In die vorige artikel oor bosluise is die broosheid van ’n bosluis beskryf, asook die noodsaaklikheid om so gou as moontlik ’n gasheer op te spoor met die verlies van so min as moontlik energie en water, om sy voortbestaan te verseker. Hoe weet ’n bosluis egter wanneer om bedag te wees op ’n gasheer se verskyning sonder om heeldag op ’n grasspriet te sit en wag? Hulle is ook hiervoor uitstekend aangepas!

Onder bosluisgeledere is daar twee tipes speurders. Die eerste groep sif deur die leidrade en storm dan met mag en mening op die gasheer af, vol vertroue dat ’n lekker bloedhappie in die vooruitsig is. Hulle word die jagtersbosluise genoem.

Die ander groep sal weer geduldig op ’n grashalm sit en wag. Eers as al die leidrade positief op ’n gasheer se aankoms dui, sal hulle hul voorpote uitstrek en so terloops aan die gedierte, wat verbygedrentel kom, vashaak sonder dat die arme gasheer eens agterkom dat hy ’n nuwe passasier bygekry het. Hulle stel dus ’n lokval vir hul maaltyddraer.

 Leidrade waarop bosluise reageer

Die belangrikste leidrade waarop bosluise reageer is vibrasies, reuke, stralingshitte en visuele buitelyne. Klankvibrasies kan baie gasheerspesifiek wees. So sal bloubosluise se monddele bewe van opgewondenheid as hulle vibrasies in die omgewing van 80 tot 800Hz, soos beeste wat in groen gras wei, waarneem.

Swaeltjies se geluide, wat vibrasies in die omgewing van 3 000 tot 8 000Hz veroorsaak, sal weer jaggedrag by sommige tipes jagtersbosluise ontlok. Vibrasies wat deur blaffende honde veroorsaak word, sal honde-bosluise se ogies laat blink en hulle uit hul krake in mure en hondehokke laat kom om die gasheer te bespring.

Algemene vibrasies, wat deur beweging in die veld veroorsaak word, sal ook enige bosluisspeurder se sintuie laat bontstaan vir nog leidrade wat kan aandui of dit dalk sy voorkeurhappie is wat aan die kom is. Die voordeel van vibrasies is dat dit ook die rigting vanwaar die gasheer aan die kom is, aandui.

Spesifieke voorkeure

Stimuli wat bosluise sal laat glimlag, hang ook af van hoe kieskeurig die bosluisspesie is om ’n spesifieke gasheer te bekom. Sommige spesies sal voor verskeie gashere se leidrade swig, terwyl dié met meer spesifieke voorkeure, byvoorbeeld die Asiatiese bloubosluis, wat meestal net op beeste voed, fyner deur die leidrade sal sif om seker te maak dat hulle op ’n bees land.

Reuke, wat deur ’n samestelling van CO2, waterdamp en bottersuur veroorsaak word, kan ’n baie spesifieke leidraad vir die opspoor van ’n gunsteling gasheer wees. Die verhouding van die drie bestanddele wissel van gasheer tot gasheer, en ’n bosluisspesie sal dus óf opgewonde óf neerslagtig raak as die regte of verkeerde kombinasie deur ’n briesie na hulle aangedra word.

Stralingshitte en visuele buitelyne is minder spesifiek, maar sommige bosluisspesies met goed ontwikkelde oë kan wel die buitelyne van hul gunsteling-gasheer herken en ander kan met behulp van skaduwees, veral vroegoggend en laatmiddag, ’n potensiële gasheer waarneem en die gepaste jag- of lokval-aksie inisieer.

 Waarneming van leidrade

Die bosluisies het nog nie al hulle geheime aan ons ontbloot nie, maar die organe wat lyk of dit hoofsaaklik verantwoordelik is vir die opspoor van gashere, neem die vorm van haaragtige strukture, uitstulpings en holtes, aan die voorkant van hul voorpote, aan.

Hierdie strukture dien as gevoelsreseptore vir vibrasies, drukveranderinge en ander meganiese stimuli, en kan ook stralingshitte en geur waarneem. Veral Haller se orgaan, ook op die voorpote, is skynbaar van belang vir die waarneem van geure.

Volgende keer sit die bosluisie die soektog voort om die lekkerste plek vir ’n happie op die dier se lyf op te spoor. –Ellie van Dalen

Vir meer inligting oor bosluisweerstandbiedendheidstoetsing, kontak Ellie van Dalen van die Parasiet Weerstandbiedendheidstoetsfasiliteit by die Departement Dierkunde en Entomologie aan die Universiteit van die Vrystaat by vdalenem@ufs.ac.za of 083 388 5539.

 

Bosluise en hulle streke: Draers van geniepsige maatjies

Bosluise en hulle streke: Oorlewing in ’n wrede wêreld

Bosluise en hulle streke: Kieskeurige bloedvreters

Bosluise en hulle streke: Moederliefde?

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY