Design Biologix
Design Biologix se indrukwekkende nuwe gebou.

Plaaslike diere-entstofvervaardiger, Design Biologix, het oor die jare tot so ’n mate uitgebrei, dat hulle nou groter geriewe benodig om hul hoë-gehalte kommersiële produkte te vervaardig. Design Biologix het hul jaarlikse entstofproduksie van ongeveer 7 miljoen tot 40 miljoen dosisse verhoog, met ’n gepaardgaande toename in toerusting en personeel. Hierdie uitbreiding het die maatskappy genoodsaak om ’n nuwe tuiste te vind.

Plaas Media het die voorreg gehad om dié nuwe wêreldklasgeriewe tydens die bekendstelling van hul nuwe entstof, Clostrivax B, te besoek. Clostrivax B is die eerste Design Biologix-produk wat self deur hulle versprei en bemark word.

Dié bekendstelling het laat verlede jaar by die nuwe gebou plaasgevind en is deur leiers in die veebedryf bygewoon. Die alombekende veearts, dr Danie Odendaal, was ook ’n spreker en het beklemtoon watter belangrike rol Design Biologix in die veebedryf speel.

Design Biologix
Bekendes in die bedryf het die bekendstelling bygewoon.

Design Biologix nodig in SA

Design Biologix
Dr Danie Odendaal was ’n spreker by die bekendstelling.

Dr Odendaal het tydens die bekendstelling gesê omdat Suid-Afrika (SA) met soveel dieresiektes swoeg, is maatskappye soos Design Biologix broodnodig vir die land en sy kudde. Daar is baie dringende siektes in SA wat aandag benodig. Een so ’n siekte is brusellose, waarvoor meer laboratoriums benodig word om die siekte behoorlik te kan diagnoseer. Hier speel Design Biologix se nuwe diagnostiese laboratoriums wat in die pyplyn is by die nuwe fasiliteit ook ’n belangrike rol. Vinnige dienste is ook noodsaaklik, het dr Odendaal gesê. Boere kan nie drie weke of drie maande vir uitslae wag nie. Diere wat positief toets moet dadelik geïsoleer kan word. Dit moet binne ’n maksimum van drie dae gebeur.

Sedert Design Biologix se stigting in 1994 werk die maatskappy met veeartse, veeprodusente en regulatoriese owerhede om doeltreffende entstowwe te ontwikkel, registreer en vervaardig. Die ontwikkeling van Clostrivax B+ is ook teen hierdie standaard gehandhaaf.Dié produk, wat tydens die geleentheid bekendgestel is, sal boere help om talle siektes met een produk te behandel.

Design Biologix
Gedurende die toer van Design Biologix se nuwe gebou kon besoekers ook sien waar die nuwe diagnostiese laboratorium gebou sal word.

Clostrivax B+ vir beeste

Design Biologix glo dat, vir baie siektes, die voorkomende gebruik van entstowwe vir kuddebeskerming aansienlik beter is as die gebruik van antibiotika vir behandeling. Oorgebruik van antibiotika het tot wydverspreide weerstandigheid gelei, met min of geen alternatiewe behandelingsmiddels nie.

Design Biologix
Karen Nel, direkteur en mede-eienaar van Design Biologix, verwelkom gaste by hul nuwe, moderne geriewe vir die vervaardiging en ontwikkeling van diere-entstowwe.

Vir hierdie redes is die bekendstelling van Clostrivax B+ so waardevol vir boere en die toekoms van volhoubare landbou en voedselproduksie. Hierdie produk teiken ses Clostridium-bakterieë asook die bakterieë wat longontsteking en miltsiekte veroorsaak. Sien die volledige lys van bakterieë en siektes wat voorkom kan word met Clostrivax B+ hieronder:

  1. Clostridium perfringens (C. perfringens) tipe A wat siektes soos bloednier veroorsaak.
  2. C. botulinum tipes C en D wat botulisme veroorsaak.
  3. C. novi tipe B wat aansteeklike nekrotiese hepatitis veroorsaak.
  4. C. chauvoei wat sponssiekte veroorsaak.
  5. C. sordellii wat skielike dood-sindroom veroorsaak.
  6. C. septicum wat kwaadaardige edeem veroorsaak.
  7. Mannheimia haemolytica tipe A1 wat longontsteking in beeste veroorsaak.
  8. Bacillus anthracis wat miltsiekte veroorsaak.

Nuwe gebou met hoër standaarde

Design Biologix se vervaardigingsproses is reeds op die hoogste standaard en die nuwe gebou is noukeurig ontwerp om aan internasionale standaarde te voldoen. Dit sal ook hulle uitsette minstens tienvoudig verhoog. Die nuwe, moderne, aseptiese vervaardigingsgeriewe stel die maatskappy ook in staat om hulself in lyn met die gehaltestandaarde van die Goeie Vervaardigingspraktyk- (GMP) stelsel te posisioneer. Dit is tans in die proses is om volgens wetgewing geïmplementeer te word. Dit sal verseker dat die vervaardiging van inspuitbare produkte wat volgens die Wet op Misstowwe, Veevoedsel, Landboumiddels en Veemiddels, 1947 (Wet 36 van 1947) geregistreer is, in ’n omgewing wat aan internasionale standaarde voldoen, plaasvind.

Design Biologix
Entstowwe word onder baie streng higiëniese toestande vervaardig en die gebou is ontwerp om die omgewing te isoleer.

’n Spesiale toewyding

Hoewel die Design Biologix-span opgewonde is oor die pad vorentoe, is dit met ’n swaar gemoed dat die viering daarvan plaasvind sonder die kernlid van hul span wat die visie van die nuwe fasiliteit gedryf het. Medestigter en direkteur, Pieter Smuts, is onlangs aan Covid-19 oorlede.

Design Biologix
Design Biologix se medestigter, Pieter Smuts, is onlangs aan Covid-19 oorlede. Hy was die dryfveer agter die visie om ’n nuwe geriewe te bou wat die maatskappy na nuwe hoogtes kon neem.

Volgens Karen Nel, direkteur en mede-eienaar van Design Biologix, was Pieter altyd die man met die groot idees, wat op sy voete kon dink en planne kon maak. Hy was altyd toeganklik, het elke oproep beantwoord en was altyd bereid om die langafstandreise na boeredae te maak om direk met produsente en veeartse te skakel.

Karen sê hy het al sy kreatiwiteit, passie, kennis en energie in hierdie projek gestoot en dit is hartseer dat hy nie hier is om die resultaat te sien nie. Hierdie suksesvolle projek sou nie moontlik gewees het sonder sy onvermoeide toewyding nie. – Ursula Human, AgriOrbit

Lees hier oor ander Clostridium-siektes: