Bonsmarabedryf groet ‘n legende

Estimated reading time: 3 minutes

Hennie Coetzee, ’n man wat baie diep spore in die landbou-gemeenskap getrap het, is op 2 Augustus 2023 oorlede na ’n lang siekbed. As jy egter terugkyk op sy nalatenskap staan jy verstom oor waar hy oral betrokke was en met hoeveel sukses hy, nie net sy plaas nie, maar ook verskillende ander organisasies waar hy betrokke was, bestuur het.

Hennie se familie het op die plaas Koedoeskop anderkant Niekerk geboer, maar sy pa, Coenie, het die plaas Lowerland in 1965 gekoop en dit is waar Hennie ook begin boer het. Hulle was van die eerste produsente wat in die 80’s met besproeiing begin het.

Hennie het na sy studies aan die Stellenbosch Universiteit eers vir ’n ruk by die destydse Graanraad gewerk voordat hy en sy vrou, Riza, hulle op die plaas buite Prieska kom vestig het.

Hennie het nie geskrik vir nuwe uitdagings nie en het ook nie gerus voordat dit wat hy aangepak het, nie ’n sukses was nie. Hy was ondermeer aangewys as die Voermol Nasionale Veeboer van die jaar asook die Landbouskrywers se Boer van die Jaar vir die Noord-Kaap.

Omdat hy ook ’n belangstelling in wynbou gehad het, het hy en sy seun, Bertie, reeds verskeie top wyne op die internasionale mark gesit en ’n rits toekennings ontvang vir hul harde werk.

Bonsmaras was sy passie

Hennie se groot trots was sy Bonsmarastoet. Hy was vir sowat 20 jaar die eienaar van Hencoe Bonsmara-stoet en het sommer vinnig homself bewys as een van die top Bonsmaratelers in die land. Kopers het elke jaar duisende kilometer gereis om bulle uit sy stoet aan te koop.

Hennie het ook geglo dat ’n mens by ander kan leer én dit wat jy weet moet jy met ander deel. Daarom het hy in 2014 betrokke begin raak by die Bonsmara Raad waar hy veral gewerk het in die Bonsmara Akademie Portefeulje van die genootskap. Hier was hy baie betrokke by die onderskeie Bonsmaraklubs en die Bonsmara Teler-ondersteuning waar hulle telers besoek het en keurings gedoen het. In 2018 en 2019 was Hennie ook aangewys as die Voorsitter van die Nasionale Bonsmara Raad.

Lees meer oor Bonsmara SA se onlangse nasionale veiling van vroulike diere hier.

Louis Steyl van die genootskap, sê Hennie se groot nalatenskap was die besigheidsgeoriënteerde beginsels wat hy in die genootskap ingebring het. Hy het hom beywer om bemarkingsgeleenthede en nuwe markte vir die telers te ondersoek.

“Sy uitgangspunt was dat ’n organisasie nie kan floreer as sy lede nie floreer nie. Daarom het hy alles in sy vermoë gedoen om geleenthede vir telers oop te breek,” vertel Louis.

Hennie was nie iemand wat net op sy eie werf gevee het nie. Hy het op verskeie ander instansies en organisasies ook gedien. Hy was ondermeer vir etlike jare op die GWK-raad waar hy ook vir ’n paar jaar as voorsitter opgetree het. Hy was sedert 1997 ’n direkteur van GWK, van 2017 tot 2020 was hy die ondervoorsitter en van 2020 tot 2021 was hy die voorsitter van GWK.

Baie mense het opgekyk na Hennie. Piet Roux, voorsitter van die Prieska Landbou-unie, sê hy het op vele terreine in die gemeenskap sy stempel afgedruk en op baie gebiede bydraes gelewer wat dikwels ongesiens verbygegaan het. Hy het nooit na eer gesoek nie, maar sy bes probeer om die omgewing waarin hy beweeg beter agter te laat.

Hennie word oorleef deur sy vrou, Riza, en twee seuns, Nolte en Bertie. – Koos du Pisanie, Plaas Media

RSG Landbou: 2 Oktober 2023 – geborg deur Plaas Media

Goeie nuus vir landbou en inwoners wat afhanklik is van water uit die Kougadam...

Plaas TV: Klimaatslim boerdery, AFMA Forum, Agbiz Graan- en Oliesade-simposium en Kubota-trekkers

Hierdie week het Plaas TV weereens vir interessante kykstof gesorg en vandag is #kykweervrydag. Hier is...

Strategies for managing seasonal infertility in pigs

Estimated reading time: 7 minutes The phenomenon of seasonal infertility among pigs is real,...

Avoid unilateral changes to the employment contract

Estimated reading time: 4 minutes The employment contract can be of immense value to...