Die karteling van wol speel al vir baie jare ’n belangrike rol by die seleksie van wolskape. In die verlede was dit ook ’n handige hulpmiddel om die gemiddelde veseldikte van ’n vag te skat.

Die ontwikkeling van toerusting om veseldikte te bepaal, het sake oor die jare vergemaklik. Die vraag is egter of wolkarteling steeds ’n noodsaaklikheid in moderne wol is.

In die verlede was skaapklassers daarvan oortuig dat vagte eg aan sekere bloedlyne of stoettipes moes wees. Die vag moes ’n sekere kartelfrekwensie hê en daar is uiteraard gepoog om ’n egalige kartelfrekwensie te teel.

BKB se wol- en opleidingsbestuurder, Robert Scott, het ’n groot liefde vir wol. Hy het onlangs met ’n hele paar interessanthede oor karteling in moderne wol vorendag gekom.

“Deesdae word veseldikte op verskeie maniere bepaal. Ek het gaan kyk hoe skaapklassers die kartelfrekwensie hanteer om te sien of dit nog waarde in wolklassering en ’n uitwerking op wolverwerking het.”

Volgens hom speel die oorerflikheid van karteling ’n redelike rol. “Oorerflikheid kan relatief maklik verander word, en bepaal ook of wol met ’n breë, of minder, karteling ’n langer Hauteur sal gee.”

Wat gebeur met ander woleienskappe, soos veseldikte, wanneer ’n kudde se karteling verander? Daar is geen objektiewe bewys van ’n verhouding tussen karteling en veseldikte nie.

Robert reken dat as slegs vir fyner veseldikte in ’n kudde geselekteer word, daar geen verskil in die kartelfrekwensie sal wees nie, dus ondergekartelde wol. “Navorsing deur dr Ian Purvis van Australië toon dat die verhouding tussen karteling en vagmassa ietwat meer kompleks is. Die studie kom daarop neer dat seleksie vir vagmassa diere met ’n lae kartelingfrekwensie produseer.”

Karteling verhoog aanvraag

“Een woleienskap wat veral by Merino’s voorkom, is karteling wat die voortreflikheid van wol as tekstielvesel verhoog. Die teorie verwys na die spiraalvormige groeiwyse van vesel.”

Robert deel ook meer inligting oor die veselkorteks. “Dit bestaan uit twee dele, naamlik die para-korteks en orto-korteks. Hulle verskil in hul samestelling en eienskappe, en die spiraalvormige groeiwyse is veral by pasgebore lammers duidelik sigbaar. Namate die vesels gevorm word, neem meervlakkige kartels in die stapel die voorkoms van reëlmatige eenvlakkige golwe of kartels aan.”

Grade van karteling

Die kartelverhouding en die diepte van karteling kom in drie grade voor:

  • Vlak kartels: Dié tipe kartels word by wol wat neig om reguit te wees, aangetref.
  • Normale kartels: Kartels wat byna halwe sirkels vorm en merendeels by Merino’s voorkom.
  • Diep kartels: ’n Tipe kartel by toutjiesagtige en veral waterige wol wat dikwels op die pens van die skaap aangetref word. In die stapel wek sulke wol die indruk dat dit kort is, hoewel dit ’n bevredigende reguit lengte kan hê.

“Fyn en sterk wol het dieselfde kartelverhouding. Met ander woorde, die kartelverhouding is nie afhanklik van die fynheid van wol nie, maar slegs van die graad of diepte van die karteling.”

Karteling-variasies

Net soos veselfynheid, wissel karteling en die aantal kartels per eenheidlengte van vesel by die verskillende dele van die liggaam. Hy som die voordele van karteling soos volg op:

  • Karteling dien as ’n aanduiding van veselfynheid, maar moet met inagneming van aanvoeling gepaard gaan.
  • Dit dien ook as ’n aanduiding van die gehalte en treksterkte van wol, of soos per definisie – die duidelikheid en reëlmatigheid van karteling oor die lengte van die stapel, met inagneming van die aanvoeling van die wol as ’n aanduiding van gehalte, gesonde groei en dus goeie treksterkte.

“Die kartelvorm van vesel het ’n gevoelige invloed op die styfheid van die vesel.” Hier verwys Robert na die weerstand van enkelvesels teen uitrekking en dat dit ’n belangrike maatstaf vir die styfheid (staankrag) van wol is, wat op die volgende wyses deur kartelvorm beïnvloed word:

  • Vir dieselfde veseldikte, bied vlakker kartels groter weerstand teen uitrekking as dieper kartels.
  • Weerstand teen uitrekking neem toe namate die getal kartels per 25mm vermeerder, mits die veseldikte en verhouding van reguit lengte tot die gekartelde lengte dieselfde bly.
  • Vir dieselfde kartelvorm neem weerstand teen uitrekking toe namate die vesels dikker word.
  • Baie kartels per 25mm gaan normaalweg met ’n fyn vesel gepaard en omgekeerd. Daarom bied fyn en sterk vesels naastenby dieselfde weerstand teen uitrekking, mits die normale verhouding tussen karteling en veseldikte gehandhaaf word.
  • Dun vesels met groot kartels het ’n laer weerstand teen uitrekking, terwyl dik vesels met fyn kartels hoër weerstand teen uitrekking bied (’n afwyking van die Deurden-standaard).

’n Voordeel van karteling is dat dit die aankleefbaarheid en spineienskappe van wol verhoog. “Dit bewerkstellig meer punte van aanraking tussen vesels en ’n groter onderlinge aankleefbaarheid. Vesels word beter geweef of gespin omdat dit moeiliker by mekaar verby gly. Minder oorslag is nodig en ’n sterker garing word verkry.”

Karteling verleen ook rekbaarheid aan die weefgaring en vesels, sonder dat dit self uitgerek hoef te word. “Dit verminder die breek van vesels in die kam- en verwerkingsprosesse, en verleen dus veerkragtigheid en volheid aan die kleedstof, asook lywigheid en deurlugtigheid sonder om dit swaar te maak.”

Elastisiteit

’n Uitsonderlike kenmerk van wol is elastisiteit. Uitgerekte wolvesel kan tot sy oorspronklike lengte terugkeer nadat die spanning verwyder is. “Die kettingmolekules wat nagenoeg parallel met die lengte van die vesel lê, is spiraalvormig gerangskik. Wanneer die vesels uitgerek word, word die spiraalmolekules, soortgelyk aan ’n spiraalveer, uitgerek. Verwyder die spanning, en dit keer na die oorspronklike posisie terug.”

Wolvesels kan ook tot 30% van hul oorspronklike lengte gerek word, sê Robert, sonder dat die vesel permanent vervorm of beskadig word, mits die tyd wat die spanning op die vesel toegepas word, kort is.

Vormbaarheid

’n Belangrike woleienskap is dat dit vormbaar is. Hoe meer volmaak die spiraalvormige molekules onderling gerangskik is, hoe stadiger is die spoed van verlenging en omgekeerd. Die spoed van verlenging is ook stadiger as meer kruisbindings aanwesig is.

Robert meen die vormbaarheid van wol is ’n baie gevoelige aanduiding van die kristallyn of amorfe-samestelling, asook die mate van kruisbindings. “Vormbaarheid verskil aansienlik by verskillende tipes wol. Navorsing het getoon dat die vesels wat eerste in die dier se vel geproduseer word, wat deur die sentrale primêre follikels gevorm word, die laagste vormbaarheid toon.”

Ontkarteling

Bogenoemde verteenwoordig die verlenging van vesel as gevolg van karteluitrekking. “Goeie karteling in die vesel wat nie maklik tydens die vervaardigingsprosesse uit die vesel verdwyn nie, is wenslik,” aldus Robert.

“Die elastisiteit- of styfheidsgraad is die gedeelte van die kurwe waar die wet van Hooke geld, naamlik dat krag eweredig aan verlenging is.” Hy noem dat hierdie gedeelte van die kurwe ’n reguit lyn behoort te wees, terwyl die helling van dié kurwe-gedeelte die weerstand van die vesel teen uitrekking weerspieël. “Hoe steiler die helling, hoe moeiliker rek die vesel.”

Die lengte van die reguit gedeelte van die kurwe toon die perke waarbinne vesel onmiddellik en volkome na die oorspronklike lengte terugkeer ná die verwydering van spanning. “ ’n Hoë waarde van elastisiteit-modulus, of veselstyfheid, bring dus mee dat kleedstowwe voller voel en goed drapeer, asook kreukelvryheid aan materiaal verleen.”

Veselkurwe en kartelfrekwensie

Die nuwe gonswoorde is “veselkurwe” en “kartelfrekwensie”, wat voordele ten opsigte van produksie, verkope en verwerking met die kurwetoets inhou.

Robert is van mening dat nog baie werk gedoen moet word met onder andere standaardisering van apparaat, monsternemings en prosedures. “Om die vorming van kartelfrekwensie en veselkurwe te verstaan, moet na die ontwikkeling en samestelling van ’n wolfollikel gekyk word. In Suid-Afrika het ons ’n vesel wat slegs ’n maksimum van 1,5% van die totale tekstielmark vorm, terwyl hoër eise ook voortdurend aan wol gestel word.”

Navorsers bepaal watter eienskappe in die verwerkingsprosesse belangrik is. Die geskiktheid van wol met die oog op verwerking en die eindproduk word deur ’n reeks individuele en gesamentlike veseleienskappe bepaal, naamlik die tipe karteling, veseldikte, vesellengte, treksterkte, ensovoorts. Om die stelling te regverdig, verwys Robert na die Franse wat kunsmatige kartels deur middel van ’n chemiese proses by wol aanbring en dat dit op die ou end oor baie min natuurlike kartels beskik.

Hy verwys na navorsing wat bewys het dat wol wat aan die Deurden-standaard voldoen, min probleme in die verwerkingsprosesse gee en ’n beter eindkommoditeit tot gevolg het. “Eienskappe soos saamdrukbaarheid, verviltingsvermoë, veerkragtigheid en die drapeervermoë van die eindproduk is van besondere belang, en word deur die kartel- en veseldikteverhouding van wol bepaal.”

Oor- en onderkarteling

Goeie gehalte wol is steeds ’n voorvereiste by wolkopers en fabrieke, en word op grond van goeie aanvoeling, egaligheid en afwesigheid van steekhare beoordeel.

Reeds sedert die 1940’s is ondersoek ingestel na faktore wat die gehalte van wol bepaal en beïnvloed, en dit word soos volg opgesom:

  • Oorgekartelde wol bied meer weerstand teen saampersing as wol wat ’n normale verhouding tussen karteling en veseldikte het.
  • Die weerstand van ondergekartelde wol teen saampersing is kleiner. Sodanige afwykings van die gemiddelde verhouding is een van die oorsake waarom sommige wol lywig en ander weer pap voel, en min staankrag toon.
  • Bogenoemde verskynsel is verder ondersoek met betrekking tot die styfheid van enkelvesels en dieselfde gedrag is ten opsigte van die uitrekking van individuele vesels gevind. Hoe meer ondergekarteld wol is, hoe papper is dit en omgekeerd.

“Die oorbeklemtoning van sagtheid vir aanvoeling in teling, bring mee dat wol mettertyd al hoe meer ondergekarteld raak, en daar word dus al hoe meer van die Deurden-standaard afgewyk.”

Robert glo dat Suid-Afrikaanse Merinowol oor die jare opmerklik ondergekarteld geraak het. Daarom is kartels per eenheidslengte nie langer ’n betroubare aanduiding van die gemiddelde veseldikte nie. “Dit word veral in die groot mate van variasie in veseldikte van die baal weerspieël. Wol is dikwels baie fyner as wat die kartels aandui, terwyl wol met dieselfde kartels per 25mm baie in veseldikte verskil. As jy kyk na ontledings wat by die vagtoetsentrum uitgevoer is, dan wyk die wol ver af van die Deurdenlyn.”

Ondergekarteldheid veroorsaak ’n gebrek aan staankrag op die skaap, veral omdat dit met papheid van die wolvesel gepaard gaan. “Die vesel is te pap om dit teen oopval en gevolglik ook dieper blootstelling aan verwering en stofindringing te beskerm. Sodanige wol is veel dieper verweer.” Laastens benadruk hy dat erg verweerde wol makliker vervilt en dat dieselfde vir ondergekartelde wol geld.- Carin Venter, Veeplaas

Vir navrae, skakel Robert Scott by 082 774 8763 of stuur ’n epos aan Robert.Scott@bkb.co.za.

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY