Soos by talle ander genootskappe en geleenthede ook die geval was, moes Bonsmara SA reeds in 2020 die moeilike besluit neem om sy spoggerige Die Rooi Rasgeleentheid en die Nasionale Vroulike Diere-veiling af te stel. Die nasionale veiling was reeds in die weegskaal weens die bek-en-klouseer-uitbreking van vroeër en die veilingsverbod wat daarop gevolg het. Daarna het Covid-19 toegeslaan, en was die veiling en spoggeleentheid nie op die boeke vir 2020 en 2021 nie.

Read it in English.

Daar word dus vanjaar met groot opwinding na dié Rooi Ras-geleentheid en Nasionale Vroulike Diere-veiling uitgesien. Hierdie uitskietergeleentheid sal op 16 Maart 2022 by Stonehenge River Lodge in Parys aangebied word.

Die Rooi Ras-geleentheid

Soos altyd sal Die Rooi Ras-geleentheid die plek wees waar alle vleisbeesentoesiaste op die oggend van 16 Maart saam kan luister na top kundiges wat oor huidige tendense in die landboubedryf sal gesels, asook watter geleenthede en uitdagings in 2022 wag.

Lees Dié Rooi Ras.

Onder die sprekers is die bekende landbou-ekonoom, Theo Vorster, wat gehore altyd met genoeg stof tot nadenke laat.

Bonsmara SA Nasionale Veiling

Na twee jaar se afwesigheid is dit ’n voorreg om weer die uiters gewilde Bonsmara SA Nasionale Vroulike Diere-veiling aan te bied. Die veiling is ’n staande hoogtepunt op die landboukalender, en die aanbod van top vroulike genetika van regoor die land lok jaarliks kommersiële en stoettelers van heinde en ver.

Die veiling beloof om vanjaar weer ’n eersteklas geleentheid te wees, met beproefde genetika van telers uit elke provinsie in die land. Die standaard vir die veiling is altyd van die hoogste. Diere wat vir die nasionale veiling geselekteer word, word nie net op die plaas reeds ondersoek nie, maar word wéér ’n dag voor die veiling nagegaan. Dit verseker dat al die vroulike veilingsdiere funksioneel doeltreffende diere is – kenmerke wat die Bonsmara die grootste ras in Suid-Afrika oor die afgelope 58 jaar gemaak het.

Die uitstekende resultate wat in die 2021-veilings behaal is laat dit duidelik dat Bonsmaras in groot aanvraag in die Suid-Afrikaanse beesbedryf is, met veral vroulike diere wat aan die voorpunt staan.

’n Nuwe bymekaarkomplek

Bonsmara SA sien ook baie daarna uit om besoekers vanjaar op ’n nuwe perseel te verwelkom. Stonehenge River Lodge in Die Bonsmara SA Nasionale Veiling is terug! Parys is die asemrowende nuwe bymekaarkomplek
vir beide die geleentheid en veiling.

Stonehenge is op die oewer van die Vaalrivier geleë, met pragtige oop spasies en wêreldklas konferensiegeriewe en verblyfopsies. Met die goeie reëns wat ons hierdie somer in die Vrystaat ontvang het, is ons geseënd om vanjaar ons veiling en konferensie reg langs ’n vol Vaalrivier te hou.

Bonsmara SA nooi almal uit om op 16 Maart 2022 saam met ons te kom kuier. Dit beloof om ’n leersame oggend te wees vir elkeen wat ’n liefde vir landbou en veral vir beeste koester. Daar is natuurlik ook die aanbieding van uitstaande vroulike diere wat vir enige kudde – hetsy kommersieel of stoet – uitstekende waardetoevoeging sal wees. Maak dus seker jy loop nie hierdie geleentheid mis nie!

Datum: 16 Maart 2022
Plek: Stonehenge River Lodge, Kopjeskraalpad, Parys
Tyd: Die Rooi Ras-geleentheid: 08:30
Nasionale Vroulike Diere-veiling: 12:00
Navrae: Bonsmara SA-kantoor, 051 448 6084 of info@bonsmara.co.za.