Suid-Afrika se waterskaarste kom soos ’n dief in die nag en Suid-Afrikaners het al so gewoond geraak aan dié rooi lig wat kort-kort flikker, dat dit nie meer met die nodige erns hanteer word nie. Vir meer as 50 jaar word gesê dat Suid-Afrika op ’n waterskaarste afstuur, en in 50 jaar het mens en dier nog elke jaar van reënseisoen tot reënseisoen oorleef.

In ’n tegniese verslag wat in 1960 deur die Departement van Waterwese uitgereik is, word verwys na ’n mosie wat CM van Coller reeds in 1952 in die Volksraad ingedien het, waarin hy versoek dat ’n komitee saamgestel word om die waterkwessie in die land te ondersoek. Toe was daar al kommer oor die volhoubaarheid van die waterbronne in die land.

Sedertdien het sake nie veel verander nie. Daar word steeds met groot kommer gekyk na die stand van water. Die dief in die nag is egter besig om al hoe nader te beweeg en met die erge droogte van die afgelope somermaande, is dit duidelik dat water al hoe slimmer bewaar en beskerm moet word. Water is immers die kern van mens en dier se bestaan.

Riaan Swanepoel van Maxiflex Dams vat dit goed saam as hy sê alles rondom ons, onsself inkluis, is die toegevoegde waarde van water. Alle prosesse in alle sektore het water op die een of ander manier nodig en dit moet op ’n slimmer manier beskerm word.

Volgens hom loop duisende liter water jaarliks weg wat eintlik beter benut kon word. “As ’n mens dink aan 50mm of 100mm reën, besef jy hoeveel water loop ongebruik weg wat met min moeite opgegaar kon word.”

 Werk slimmer

Tye het egter ook sedert die vyftiger- en sestigerjare verander, en dit raak eintlik makliker om damme en reservoirs op te rig met die doel om water op te gaar. Dit is veral in die landbousektor sigbaar. Hoewel enkele boere nog steen- en sementdamme bou, wend al hoe meer hulle tot kitsdamme wat baie meer kostedoeltreffend is en maklik verskuifbaar is. Die koste van ’n sinkdam met ’n seilvoering of plastiektenks, is deesdae baie laer as die koste van ’n sementdam.

André Maré van Roto Tanks sê Suid-Afrika is ’n water-arm land, en verstedeliking en die bevolkingsaanwas verhoog die druk op die watervoorraad vir die landbousektor en voedselverbouing. Boorgate droog makliker op en daarom is dit nodig dat boere kitsdamme en reservoirs gebruik wat maklik verskuifbaar is. Dieselfde beginsels as met enige ander dam, geld vir die oprig van ’n kitsdam.

Riaan sê in die landbou moet die produsent noukeurig oplet waar hy sy damme oprig vir die beste resultaat. “Kies ’n geskikte plek wat toepaslik is en verkieslik ’n oppervlak wat naastenby waterpas is. Dit is ook wenslik dat die dam effens hoër staan sodat, wanneer dit 50mm of meer reën, dit nie in die water staan nie.”

André sê die grondoppervlak wat ’n plastiektenk nodig het, is heelwat kleiner as dié van ’n geboude dam. “Daarom is dit aansienlik makliker om tenks op hoërliggende dele soos heuwels en hellings op te rig, teenoor die moeite en koste van grondverskuiwing wat nodig is vir die bou van ’n oop reservoir. Sulke tenks kan ook makliker hoër as die dam geplaas word, wat die druk verhoog as dit nodig sou wees.”

Riaan sê die kitsdam moet nie teenaan hoë bome opgerig word nie omdat blare in die damme val en na die bodem afsak, waar dit verrot. Hierdie water kan nadelig vir vee wees.

Bome en bosse wat teenaan damme staan, kan groot skade veroorsaak as ’n veldbrand ontstaan en die hitte die damme kan laat bars of onherstelbaar beskadig.

 Voordele van kitsdamme

Die grootste voordeel van kitsdamme is die koste. Riaan sê klein sinkdamme wat met seile uitgevoer word, kan die boer sowat R400 per 1 000 liter kos en groter besproeiingsdamme tot so min as R175 per 1 000 liter. Plastiektenks is ’n bietjie duurder, maar dit is steeds baie goedkoper as geboude damme.

Sinkdamme met voerings is baie meer veeldoelig en dit kan voortdurend verbeter en verander word namate die behoeftes op die plaas verander. “Hier kyk ons na meer uitlate, oorvloei-uitlate, skadunet-dakke en PVC-sinkdakke vir skoner water. Hegstukke kan ook vinnig en doeltreffend aangebring word om verskeie stukke toerusting te stut of vas te heg, soos bv. watervlakkontroles en sonpanele,” verduidelik hy.

Hierdie damme kan vir meer take aangewend word, soos vir vloeibare kunsmis, melasse, graan, brandbestryding en industriële damme.

André sê die watertenks wat gebruik word, hou ook enorme voordele in vir boere. Omdat die Suid-Afrikaanse somers besonder warm is, het boere gewoonlik ’n probleem met verdamping, wat groot hoeveelhede water laat verlore gaan. In die warm Kalahari- en Molopo-streke kan die son tot 2,5cm van die wateroppervlak per dag uit ’n oop dam laat verdamp, maar plastiektenks is so ontwerp dat dit verdamping hokslaan.

“Deesdae is daar ’n groeiende neiging om water in geslote tenks, wat teen ultravioletbestraling beskerm is, te bewaar. Die algemeenste tenk vir wateropberging word van poliëtileen vervaardig. Dit is baie goedkoper en maklik om te installeer. Geen verdamping kan plaasvind nie en die water kan nie besoedel word nie.”

 Wanopvatting

André voeg by dat water oor baie jare in oop reservoirs en gronddamme opgegaar is met die veronderstelling dat hierdie gronddamme die grondwaterbronne aanvul.

Dit is egter ’n wanopvatting. “Die gebruik van gronddamme verhoog nie net die verdamping van water nie, maar het ook ’n negatiewe impak op grondwater wat vrygestel is van verdamping, veral laer af in die stelsel.

“Die mening dat grondwater op dié manier aangevul word, moet geweeg word teen die feit dat die versadigingspunt van die bolaag grond bereik word en dit slegs die grondwater in die onmiddellike omgewing van die dam is wat gedeeltelik baat by die opgaar van water daarin. Grondwater word hoofsaaklik aangevul deur wydverspreide reën en vloede. Dit is juis wanneer dit nie reën nie dat die veilige opgaar van water wenslik is,” sê hy.

 Verbeter gronddamme

Die tyd van geboude damme is sekerlik aan die verbygaan en nuwe kitsdamme neem oral die plek van tradisionele damme in. Riaan sê gronddamme kan ook met voerings uitgevoer word. Op dié manier kan duisende liter water gespaar word.

Hy het onlangs twee damme van 64x64x3,5m vir die Namibiese regering in die Okavangorivier se sylope geïnstalleer. Wanneer die Okavangorivier se vlak daal en die rivier nie meer loop nie, bly 14,3 miljoen liter water agter wat andersins sou wegsypel. Hierdie water kan met sonpanele en sonpompe uitgepomp word, en so word meer reënwater geberg en die druk op grondwater verlig. -Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel Riaan Swanepoel by 082 446 4992 of 018 632 4148 en André Maré by 071 689 4216.

 

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY