HomeMagazinesDie bestuur van afvalwater in die melkbedryf

Die bestuur van afvalwater in die melkbedryf

Estimated reading time: 4 minutes

  • Die Suid-Afrikaanse Suiwelstandaard-agentskap (SSA) het die maatreëls vir ’n kostedoeltreffende benadering tot die vermindering van kontaminante in afvalwater by melkerye van nader bekyk.
  • Die primêre melkproduksie- en melkverwerkingsektore word met ’n beduidende hoeveelheid afvalwater geassosieer.
  • Mikro- en makro-alge word in ‘n proses bekend as fikoremediëring aangewend om kontaminante te verwyder.
  • Navorsing dui daarop dat die meeste afvalwaterstelsels wat op plase gebruik word, uit basiese slikpoele bestaan waarin afvalwater gestoor en dan as besproeiing en/of bemesting gebruik word.
  • Dit is dus belangrik om te verstaan hoe afvalwater op die plaas en verder af in die waardeketting gemitigeer kan word.

Die Suid-Afrikaanse Suiwelstandaard-agentskap (SSA) het tydens ‘n onlangse webinaar, die maatreëls vir ’n kostedoeltreffende benadering tot die vermindering van kontaminante in afvalwater by melkerye van nader bekyk.

Jon McCosh, ’n omgewingsnavorser, en drs Ncumisa Mpongwana, Faiz Ahmad Ansari en Lohith Kumar Dasarahally Huligowda, drie postdoktorale navorsers by die Instituut vir Water- en Afvalwatertegnologie (IWWT) aan die Durbanse Universiteit van Tegnologie (DUT), het hul bevindinge oor veldproewe op melkerye se afvalwater bespreek. Die proewe sluit die aanwending van makro- of mikro-alge as ‘n bestuursmaatreël in. Die DUT-IWWT staan aan die voorpunt van verskeie innovasies in water- en afvalwaterbestuur

McCosh en die DUT-IWWT is reeds drie jaar betrokke by ’n navorsingsprojek in die KwaZulu-Natalse Middellande wat deur Melk SA en die Britse Joint Nature Conservation Committee (JNCC) ondersteun word. Die projek fokus op voldoening aan omgewingsregulasies en beste praktyke om die potensiële negatiewe impakte van afvalwater op die natuurlike omgewing te mitigeer.  

Volgens McCosh word die primêre melkproduksie- en melkverwerkingsektore met ’n beduidende hoeveelheid afvalwater geassosieer. Sleutelkomponente van afvalwater, veral by groot produsente en verwerkers, is die aansienlike hoeveelhede nitrate, ammonium, fosfate, gesuspendeerde vastestowwe, en ’n wye reeks potensiële patogene afkomstig van besmette of siek diere. Die bedryf werk ook met geslote wasproses (CIP)-chemikalieë en hoogs-organiese stowwe in afvalwater wat met chemiese en biologiese suurstofvereistes geassosieer word. Dit alles kan ’n negatiewe impak op waterbronne, grondgesondheid en grondproduktiwiteit tot gevolg hê.  

Studiedoelwitte en -resultate

Mikro- en makro-alge word in ‘n proses bekend as fikoremediëring aangewend om die nutriënte in suiwelafval in biomassa te omskep en kontaminante te verwyder. Die hoofdoelwitte van die onlangse studie by vier melkplase en twee kleinskaalse verwerkers in KwaZulu-Natal, was om ’n beter begrip te ontwikkel van afvalwaterstelsels en gepaardgaande praktyke. Die navorsingspan het die fisikochemiese eienskappe van afvalwater en moontlike seisoenale variante daarvan geëvalueer. Op grond hiervan is veld- en laboratoriumstudies oor die lewensvatbaarheid van alge as ‘n moontlike ‘groen’ oplossing vir die behandeling van afvalwater op melkplase en by verwerkers, onderneem.

Die navorsing wat tot dusver gedoen is, dui daarop dat die meeste afvalwaterstelsels wat op plase gebruik word, uit basiese slikpoele bestaan waarin afvalwater gestoor en dan as besproeiing en/of bemesting gebruik word. Die navorsing toon ook dat ’n risiko bestaan ten opsigte van grond- en waterkontaminasie indien hierdie afvalwater nie korrek bestuur word nie. In gevalle soos die onlangse nat somer wat deur die afloop van aansienlike volumes oppervlakwater gekenmerk is, kan afvalwater potensieel in waterliggame versamel. Dit sal ’n negatiewe impak op grond- en oppervlakwaterhulpbronne hê.

Dit is dus belangrik om te verstaan hoe afvalwater op die plaas en verder af in die waardeketting gemitigeer kan word.

Praktiese aanwending

Die volgende aspekte het tydens die veldproewe en toets van afvalwater op die vier melkplase aan die lig gekom:

  • Ingevolge die Nasionale Waterwet, 1998 (Wet 39 van 1998) het die afvalwater wat geoormerk was vir besproeiing, die toegelate konsentrasies vir spesifieke kontaminante oorskry.
  • Die alge het potensiaal getoon as ’n behandeling vir suiwelafvalwater en -prosesse.
  • Alge wat in damme groei kan stowwe vervaardig wat vir ’n verskeidenheid doeleindes gedroog kan word, waaronder veevoer, biobrandstof en biobemesting.
  • Alge kan verbou word met die doel om kontaminante in afvalwater te verminder.
  • Fikoremediëring kan doeltreffend in die konteks van melkproduksie aangewend word, maar verdere navorsing, aanpassings en ondersoeke is nodig om te bepaal hoe dit in veral grootskaalse melkproduksie-ondernemings aangewend kan word.  
  • Ondersoek moet ook ingestel word na ‘n wegbeweeg vanaf enkel- na multi-damstelsels en om die alge by verskillende omgewingsomstandighede aan te pas, veral teen koue temperature.
  • Afgesien daarvan dat die gebruik van alge aangepas moet word, is verdere navorsing nodig oor die aanpassing van die enkeldamstelsel (met afvalwater wat direk op weiding besproei word) tot ’n stabiliseringsdamstelsel. Hier moet ag geslaan word op potensiële kwessies wat betref die drempels wat deur die Waterwet bepaal word.

‘n Paar van die vooruitsigte wat oorweeg kan word wat betref fikoremediëring is:

  • Laktoïede: Die produksie van melksuur, bio-etanol en prebiotika uit laktose.
  • Voedingstowwe: Herwinning van stikstof en fosfor vir kunsmisproduksie.
  • Biogas en biowaterstof: Generering van hernubare energiebronne vanuit suiwelafval.
  • Enkelselproteïene: Produksie van proteïene vir veevoer sowel as ander bioprodukte.
  • Waterherbruik: Herwinning van water vir industriële prosesse en besproeiing.

Carin Venter, Plaas Media

Vir meer inligting oor SSA se webinaarreeks, skakel 012 665 4250 of stuur ’n e-pos na jacqueline@dairystandard.co.za of info@dairystandard.co.za.

Stamboek Times Mei 2026

Die jongste weergawe van SA Stamboek se nuusbrief, Stamboek Times, is nou beskikbaar. In die Mei-uitgawe kan lesers uitsien na...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 1 minute Johan van den Berg is weer terug op sy pos met sy weeklikse weersake-gesprek met...

RSG Landbou: 14 Mei 2026

In vandag se RSG Landbou vind ons meer uit oor die jaarlikse Agri’s Got Talent-kompetisie, die 2026 LRF Veeskool...

LandbouRadio: 14 Mei 2026

In Donderdag, 14 Mei se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Christal-Lize Muller van Plaas Media gesels met Francois...

Die edel boegoe van Uitkyk

Estimated reading time: 5 minutes Daar is feitlik niks wat Jan-Louw du Plessis en sy ma, Elsabé du Plessis, van...

RSG Landbou: 13 Mei 2026

In vandag se RSG Landbou vind ons meer uit oor die reën wat die Noord-Kaap ontvang het en ons...

Keep exploring...

Landboumarkte: Mei 2025 Die styging in skaapvleispryse begin taan

Estimated reading time: 3 minutes Gedurende Mei 2025 het ons gesien hoe die rand stelselmatig teenoor die Amerikaanse dollar versterk het en die maand afsluit...

Landboumarkte: Junie 2025 Goeie stygings in A2-beesvleispryse gesien

Estimated reading time: 3 minutes Gedurende Junie 2025 het die rand met sowat 20 sent teenoor die Amerikaanse dollar versterk en die maand afgesluit op...