Estimated reading time: 3 minutes

Vir die eerste keer in die nege jaar dat die Standard Bank Chenin Blanc Top Ten Challenge bestaan, sal die wenwyne onder die aandag kom van die internasionale handel en van wynliefhebbers die wêreld oor. So sê Ken Forrester, voorsitter van die Chenin Blanc Vereniging van Suid-Afrika, wat die jaarlikse kompetisie organiseer.  

Forrester het bevestig dat die wenwyne in November geproe sal word by die Chenin Blanc Summit wat in Stellenbosch gehou sal word, en wat na verwagting deur sowat 300 produsente, wynkenners, akademici en kommentators van oor die wêreld bygewoon sal word. Die Wes-Kaap is vir die geleentheid gekies aangesien daar meer Chenin-wingerdstokke hier groei as in die res van die wêreld saam. Meer belangrik is die feit dat plaaslike produsente internasionale erkenning geniet vir hul dinamiese, innoverende benadering tot die kweek en maak van Chenin. 

Lees meer oor die Noord-Kaapse wynbedryf hier.

Forrester het gesê die wenwyne in die Top Ten Challenge is die allerbeste Chenin-wyne wat in die land gemaak word. Hulle sal ook ingesluit word by ’n spesiale proegeleentheid op die vooraand van Suid-Afrika se drie-jaarlikse wynuitstalling, CapeWine 2022, wat in Oktober plaasvind. 

“Na die volgehoue skaarste aan grootskaalse lewende wyngeleenthede, beloof die komende lente om ’n opwindende tyd vir plaaslike Chenin-produsente te wees, veral vir ons top-tien-wenners. Die geleentheid om hul wyne te kan bekend stel aan toegewyde wynkenners en -geesdriftiges behoort as sterk motivering te dien om hul wyne in te skryf. Naas die klaarblyklike handelsgeleenthede is daar uiteraard die kans om gedagtes oor ’n magdom onderwerpe te wissel – van stilisties en filosofies, tot wingerdbou en wynmaak,” het hy vertel.  

Inskrywings open op 20 Junie

Forrester het daarop gewys dat ondanks die feit dat die Suid-Afrikaanse wingerd in 2021 in sy geheel tot net minder as 91 000ha gekrimp het, is Chenin steeds die variëteit wat die meeste plaaslik aangeplant word. Sy aandeel in die totaal het effens tot 18,6% gestyg.

“Dit laat ’n mens dink dat ondanks die feit dat die bedryf wingerdstokke uithaal weens droogte, gebrek aan voldoende water, ekonomiese lewensvatbaarheid of meer winsgewende gebruik van die grond, Chenin steeds dominant bly weens die enorme potensiaal wat dit bied. Dit verduidelik ook waarom, volgens die Suid-Afrikaanse Wynindustrie-inligting en -sisteme (SAWIS), Chenin die kultivar is wat in 2021 steeds die meeste aangeplant is.

“Dit sou ook moeilik wees om ’n ander kultivar te vind wat ewe klimaatbestand en stilisties veelsydig is. Dat bykans ’n derde van alle Chenin-aanplantings ouer as 20 jaar is, is nog een van sy kenmerke. Volwasse wingerdstokke bied groter diepte van geur en is beter bestand teen klimaatsveranderinge. Hulle bied so die geleentheid om te kan werk met karaktervolle druiwe van voortreflike gehalte.

“Ons sien gereeld hoeveel wynmakers met toegang tot wingerde 35 jaar en ouer kritiese waardering vir hul wyne kry. Vroeë studies onderneem aan die Nagraadse Bestuurskool aan die Universiteit van Kaapstad dui ook op ’n positiewe verband tussen die ouderdom van die wingerd en die pryse wat die wyn behaal.”  

Die kompetisie ken elke jaar ’n kontantprys van R25 000 toe aan elk van die wenners van die op tien-Chenin-wyne wat aan gemeenskapsprojekte vir plaaswerkers bestee moet word. Stephan van der Merwe, hoof van Standard Bank se afdeling vir handelskliënte in die Wes-Kaap, het namens die borg gesê: “Die uitdruklike doel van die prysgeld is om die kernrol wat plaaswerkers in die maak van bekroonde wyne speel, te beklemtoon”. 

Hy het gesê in die verlede is die geld hoofsaaklik vir opvoedkundige projekte gebruik, van vroeë-aanleringsprogramme al die pad deur tot tersiêre opleiding. “Daar is nou crèches en nasorg-geriewe vir skoolkinders op sekere plase danksy die prysgeld. Ander wenners het biblioteke gestig of rekenaarkamers en ander opvoedkundige geriewe vir leerders, werkers en gemeenskappe geskep.” 

Tot op hede is R1,85 miljoen daaraan bestee om plaaswerkerprojekte te onderskraag. Daaronder tel groentekwekery en behuisingsinisiatiewe tot voordeel van werkers en hul gemeenskappe. 

Inskrywings vir die kompetisie moet by Villiera in Stellenbosch afgelewer word. Die wenners sal einde Augustus bekendgemaak word. – Persverklaring, Chenin Blanc Vereniging van SA