hul area pas.

Jimmy: Ek dink die eienskappe wat ek in die vorige antwoord genoem het, is van die belangrikste eienskappe regdeur die land en dit lei alles tot winsgewende beesboerdery. Dit is tog waarna elke produsent smag. – Izak Hofmeyr, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak  Piet Botma by 082 669 4129, Gerald Fletcher by 084 511 4280, Urban Uys by 072 240 6593, Francois Scholtz by 082 497 8676, Scott Marwick 072 636 1154 en Jimmy Roberts by 076 428 4567.  Vir meer inligting oor die Brangus-ras, besoek www.brangus.org.za of volg die genootskap op Facebook.