In ‘n vorige artikel het ons gesien hoe goed bosluise se monddele aangepas is om hul geliefde happie, bloed, in te neem, maar wat gebeur gedurende die lang tydperke waartydens die wesentjies nog in die volle hoop lewe om hul gunsteling gasheer te ontmoet?

Hierdie deel van hul lewensverhaal, soekend na ’n gasheer, broos en blootgestel aan die wrede wêreld van son en wind en weer wat knaend daarop uit is om hul energie te steel en hulle soos rosyntjies uit te droog, duur gewoonlik die langste.

Hulle moet dus baie oordeelkundig te werk gaan met die energie wat hulle van hul vorige bloedmaal verkry het en so min as moontlik aapstreke uithaal, om seker te maak dat hul vogbalans voldoende bly.

Hoe kry hulle dit reg?

Hulle is oulik aangepas om hierdie uitdagings te troef deur bloot hul gedrag by omgewingstoestande aan te pas. Die mamma-bosluis se bydrae is om ’n lekker snoesige, warm en vogtige, beskutte plekkie onder plantmateriaal of klippe te “soek” om haar eiertjies te lê nadat sy van die gasheer afgeval het.

Sy skei ’n slymerige stof af vanaf ’n area op die monddele om die eiertjies in ’n wasagtige kombersie toe te vou, wat hulle help om soms vir maande te oorleef sonder om uit te droog. Die uitbroei van die eiertjies sinkroniseer dikwels met die eerste reënval van ’n seisoen sodat die larwes wat uitbroei genoeg water kan opneem om baldadig, soos wafferse oorgretige peuters, die graspolle te bestyg in die soektog na ’n gasheer.

Ongelukkig tree die werklikheid hier in en al die arme bosluisstadiums wat ’n gasheer moet soek, naamlik die larf (eengasheerbosluis), larf en volwassene (tweegasheerbosluis), en larf, nimf en volwassene (driegasheerbosluis), kom gou agter dat dit allesbehalwe pret is om ’n grasspriet te beklim en te lank daarop te vertoef in die hoop dat ’n gasheer-restaurant verbykom.

Hoekom? Want dit verg energie om op te klim en op die grasspriete is hulle baie meer blootgestel aan uitdroging. So, hul jagekspedisies moet aangepas word by die omgewingstoestande, en na ’n dag of twee op die grasspriete is hulle genoop om na die grondvlak terug te keer om hul voginhoud  weer aan te vul.

Morfologiese aanpassings

Buiten hierdie gedragsaanpassing, is hulle ook morfologies aangepas om uitdroging te voorkom en energie te bespaar. Hul vel is met ’n wasagtige lagie bedek, wat verdamping van water deur die vel verminder.

Hul asemhalingsopeninge (spirakels) maak in ongunstige toestande, of as die bosluis se voginhoud aan die lae kant is, baie minder oop en toe (ongeveer een tot twee keer per uur in vergelyking met tot 15 keer per uur as hulle aktief is). Die aksie van oop- en toemaak van die spirakels is baie energie-intensief en wanneer die openinge oop is, gaan baie water daardeur verlore, so hierdie morfologiese aanpassing kry ’n regmerkie vir beide energie- en waterbesparing.

Fisiologiese aanpassings

Fisiologies is hulle ook aangepas om water te bespaar en energie-doeltreffend te wees. Buiten dat hulle passief water uit die omgewing kan absorbeer in ’n omgewing met hoë vog, kan hulle ook, spesiespesifiek, aktief water by ’n laer humiditeit absorbeer, maar dit vreet energie en sal afhang van die behoefte aan vog.

Onder ongunstige toestande verlaag hulle hul metabolisme om energie te bespaar en waterverlies word beperk deur water vanaf hul ontlasting te absorbeer om ’n droë, poeieragtige uitskeiding op te lewer. Hulle gebruik ook water wat deur metaboliese prosesse gevorm word om energie te voorsien en hul waterbalans in stand te hou. –Ellie van Dalen

Vir meer inligting oor bosluisweerstandbiedendheidstoetsing, kontak Ellie van Dalen van die Parasiet Weerstandbiedendheidstoetsfasiliteit by die Departement Dierkunde en Entomologie aan die Universiteit van die Vrystaat by vdalenem@ufs.ac.za of 083 388 5539.

 

Bosluise en hulle streke: Kieskeurige bloedvreters

Bosluise en hulle streke: Moederliefde?

Bosluise en hulle streke: Speurders van formaat

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY