Estimated reading time: 5 minutes

Doeltreffende waterbestuur, veral ten opsigte van die beperking van vloedskade in besproeiingsgebiede, is noodsaaklik en in die belang van voedselsekerheid in Suid-Afrika. Daarmee saam moet besproeiingsboere watersekerheid hê om hul oeste op die landerye te beskerm. So sê Joseph Swanepoel, ‘n besproeiingsboer van Graan SA se Streek 8 (Bela-Bela, Ellisras, Dwaalboom, Rustenburg, Brits, Thabazimbi en Pretoria).

Besproeiingsboere is verantwoordelik vir die voorsiening van tot 45% van die land se stapelvoedsel in droogtetydperke en sowat 98% van die land se jaarlikse groentevoorraad. In sy hoedanigheid as direkteur van die landboumaatkskappy, Obaro, het Swanepoel tydens Graan SA se jaarkongres op Nampopark aan AgriOrbit gesê insetverskaffers het ook die sekerheid van voldoende vloedbeheer en die beskikbaarheid van water aan die besproeiingsbedryf nodig.

Damme in die gebied

Swanepoel, ook voorsitter van die Krokodil-Wes Besproeiingsraad, boer op die plaas, Rooisloot. Die plaas is tussen Brits en Thabazimbi by Koedoeskop geleë. Hy boer met mielies, koring, sojaboon, droëbone en pekanneute. Die Pienaarsrivier eindig op sy plaas met die samevloei in die Krokodilrivier, terwyl die Apies-, Plat- en die Sand-riviere daar naby in die Pienaarsrivier bokant Klipvoordam invloei.

Volgens Swanepoel val die Vaalkop-, Roodekoppies-, Klipvoordamme asook die Hartebeespoort-, Rietvlei, Roodeplaat- en die Bon Accorddamme, wat hoër in dié besproeiingsraad se gebied geleë is. Buite dié gebied lê die Olifantsnek-, Bospoort-, en Buffelspoortdamme, wat ‘n direkte invloei na die Roodekoppies- en die Vaalkopdamme het. Weens verstedeliking, teerstrate en huisdakke, is die waterafvloei-intensiteit in hierdie gebiede baie verhoog.

Lees meer oor die department van waterwese se onlangse hofsaak.

Identifiseer probleme

Swanepoel sê vloedskade is in die afgelope tien jaar in hierdie gebied tot die minimum beperk deur middel van ‘n model wat dié raad en produsente in samewerking met die regering ontwerp het. Hierdie noodgedwonge plan werp danksy goeie samewerking vrugte af. Onder andere behels die model dat probleemareas, soos die feit dat slegs twee damme kruinsluise het, eers geïdentifiseer moes word.

“Ons kon net water in hierdie twee damme beheer en in die res glad nie. Dit kom daarop neer dat vloedwater onbeheersd uit die ander damme gespoel het.”  Die gevolg is dat sluislose damme soos die Klipvoor en Vaalkop se walle kan oorloop, terwyl damme met sluise soos die Roodekoppiesdam, se water bestuur moet word sodat daar nooit gesamentlik té veel water in die rivier afloop nie. Die water moet gereguleer word sodat dit om die beurt af kan loop.

Lees meer oor watersekuriteit.

Beheer van sluise maak bestuur makliker

Volgens Swanepoel, het hulle meetplate in die riviere geplaas wat in die opvangsgebied van die damme invloei, sodat waterinvloeilesings op enige gegewe tyd wanneer dit reën geneem kan word. “Dit gee aan ons ‘n 14-uur voorsprong na die Roodekoppiesdam, waartydens sluise betyds oopgemaak kan word. Ons weet nou al as 12 sluise by die Roodekoppiesdam oopgemaak word, is daar geen vloedskade nie en water bly binne die rivierwalle.”

Hy sê watervloei uit die Roodekoppiesdam moet so beheer word dat wanneer water in die Klipvoordam onbeheersd oor die wal stroom omrede daar geen kruinsluise is nie, word die water in die Krokodilrivier verminder sodat dit nie die totaal van 12 sluise in die rivier oorkry nie en/of die Pienaarsrivier blokkeer om uit te loop nie. “Dit kan slegs gedoen word omdat ons die kapasiteit in Roodekoppiesdam geskep het om addisionele water te kan akkomodeer.

 Dit is hoe die Roodekoppiesdam, met ongeveer 20 en 25% bergingsvermoë, wat nie benut word nie, in die somer bestuur word. Hy sê indien die Hartebeespoortdam se sluise oopgemaak word en of baie reën, word daardie bergingsvermoë ten volle benut. Die Departement van Waterwese was aanvanklik nie ingenome met dié model nie, omrede die departement se beleid vereis dat damme op ‘n volle bakmaat bestuur moet word, maar dan kan geen beheer toegepas word nie. Swanepoel sê na lang besprekings en samewerking kon die raad egter daarin slaag om die regering te oortuig om hierdie huidige model te ondersteun.

Skep opgaarruimte

Swanepoel sê dit bly egter uiters noodsaaklik dat bykomende sluise in samewerking met die staat in damme in hierdie gebied geplaas word, want die Medupi-kragsentrale gaan staatmaak op 80 miljoenkubieke meter water uit hierdie waterstelsel. Daar moet ook dringend werk gemaak word van die skep van ‘n groter vermoë vir opgaarruimte.

“As sluise in die Vaalkop- en Klipvoordamme geplaas word, sal daar genoeg water beskikbaar wees sonder om enige negatiewe uitwerking op voedselsekerheid te hê.” Daarmee saam is daar in die benede Krokodilrivier ook ‘n geskikte plek by Vlieëpoort om ‘n dam te bou wat 40 miljoen kubieke meter water kan berg. “Indien die huidige keerwal, wat beplan word, na sewe meter verhoog word kan die 40 miljoen kubieke meter water geberg word. Dit sal watervoorsiening aan die Medupi-kragsentrale verseker en ook ongeveer 10 000ha se addisionele landbougrond onder besproeiing plaas.” – Christal-Lize Muller, AgriOrbit

Vir meer inligting kontak Joseph Swanepoel by 083-759-2373 of josephs@obaro.co.za.