Estimated reading time: 2 minutes
In die oostelike hoëreënval dele van die land is veldbrande in die winter altyd ‘n onderliggende bedreiging. In ‘n jaar soos vanjaar, met die uitermatige hoë reënval en gepaardgaande digte veld, word hierdie bedreiging egter tienvoudig meer.
Die grondeienaars in die Amfiteater van die Noordelike Drakensberg op die grens van KwaZulu-Natal, die Vrystaat en Lesotho het onlangs ‘n vergadering gehou om beheermaatreëls en noodplanne in plek te kry om hierdie bedreiging hok te slaan.
Leer hoe om voorsorg teen veldbrande te tref.
Die sleutel tot hierdie planne, volgens die brandbeampte in die omgewing, en ook bestuurder van Montusi Lodge, Mic du Plessis, is om effektiewe brandbane op strategiese plekke te maak sodat moontlike brande ingeperk kan word en deur middel van voorbrande en terugbrande beheer kan word. Hiervoor is samewerking tussen die verskillende grondeienaars nodig sodat elkeen sy individuele brandbane kan laat inskakel by die groter plan en dus ‘n gemeenskaplike, effektiewe netwerk van brandbane tot stand kan bring.
“Hoewel brandbane op elke eiendom die verantwoordelikheid van die individuele eienaar is, kan dit nie in isolasie gedoen word nie. Daarom is kommunikasie so belangrik, sodat elkeen presies weet hoe sy brandbane geposisioneer moet word om by die groter geheel in te skakel,” sê hy.
Lees meer oor veldbrande en onkruid.
‘n Belangrike doel van die vergadering, verduidelik hy verder, was om potensiële swakpunte in die brandbaan-netwerk te identifiseer en reëlings te tref om hierdie punte te versterk.
“Die uitdaging in ons spesifieke gebied is nie net die geweldige bergagtige aard van die omgewing nie, maar ook die sterk winde wat algemeen hier voorkom. Verder het ons ‘n mengsel van grondeienaars, van bestaansboere, kommersiële boere tot by nasionale parke en ekotoerisme. Daar is dus verskillende agendas rondom die gebruik van brande. Daarom is dit krities belangrik om al die rolspelers in een kamp te kry sodat ‘n gekoördineerde strategie in plek gestel kan word wat deur almal verstaan en gevolg kan word.
Veldbrande en bosbrande: Samewerking vir bekamping.
“Verskillende grondeienaars het die behoefte om op verskillende tye te brand, maar almal het die behoefte om veiligheid voorop te stel. In hierdie opsig speel die Brandbestrydingsvereniging ‘n belangrike rol, deurdat hulle staatsfondse beskikbaar het om brandbestryding te vergemaklik.”
Hy het al gesien, sê Mic, hoe vure vinniger teen die berghange op beweeg as wat ‘n mens kan hardloop. Dit maak dit uiters gevaarlik om in sekere gebiede brande te probeer bestry. Die strategie wat in hiedie gevalle gebruik word, is om van die brandbane af voorbrande, of terugbrande, te maak wat dan op ‘n gekontrolleerde manier die brandbare materiaal vernietig, sodat die veldbrand homself daarteen kan uitwoed. – Izak Hofmeyr, AgriOrbit