Clanwilliam-skou toon goeie groei

Estimated reading time: 10 minutes

Clanwilliam-skou het vanjaar goed presteer en in alle afdelings gegroei, sê Nico Louw, die skou se voorsitter. “Dit gee ons ‘n goeie fondasie waarvan ons kan werk om foute wat ons vanjaar gemaak het, uit te skakel en in 2025 ‘n nog beter skou aan te bied.”

Die diere-afdeling het gespog met die Suid-Afrikaanse Damarakampioenskap waaraan agt telers deelgeneem het. Die Wes-Kaaplandse Dorper Kudde-ooikompetisie (Westelike-streek), ‘n Boerbokstreekskou en ‘n Boerbokskou vir opkomende produsente is goed ondersteun en soos gewoonlik was daar ‘n sterk perdeskou met verskillende kampioenskappe, soos die SA Vlaamperd-streekskou.

Buiten die gewone verrigtinge is twee suksesvolle geleenthede aangebied, naamlik die Rooibosprodusent van die Jaar en ‘n landbou-oggend. Daar was ook ‘n groot uitstalling van veteraantrekkers en ‘n jeugskou waar leerders in verskeie afdelings teen mekaar meegeding het.

Plaas Media was die mediaborg van Clanwilliam-skou en ook die landbou-oggend.

Die waarde van landbou-uitvoer

Clanwilliam-skou het weer vanjaar ‘n landbou-oggend aangebied wat deur produsente en ander rolspelers in die landbousektor bygewoon is. Die sprekers was prof Ferdi Meyer, besturende direkteur van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP), dr Kandas Cloete, plaas en hulpbron-analis by BFAP, en Johann Kotzé, hoof uitvoerende beampte van Agri SA.

Kotzé het gesê dit bly ‘n uitdaging om jong produsente by georganiseerde landbou te betrek. “Die uitdaging is nie om te kyk hoe ons die jong mense kan bestuur nie, maar eerder om te kyk hoe die jong mense hul eie toekoms kan bestuur. Jy moet jong mense verstaan en weet wat hul behoefte is en dan ‘n brug bou tussen die jonger en ouer produsente, want dit is die ouer mense wat die jonges deur moeilike tye kan trek.”

Volgens Kotzé gaan die wêreld se bevolking die volgende 25 jaar met 20% groei. Afrika se bevolking gaan egter met 65% groei, wat beteken daar gaan ‘n baie groot behoefte aan kos in Afrika wees. Klimaatsverandering gaan meebring dat sekere dele van Afrika droër word, wat die potensiaal om kos in die huidige produserende lande te produseer, verlaag.

“As gevolg daarvan gaan daar ‘n migrasie van mense wees na lande waar daar kos en water is. Dit is ‘n groot uitdaging vir ons in Suid-Afrika, want ons het die vermoë om kos te produseer. Dit skep egter ook ‘n geleentheid om kos te kan uitvoer. Byna 40% van ons totale uitvoere gaan reeds na die res van Afrika toe,” het Kotzé gesê.

Uitvoere ontsluit hoër pryse

Prof Meyer het gesê dat ongeveer die helfte van die inkomste uit landbou van uitvoere kom. Die kritiese waarde daaruit is dat ons binnelandse mark nie groot genoeg is om eerstens al ons produkte te kan absorbeer nie en tweedens ontsluit dit hoër pryse, veral in terme van vrugte en rooivleis waar ons hoëwaarde-produkte beter pryse in die buitelandse mark kan kry.

“Dit is belangrik vir die landbou om hierdie uitvoermarkte oor tyd te ontsluit, verder te dryf en te groei om werksgeleenthede te skep en addisionele waarde te ontsluit,” het prof Meyer gesê.

In Sub-Sahara Afrika is Suid-Afrika die enigste land wat ‘n netto-uitvoerder van landbouprodukte is. Die ander lande is netto-invoerders van landbou-produkte (voedsel). Hierdie lande voer baie meer voedsel in as wat hulle uitvoer en dit wat hulle uitvoer is meestal onverwerkte produkte. “Anders as in hierdie lande, het Suid-Afrika ‘n sterk waardeketting ontwikkel wat waarde toevoeg en ons beskik oor ‘n sterk agri-besigheidsektor wat nie in die ander lande die geval is nie,” het hy gesê.

“Aan die een kant skep dit vir ons die geleentheid om landbou-produkte na die res van Afrika uit te voer en aan die ander kant kan Suid-Afrika ook ‘n netwerk van ondersteuning aan die res van Afrika bied deur die oordrag van tegnologie en kennis. Die uitdaging is dat die politiese omgewing in Afrika baie onstabiel is en groot risiko’s inhou,” het prof Meyer gesê.

Rooibosprodusent van die Jaar aangewys

Nico Slinger van De Lille Boerdery, Clanwilliam, is as 2024 se Rooibosprodusent van die Jaar aangewys. Hy het sy toekenning ontvang tydens ‘n gala-aand wat deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou op die Clanwilliam-skouterrein aangebied is.

  • Nico Slinger van De Lille Boerdery in Clanwilliam, is as die 2024 Rooibosprodusent van die Jaar aangewys. Van links is dr Ruben Richards, burgemeester van Cederberg Munisipaliteit, dr Mogale Sebopetsa, hoof van die Wes-Kaapse Departement van Landbou, Nico Slinger en Marius du Randt, adjunk-direkteur van die Wes-Kaapse Departement van Landbou se Noord-Weskusstreek.
    Nico Slinger van De Lille Boerdery in Clanwilliam, is as die 2024 Rooibosprodusent van die Jaar aangewys. Van links is dr Ruben Richards, burgemeester van Cederberg Munisipaliteit, dr Mogale Sebopetsa, hoof van die Wes-Kaapse Departement van Landbou, Nico Slinger en Marius du Randt, adjunk-direkteur van die Wes-Kaapse Departement van Landbou se Noord-Weskusstreek.

Die kompetisie was ‘n inisiatief van die Wes-Kaapse Departement van Landbou en Rooibos Beperk en is deur Riana van Rensburg, landbou-adviseur van die Wes-Kaapse Departement van Landbou op Clanwilliam, tot stand gebring.

Van Rensburg het tydens die geleentheid gesê die aanwys van die Rooibosprodusent van die Jaar is ‘n geleentheid wat geskep is om opkomende produsente van die Cederberg ‘n platform te gee waar hulle hul boerderye met mekaar kan vergelyk. Dit gee ook die geleentheid om erkenning aan die beste produsente te gee en hulle te vereer vir die goeie gehalte rooibostee wat hulle produseer.

Lees meer oor die toekenning hier.

Wenners is in vier kategorieë aangewys, naamlik:

  • Rooibosprodusent van die Jaar. Dit is ‘n produsent wat meer as 1 250kg rooibostee per jaar produseer.
  • Opkomende Rooibosprodusent van die Jaar. Dit is ‘n produsent wat minder as 1 250kg rooibostee per jaar produseer.
  • Beste Volhoubare Rooibosgemeenskap en die Beste Volhoubare Rooibosgemeenskap Agri-verwerking. Dié twee kategorieë verwys na gemeenskapsprojekte en groepe wat saamboer.

Die wenner van elke kategorie het prysgeld van R4 000 ontvang en die naaswenners R3 000 elk. Die wenner van die kategorie Rooibosprodusent van die Jaar het ook een kilogram rooibosteesaad ter waarde van R5 000 ontvang.

Die kompetisie het uitgewys dat die opkomende produsente van die Cederberg-streek ’n unieke produk verbou wat op geen ander plek in die wêreld verbou kan word nie. “Ons glo die kompetisie sal elke jaar groei. Terugvoering aan produsente sal die produsente help om foute uit te skakel en ‘n nog beter gehalte produk te lewer,” het Van Rensburg gesê.

SA Damarakampioene gekroon

Die SA Damara-Kampioenskappe is vanjaar tydens Clanwilliam-skou aangebied. Altesame agt telers het met 216 diere aan die kampioenskappe deelgeneem. Fanie Lerm van Fanie Lerm Damaras in Kakamas het die seniorkampioen-Damararam, sowel as die juniorkampioen-ram en -ooi, vertoon. Stan Burger van Rubicon Damaras in Koster het die senior kampioen-Damara-ooi ten toon gestel.

Fanie Blumenthal, voorsitter van Damaratelersgenootskap van Suid-Afrika, het na afloop van die kampioenskappe gesê die diere was van uitstaande gehalte.

  • Die seniorkampioen-ram behoort aan Fanie Lerm van Fanie Lerm Damaras in Kakamas. Van links is die beoordelaars, Christie Labuschagne en Danie van Vuuren, Fanie Lerm, Brandon Ruiters, hanteerder, en Jaco Smit van Afrivet (borg).
    Die seniorkampioen-ram behoort aan Fanie Lerm van Fanie Lerm Damaras in Kakamas. Van links is die beoordelaars, Christie Labuschagne en Danie van Vuuren, Fanie Lerm, Brandon Ruiters, hanteerder, en Jaco Smit van Afrivet (borg).

Hy het die telers wat aan die skou deelgeneem het vir hulle toewyding tot die ras bedank. Van die telers het 1 600km gery om aan die kampioenskappe deel te neem. Hy het ook die beoordelaars bedank vir die manier waarop hulle die skape beoordeel het. “Almal van ons het iets geleer en aan die einde van die dag het die Damara gewen,” het Blumenthal gesê.

Beste Dorper-ooie aangewys

Die Wes-Kaaplandse Dorper Kudde-ooikompetisie (Westelike-streek) is vanjaar op Clanwilliam-skou aangebied. Altesaam 18 groepe van tien lammers elk is vir die kompetisie ingeskryf, waarvan 11 groepe in die kudde-afdeling en sewe groepe in die stoet-afdeling ingeskryf is. Nege telers het in die kudde-afdeling meegeding en drie in die stoet-afdeling.

Paul Smith, sameroeper van die Dorperafdeling van Clanwilliam-skou, het na afloop van die skou gesê die kompetisie is goed ondersteun. “In die kompetisie skou die Dorpers en Witdorpers nie afsonderlik soos by ander skoue nie. Die twee rasse ding teen mekaar in dieselfde afdelings mee,” het hy gesê.

In die kompetisie word ‘n kampioengroep en ‘n kampioenlam aangewys. Telers kon diere in twee gewigsklasse inskryf, naamlik onder 40kg en bo 40kg. Elke groep is op sy eie beoordeel. Daar is gekyk na die eenvormigheid van die groep en daarna is die beste twee lammers van elke groep geïdentifiseer en gemerk.

Die beste twee lammers van die verskillende groepe het teen mekaar meegeding om in die enkellam-afdeling die kampioenlam aan te wys. “Altesame 22 lammers het in die kudde-afdeling teen mekaar meegeding om die kampioenlam-titel en 14 in die stoet-afdeling,” het Smith gesê.

In die kudde-afdeling het Johan Mouton van Driehoek Agri in Clanwilliam, die kampioengroep van tien lammers gelewer. Willie Nel van Ysterfontein in Clanwilliam, het die kampioenlam vertoon en ook tweede plek verower. Johan Mouton van Driehoek Agri in Clanwilliam het die derde en vierde plekke verower en Wessel Fourie van AMW Boerdery in Clanwilliam, die vyfde plek.

In die stoet-afdeling het Chris Blom van Elandsberg Dorpers in Sutherland die kampioengroep van tien lammers ingeskryf. Paul Smith van Paul Smith Witdorpers in Clanwilliam het die kampioenlam in die stoet-afdeling vertoon. Hy het ook ‘n derde en vierde plek in die stoetafdeling behaal. Chris Blom van Elandsberg Dorpers in Sutherland het die tweede plek in die afdeling behaal en Pikkie Rossouw van Springduin Dorpers in Lutzville, die vyfde plek.

Clanwilliam is bokwêreld

Joubert van der Merwe, sameroeper van die skou se Boerbokafdeling, het tydens die Boerbokkampioenskappe gesê Clanwilliam is die middelpunt van die Wes-Kaapse Boerbokbedryf. Die Wes-Kaap Boerbokklub is in 1987 op Clanwilliam gestig.

  • Van links is Francois van Schalkwyk, beoordelaar van die Boerbok-afdeling, Joubert van der Merwe, ondervoorsitter van Clanwilliam-skou en sameroeper van die Boerbokafdeling, Stewart van Rooi, ringbeampte, en Charles Willemse, aankondiger.
    Van links is Francois van Schalkwyk, beoordelaar van die Boerbok-afdeling, Joubert van der Merwe, ondervoorsitter van Clanwilliam-skou en sameroeper van die Boerbokafdeling, Stewart van Rooi, ringbeampte, en Charles Willemse, aankondiger.

Telers uit die omgewing het weer vanjaar die skou goed ondersteun en vanjaar het altesaam nege telers met 125 bokke aan Clanwilliam-skou se Boerbokkampioenskap deelgeneem. – Hugo Lochner, Plaas Media

Must read

Goed-uitgegroeide jong ooie is volgens Lloyd die hoeksteen van ’n winsgewende Angora-boerdery. (Foto: Gerda Hayward)

Lloyd Short: Optimale ontwikkeling is die sleutel tot sukses

Estimated reading time: 6 minutes Veeplaas het, tydens ‘n onlangse besoek aan die area, by Borden Angoras se plaashek ingedraai. Hier woon en werk Lloyd Short, ’n sewende-generasie produsent wat met Angora-bokke en Merino’s...
DWS

Mylpaal vir waterbestuur in Suid-Afrika

Estimated reading time: 2 minutes Die bekendstelling van vier opvanggebiedbestuursagentskappe (CMA’s) deur die Minister van Water en Sanitasie, Senzo Mchunu, tydens die Waterinstituut van Suider-Afrika (WISA)-konferensie wat onlangs in Durban gehou is, verteenwoordig ’n...

RSG Landbou: 13 Junie 2024 – geborg deur BKB

Ons kry terugvoer vanaf die RPO Noord-Kaap-kongres wat onlangs in Kimberley plaasgevind het. Die uittredende voorsitter, Koning Scholtz, praat oor die produsent en die rol van dié produsente-organisasie, veral in moeilike tye. Brand du...

Bull selection, the smart way

Estimated reading time: 8 minutes When it comes to genetic progress in a herd, the simple truth is that a bull contributes up to 90% of this progress. This is a fact that beef...

Ellisras-beesskou: Die hartklop van landbou in Limpopo

Estimated reading time: 2 minutes Die Ellisras-beesskou, wat van 4 tot 6 Julie 2024 plaasvind, is 'n hoogtepunt op die Bosveld-streek se landboukalender. Hierdie jaarlikse geleentheid trek produsente en landbouliefhebbers van regoor die land...