Estimated reading time: 7 minutes
Landbouleiers se reaksies was gemeng en gematig – maar nie geskok – oor minister van finansies, Enoch Godongwana, se derde poging om ’n 2025 begroting ter tafel te lê nie. Na twee gefaalde pogings het hy ’n derde begrotingsrede op 21 Mei gelewer en dié keer is dit onomwonde gestel dat die groot geskilpunt, belasting op toegevoegde waarde (BTW), nie sou styg nie.
Dít tesame met swakker ekonomiese vooruitsigte as wat die land in Maart gehad het, sal ’n fiskus-leemte van R61,9 miljard oor die volgende drie jaar laat, volgens die Tesourie se berekeninge. Om vir dié tekort voorsiening te maak het Godongwana egter sy belofte om nog produkte by die mandjie van BTW-kwytgeskelde produkte te voeg, teruggetrek. Die brandstofheffing sal ook nou vir die eerste keer in drie jaar op 4 Junie styg.
BTW-kwytskelding opgehef
“Die voorgestelde verhoging van die BTW-koers in 2025/26 en 2026/27 is laat vaar. Daarom verval die uitbreiding van die BTW-vrye mandjie, wat armer huishoudings teen BTW-verhogings moes beskerm,” het Godogwana gesê.
Die produkte wat vir belastingkwytskelding sou kwalifiseer was die eetbare afval van skaap, pluimvee, bokke, varke, en beeste – spesifiek koppe, pote, bene, tonge, suiwelvloeistofmengsels, en geblikte groente.
Dr Frikkie Maré, hoof uitvoerende beampte van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), sê die besluit is betreurenswaardig weens die invloed wat dit veral op arm verbruikers sal hê. “In ons opinie was daar nie baie items waar belasting afgeskaf sou word nie en tog sou dit daadwerklike verligting aan arm en gemarginaliseerde verbruikers gebied het.”
Aan die bedryf se kant gaan dit ook ’n bietjie seer maak. “Die feit is dat produkte teen ’n effense laer prys op die rakke sou kon beland en dít sou die vraag ’n bietjie opgestoot het,” sê dr Maré en voeg by dat dié verhoging dan weer tot ’n effense hoër prys sou gelei het, maar dit sou nooit 15% meer as die huidige produsenteprys gewees het nie.
Daar is ook ‘n kans dat BTW-kwytskelding abattoirs se lewensvatbaarheid ietwat sou kon verbeter en dít sou weer daartoe kon lei dat slagfooie ’n bietjie kon verlaag het. “Hierdie impak sou klein wees, maar dit sou ’n verskil gemaak het. Uiteindelik bly die grootste effek egter die verskil wat dit op arm verbruikers sou kon hê.”
Brandstofheffing verhoog
Nóg ’n plek waar die minister besluit het om die BTW-tekort te verhaal is by die algemene brandstofheffing (Tabel 4.3).

“Dit is die eerste brandstofheffingverhoging in drie jaar. Dit beteken die algemene brandstofheffing sal van 4 Junie af met 16 sent per liter vir petrol styg, en met 15 sent per liter vir diesel,” het Godongwana gesê.
Corné Louw, hoofekonoom van Graan SA, sê die brandstofheffing staan reeds op ’n wesenlike R3,66 per liter en dít verhoog nou tot R3,72 per liter. “Binne hierdie konteks is ’n verhoging van 15 sent nie vreeslik dramaties nie.”
“Ons moet egter onthou dat die graanbedryf wel uiters sensitief vir enige stygende koste is – veral stygings in energiekoste,” het Louw gesê en bygevoeg dat brandstof sowat 13% van ’n graanboerdery se lopende produksiekoste uitmaak.
Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, het kommer uitgespreek oor die verhoogde brandstofheffing. “Hierdie verhoging plaas ’n verdere las op ’n landbousektor wat reeds onder druk verkeer. Produsente stoei daagliks om boerdery winsgewend te hou. Brandstof is ’n kerninsetkoste en hierdie heffing gaan direkte gevolge vir voedselproduksie, vervoer, en uiteindelik vir voedselpryse hê. Sulke heffings wys nie ’n begrip van die realiteite waarmee landbou in Suid-Afrika gekonfronteer word nie.”
Louw sê ’n effense ligpunt is egter dat produsente dié koste deur middel van hul dieselrabat van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) kan terugeis. Produsente kan tans 40% van hul brandstofkoste op dié manier verhaal.
Infrastruktuur
Godongwana het verder aangevoer dat die staat beplan om oor die volgende drie jaar ’n triljoen rand aan infrastruktuur te spandeer. Die fondse sal op die instandhouding en herstel van bestaande infrastruktuur, die bou van nuwe infrastruktuur, en die verkryging van toerusting en masjinerie spandeer word.
“Ons sal op drie sektore fokus: Vervoer en logistiek (R402 miljard); energie (R219,2 miljard), en water en sanitasie (R156,3 miljard),” het Godongwana aangekondig.
Van Zyl sê ’n gesonde sake-omgewing behels nie net infrastruktuurbelegging nie, hoewel ons dit verwelkom, maar ook wetgewende sekerheid. “Dit sluit eiendomsreg in, waaroor onsekerheid heers weens beleid soos die Onteieningswet, asook die toenemende erosie van besitreg via swart ekonomiese bemagtigingsvereistes (SEB)-regulasies.
Staatskaping aangespreek
Godogwana het verder genoem dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se Batebeslagleggingseenheid (AFU) reeds hofbevele verkry het om R14,2 miljard se bates te vries en R8 miljard terug te kry van individue en/of entiteite wat met staatskaping verbind word. Hierdie fondse is aan die Kriminele Bateherwinningsrekening (CARA) oorbetaal.
Van Zyl sê hoewel dié poging om teen korrupsie op te tree verwelkom word, is dit nie voldoende as dit nie met strafregtelike gevolge gepaardgaan en tot daadwerklike strukturele verandering sal lei nie. “Kaderontplooiing, swak bestuur, en wanfunksionerende staatsinstellings bly ’n ernstige belemmering vir effektiewe dienslewering en die uitvoering van enige begroting. Dit is nie voldoende om korrupsie net in die rede aan te roer nie, dit moet in praktyk uitgeroei word.”
Alternatiewe befondsing bekyk
Godogwana sê om tekorte in die begroting verder aan te spreek, oorweeg die staat alternatiewe finansieringsinstrumente wat byvoorbeeld pensioenfondse, kommersiële banke, ontwikkelingsbanke, en internasionale finansiële instellings die geleentheid sal gee om die staat se infrastruktuur te help finansier. “Deur hierdie hervormings is ons van plan is om infrastruktuurbelegging te benut om die ekonomie se beperkings te verlig en toegang tot maatskaplike dienste te verbeter,” sê Godogwana.
Van Zyl hou egter vol dat onduidelike en ongunstige arbeidswetgewing, tesame met ideologiese beleidsrigtings, beleggers op ’n afstand hou en entrepreneurskap ondermyn. “Die huidige beleid om alles deur ’n ras- en bemagtigingslens te benader, eerder as ’n produktiwiteits- en groeilens, hou geen volhoubare oplossing in nie.”
Wat vir die TLU SA van die begroting uitstaan is die gebrek aan werklike ingryping om staatsbesteding te herstruktureer. “TLU SA is bekommerd dat daar steeds nie genoeg politieke wil is om van die ANC se ideologiese denkraamwerk weg te breek nie – een wat die mark wantrou, produktiwiteit ondermyn, en die ekonomie eerder verwurg as bevry,” sê Van Zyl.
Genade vir vleeslike plesiertjies
Higgins Mdluli, voorsitter van die SA Suikerrietkwekersvereniging, het dit verwelkom dat die regering besluit het om nie die gesondheidsbevorderingsheffing, beter bekend as suikerbelasting, te verhoog nie.
“Die heffing het die bedryf 16 000 werksgeleenthede en R2 miljard in omsetverliese in 2018 gekos toe dit die eerste keer in werking gestel is,” sê Mdluli en voeg by dat enige verhoging tot verdere werksverlies sou lei, en die lewensvatbaarheid van suikerrietprodusente in KwaZulu-Natal en Mpumalanga sou bedreig. “Werkloosheid is hoog in dié gebiede en daar is nie veel ander alternatiewe werksgeleenthede in die gebiede nie.”
Mdluli sê terwyl dié belasting verwoesting in die Suid-Afrikaanse ekonomie saai is daar geen bewyse dat dit die probleem van vetsugtigheid aanspreek of die gesondheid van Suid-Afrikaners op enige vlak verbeter het nie. “Ons hoop dat die regering uiteindelik dié belasting sal afskaf.”
Christo Conradie, bestuurder van wynbesigheid by Vinpro, het dit verwelkom dat die regering nie besluit het om die aksynsbelasting op alkoholiese drank te verander sedert die eerste begrotingsrede in Februarie 2025 aangekondig is nie (Tabel 4.7). “Die vorige afgekondigde koers is reeds geïmplimenteer en enige verdere veranderinge sal nie net tot bykomende administratiewe rompslomp lei nie, maar ook geweldige finansiële implikasies hê.”

Conradie sê enige verdere aanpassings sal die finale slag vir talle rolspelers in die wynbedryf wees, veral met die onsekerheid rondom die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (AGOA) en Amerikaanse invoertariewe, en kruipende beurtkrag. – Susan Marais, AgriOrbit





