Estimated reading time: 3 minutes
Aartappels SA (ASA) het onlangs sy jaarlikse Moerkwekersforum en ASA-kongres op 21 en 22 September, verskeie toekennings gemaak. Een daarvan was die CHIPS 2021/22 artikel van die jaar.
CHIPS is die amptelike mondstuk en tydskrif van Aartappels SA, en word tans deur Plaas Media uitgegee. CHIPS is ‘n produsente-tydskrif waarin al die werk wat namens produsente deur ASA en ander rolspelers in die aartappel-waardeketting verrig word, gestalte kry in artikelvorm. Dis is ‘n vertoonvenster vir ASA se jongste kultivarproewe, navorsing deur akademiese instansies oor aartappelsiektes en onkruidbeheer, die jongste goeie produksiepraktyke, asook ASA se transformasieprojekte, generiese bemarking, asook marktendense en markverwante inligting.
Lees meer oor die PSA Enterprise Development Farmer-toekenning hier.
Die suksesresep
“Die geheim van ‘n goeie CHIPS-artikel,” het Lynette Louw, redaktrise van CHIPS, gesê “is dat dit tot die navorser, tegniese adviseur én produsent moet spreek. Dit moet dus leesbaar en verstaanbaar wees, sonder om afbreek te doen aan die wetenskap agter die onderwerp. Uiteenlopende groepe mense moet daarby aanklank vind en die inhoud kan toepas.”
Vanjaar se kortlys het uit ‘n verskeidenheid van lang, kort, tegniese en maklik-lees artikels bestaan. Meer as 60 artikels is oorweeg uit tien uitgawes wat tussen Januarie 2021 en Augustus 2022 uitgegee is. Artikels is beoordeel op grond van vier kriteria:
- Formaat: Sinvolle paragrawe, subopskrifte, logiese vloei (inleiding, agtergrond, metodiek, bespreking, gevolgtrekking).
- Grammatika: Korrekte spelling, goeie grammatika, goeie sinskonstruksie.
- Aanbieding: Interessantheidswaarde, leersaamheid, wetenskaplikheid, oordrag van moeilike begrippe, verstaanbaarheid vir gehoor (beide wetenskaplikes en produsente); verteerbaarheid van inligting (maklik lees, verstaan, begrip).
- Grafika en toeligting: Sinvolle grafieke, beskrywende foto’s, kwaliteit van foto’s en prente, waarde toegevoeg deur foto’s en grafieke.
‘n Kortlys van 12 artikels is uiteindelik saamgestel, en daaruit is ‘n top vyf gekies. Die top vyf het almal geraamde sertifikate geborg deur Plaas Media ontvang:
- Vyfde plek: Michael Holloway, Kes Murray and Julian Conrad, GEOSS South Africa vir hulle artikel getiteld ‘Managed aquifer recharge: The basics, benefits and risks’ (CHIPS Julie/Augustus 2022).
- Vierde plek: Chantel du Raan van Aartappels SA vir haar kort maar insiggewende artikel oor ‘Sclerotinia-verwelk’ in die ‘Wat op aarde’-reeks (CHIPS Maart/April 2022).
- Derde plek: Prof Hannalene du Plessis van Noordwes-Universiteit vir haar artikel, ‘Is Tuta absoluta weerstandbiedend teen insekdoders in Suid-Afrika?’ (CHIPS September/Oktober 2021).
- Tweede plek: Prof Martin Steyn van die Universiteit van Pretoria vir sy artikel, ‘Span weerdata in vir besproeiingskedulering’ (CHIPS September/Oktober 2021).
Lees meer oor hoe aartappels hongersnood kan beveg hier.
En die wenner is …
Die eerste plek en CHIPS artikel van die jaar het gegaan aan Jamie Jansen van Vuuren van die Aartappelsertifiseringsdiens, vir sy artikel ‘Stuit Alfalfa-mosaïekvirus in sy spore’. Die artikel het in CHIPS se November/Desember 2021-uitgawe verskyn. In haar evalueringskommentaar oor die artikel het Louw geskryf: “Uiters interessante artikel. Baie goeie agtergrond en aanbieding van navorsing. Goeie, praktiese gebruik van grafika en foto’s wat die virus se invloed illustreer.”
Jamie het ‘n stewige prys losgeslaan wat deur Syngenta geborg is en deur André Labuschagne oorhandig is. Jamie is R10 000 kontant ryker en het ook ‘n handige reiskoepon ontvang. Ons wens hom weereens geluk met ‘n uitstekende artikel. – Lynette Louw, Plaas Media