Bulskop-boerdery
Die Bulskop-voerkraal kan tussen 1 900 en 2 000 speenkalwers huisves, maar hulle mik daarna om binnekort sowat 3 000 kalwers vir eie bemarking te voer. Dié voerkraal is daarvoor ingerig. Dit beskik oor twaalf krale wat in ’n reguit lyn (1,8km) volgens die heersende windrigting en helling van die afloop gebou is, en met standaard krippe en suipbakke toegerus is.

Estimated reading time: 7 minutes

Die bekroonde Bulskop-boerdery buite Potchefstroom in Noordwes, benut die hele rooivleiswaardeketting – van die veld tot die abattoir. Gerrie en Elanie Joubert is sedert 2000 die gedugte span agter dié omvattende onderneming, nadat hulle by Elanie se pa en broer, Pollie en WP Barnard, by die Bulskop-boerdery aangesluit het. Die Syferfontein-abattoir was deel van dié boerdery.

Rooivleis: Die waardeketting in aksie

Gerrie se belangstelling is van kleins af deur die veekomponent van ’n boerdery geprikkel, soveel so dat hy ná skool die vleisbedryf betree het en ’n abattoir oopgemaak het. Daarna het hy sy staal in die Syferfontein-abattoir as vleisklassifiseerder en bestuurder gewys.

Die Jouberts het die abattoir in 2008 oorgekoop en daarmee saam in die Bulskop-plaas belê. Gerrie sê na vele uitdagings en lesse, asook met genade van Bo, het die meetsnoere uiteindelik vir hulle in plek geval. In 2018 het hulle besluit om nog verder uit te brei deur ’n voerkraal op die been te bring.

Benutting van die waardeketting

Gerrie sê hulle wou groter beheer oor die totale waardeketting uitoefen en het daarom besluit om die voerkraalmark te betree. Hulle het ook beleggingsmoontlikhede in die uitbreiding van hul saaivertakking gesien, en ’n stoetkudde te begin. Dít het hulle in staat gestel om grondgewasse vir hul voerkraalrantsoen aan te plant en speenkalwers te teel as aanvulling tot hul kalweraankope, sodat hulle self in hulle abattoir vir groothandeldoeleindes kon slag.

Bulskop-boerdery
Die Bulskop-boerdery se wenspan, van links, is voerkraalbestuurder Damian Smith, eienaars Gerrie en Elanie Joubert, en hul seun, Gerhard.

Dié besluit het ’n waardevolle bydrae tot die bestaande onderneming gemaak, deurdat hulle groter beheer oor die prys van hul produkte kon hê, langtermyn beplanning makliker kon doen, beleggingsbesluite sonder ‘n middelman kon neem, en die wisselvalligheid van prys beter kon bestuur.

Hul seun, Gerhard, het ná skool sy gewig by die saaikomponent ingegooi en ook sy eie Beefmasterstoetkudde begin. Gerrie het ook Bonsmaras, Brafords en Limousins, waarvan die speenkalwers hoofsaaklik na die voerkraal gaan, terwyl hy verse as vervangingsdiere vir sy teelstoet terughou.

Gerrie sê die feit dat hulle die hele waardeketting benut, baan die weg vir goeie besluitneming ten opsigte van die verskillende vertakkings van die boerdery. In dié verband is Elanie ’n ware staatmaker. Sy behartig al die bemarking en finansiële aspekte van die onderneming.

Die benutting van die hele rooivleisketting plaas hulle in die gunstige posisie om self te kan besluit of hulle die mielies gaan verkoop of as voer aanwend. Met ’n daling in die mielieprys het hulle nou die keuse om hul oes in die voerkraal te gebruik, en tydens ’n droë jaar kan hulle die mielies vir kuilvoer benut, wat ’n belangrike voedingsbron in hul voerkraalrantsoen is. Hulle produseer gemiddeld 6 000 ton kuilvoer per jaar.

Uitsoekdiere wat kan groei

Gerrie en sy span fokus op goeie speenkalfgroei vir hoër vleisproduksie teen die laagste koste. ’n Voldoende uitslagpersentasie en goeie voeromset is die riglyne wat hulle volg om ’n winsgewende voerkraalstelsel te bedryf.

Gerrie glo dié elemente loop hand aan hand, en moet reg bestuur word. Daarom word gehalte speenkalwers aangekoop, omdat swak kalwers ’n minderwaardige eindproduk lewer. Gerrie sê die fokus op gehalte diere beteken dat hulle nie altyd die goedkoopste koop nie, maar as produsent kan hy hom nie vasstaar teen die hoë randwaarde van ’n dier nie.

Hy onderskei dus tussen vleisbeesrasse, en enige Brahman-kruisras (Beefmaster, Bonsmara en Charolais) kry ’n regmerkie. Daarmee saam streef hulle daarna om hul visie te behou, naamlik ’n goeie uitslagpersentasie en die laagste insetkoste teen die hoogste wins. In die saaikomponent moet gewasse so winsgewend as moontlik in voer omgeskakel word.

Speenkalwers wat in die voerkraal slaggereed gemaak word, hetsy dit hul eie of aangekoopte speenkalwers is, word met ’n gewig van tussen 230 en 250kg in die voerkraalstelsel opgeneem. Hulle voer die kalwers vir 120 tot 140 dae, en mik vir ’n slaggewig van tussen 470 en 520kg (lewende gewig). Die ideale uitslaggewig vir hul teikenmark wissel tussen 270 en 300kg.

Die voerkraaldiere het ’n gemiddelde groei van tussen 1,7 en 2kg per speenkalf per dag, afhangend van die os-tot-vers verhouding, en ’n voeromset van minstens 7kg voer vir elke 1kg vleis. Hulle is ook trots op hul goeie gemiddelde uitslagpersentasie van tussen 58 en 60%.

Elektroniese bestuur

Gerrie het in ’n elektroniese oorplaatjiestelsel belê om bestuur in die voerkraal te vergemaklik. Dit is veral handig vir die prosessering van speenkalwers wat inkom. Aspekte soos onder meer die dier se gewig, oorsprong, aankoopkoste, voerinname, groeipersentasie in gewigsklas, asook tydsduur in die voerkraal, word nou elektronies aangeteken, wat hulle kosbare tyd spaar en die akkuraatheid van hul rekordhouding verhoog.

Dieregesondheid in die voerkraal

Die Bulskop-voerkraal se lae mortaliteitsyfer van onder 1% word aan die Jouberts se benadering – om siek diere vroegtydig uit te haal vir behandeling en sodoende verliese te verminder – toegeskryf. Daarby glo Gerrie dat die gehalte van diere wat aangekoop word, ’n deeglike inentingsprogram, en ’n goedgeformuleerde voerkraalrantoen, ook tot die voerkraal se lae mortaliteitsyfer bydra.

Al die kalwers, ongeag of hulle voorheen by ander produsente ingeënt was, ondergaan ’n vasgestelde inentingsprogram voordat hulle in die Bulskop-voerkraal opgeneem word. Daar word onder meer vir spons- en lamsiekte ingeënt. Dié kalwers van tussen ses en agt maande oud, word vooraf geprosesseer en in afsonderlike kampe in die veld aangepas, waar hulle byvoeding ontvang. Hier word hulle geëvalueer en deurloop hulle ’n tweede prosessering voordat hulle by die voerkraal ingeneem word. Sodoende hou die nuwe diere wat inkom ’n lae risiko in vir die kalwers wat reeds in die voerkraal is.

Gerrie sê hulle aanvangs- en groeirantsoene bevat die nodige minerale, spoorelemente en vitamiene as ’n voormengsel, sodat meer ruvoer, wat baie belangrik is vir die diere se gesondheid, in hul rantsoene gebruik kan word. Hul uitgangspunt is dat ’n voerrantsoen met ’n hoë energie-inhoud (byvoorbeeld chop en mielies) dikwels tot rumensteurnisse lei, terwyl die gebruik van meer ruvoer – kuilvoer en hooi in hulle geval – tot rumengesondheid bydra.

Raamgrootte en geslagsrypheid

Die raamgrootte en geslagsrypheid van die kalwers speel ’n bepalende rol. Gerrie sê ’n grootraam speenkalf wat vroeg geslagsryp is, is meer voordelig vir hulle as ’n grootraam dier wat later geslagsryp is en stadiger gewig aansit, omrede dié kalf langer gevoer moet word en in die proses swaarder raak.

Daar word dus op medium- tot grootraam diere wat nie té lank neem om geslagsgereed te word nie, gefokus. ’n Kalf wat té vroeg geslagsryp is wissel vroeër, wat sy gradering afbring, want op die einde van die dag word A- of B-grade, wat té vroeg vet aansit, uitgeslag en die produsent daarvoor gepenaliseer.

Groot karkasse (350kg en hoër) is nie vir hulle van toepassing nie, omdat hul fokus in die abattoir nie op ontbening is nie. Hulle sny snitte in kleiner porsies vir hul kliënte wat voorafverpakte vleis, dun gesny en in hoë volumes verkoop.

Toewyding word beloon

Die Jouberts se pogings is beloon toe dié boerdery behoorlik in die Suid-Afrikaanse Vleisbedryfmaatskappy (Samic) se 2020/21 Nasionale Karkaskompetisie uitgeblink het. Hulle het met ’n manlike Bonsmara A-graad karkas in die kommersiële kategorie vir enkelbeeste (97,78%) gewen. In dieselfde afdeling is een van Gerhard se A-graad Beefmasters, teen ’n gemiddeld van 97,51%, as reserwekampioen gekroon. In die afdeling vir kommersiële beesgroepe het hulle ook met drie A-graad Beefmasters van Gerhard se stoet gewen.

Gerrie skryf dié prestasies toe aan ’n toegewyde span wat hul bekwame voerkraalbestuurder, Damian Smith, insluit. “Daarmee saam is ons fisiese betrokkenheid by die daaglikse bestuur van die hele ketting, asook ons fokus op gehalte en strewe na uitnemendheid, die resep vir ons sukses.”

Vir meer inligting, kontak Gerrie Joubert by 082 767 6738 of epos syferfonteinslagpale@truenw.co.za.

wegholveldbrande