Bonsmara SA sien uit na 2023 se Rooi Ras-geleentheid

Estimated reading time: 4 minutes

Bonsmara SA sien uit na Maart, want dan is dit Bonsmara-maand. Met die nuwe jaar wat voor ons lê met al sy uitdagings en geleenthede kan Bonsmara-liefhebbers weer na die jaarlikse Dié Rooi Ras-geleentheid en Nasionale Veiling uitsien. Hierdie jaarlikse hoogtepunt op die kalender sorg elke jaar vir baie opwinding.

ʼn Terugblik na 2022 se geleentheid

Vir Bonsmara-telers het die week op ’n hoogtepunt afgeskop. Medeteler en president van Suid-Afrika, Cyril Ramaphosa, het die kommunikasie-oggend bygewoon en ’n paar gedagtes met die teenwoordige telers gedeel. Sy toespraak is deur ’n suksesvolle oggend en algemene jaarvergadering opgevolg en so is die Bonsmara-veiling ingelui.

Talle telers, kommersiële produsente en belangstellendes het Dié Rooi Ras-geleentheid bygewoon. Dit was duidelik dat die gebrek aan sulke byeenkomste gedurende die Covid-19 pandemie mense vir samesyn uitgehonger het.

Met bekwame ontleders soos Theo Vorster en Wandile Sihlobo kon die gehoor weer ’n idee kry van waar landbou in Suid-Afrika ten opsigte van die politieke sowel as ekonomiese landskap staan. Die oggend is met ons eie Chris Visser van Skatkis Bonsmaras afgesluit. Hy het van sy ervaring as deelnemer aan die Dakar-tydren gedeel en vertel hoe deursettingsvermoë hom gehelp het om die moeilikste motorwedren ter wêreld te voltooi.

Kyk na ‘n Plaas TV-video oor verlede jaar se geleentheid:

Verlede jaar se Bonsmara SA Nasionale Veiling het hoogtepunte opgelewer met verskeie rekords wat gespat het. Lot 9, ’n pragtige 3-in-1 koei uit die Up George Bonsmaras-stal van Derek en Tutu Ralfe, is vir ’n allemintige R550 000 aan Eloff Muller van Tambaraine Bonsmaras in Mosselbaai verkoop.

Hierdie rekord is opgevolg met ’n dragtige vers, ook van Up George Bonsmaras, wat vir R200 000 aan André van der Heyde van Boschoek Bonsmaras in Roedtan verkoop is. Talle ander diere het ook skitterende pryse op die veiling behaal, wat weereens bevestig dat diere met uitsonderlike genetiese potensiaal en bouvorm altyd ’n premie werd is.

Waarna sien ons uit in 2023?

Die 2023 Bonsmara SA-geleentheid is reeds in aanloop en beloof om weer ‘n geleentheid te wees wat geen persoon in die beesbedryf behoort te mis nie.

Soos in die verlede begin die week begin reeds op Dinsdag 14 Maart vir stoettelers met die kommunikasie-oggend en algemene jaarvergadering. Beide hierdie geleenthede is slegs vir telers.

Laatmiddag vind die Bonsmara SA Nasionale Veiling se ‘kyk weer’ plaas, waar daar ʼn besigtigingsgeleentheid van die diere op aanbod is, sowel as geleentheid om te sien hoe streng Bonsmara SA sy rasstandaarde toepas. Hierdie geleentheid is oop vir alle belangstellendes.

Op 15 Maart 2023 begin ons om 08:30 met Dié Rooi Ras-geleentheid wat by Stonehenge River Lodge in Parys aangebied word. Die geleentheid beloof om weer insiggewend te wees met dr Frans Cronje wat vir ons ’n idee gaan gee van wat ons as Suid-Afrikaners op die politiese front kan verwag. Is ons dalk besig om ‘n keerpunt te bereik?

Die oggend sluit met ’n motiveringspraatjie van Braam Malherbe af. Braam is ’n avonturier wat al verskeie bykans onmoontlike uitdagings aangepak en voltooi het. In tye waartydens daar soveel onsekerhede is, kan almal bietjie krag en hoop uit sy praatjie put.

Vanaf dié geleentheid word daar oorgeskuif na die Afridome in Parys, waar die Bonsmara SA Nasionale Veiling om 12:00 sal afskop. Hierdie veiling is natuurlik ’n hoogtepunt in terme van die veilingskalender, want dit bied kopers toegang tot uitsoekgenetika van kuddes regoor die land.

Die aanbod sal weer slegs vroulike diere wees want met 105 produksieveilings jaarliks is daar genoeg geleenthede waar kopers die beste bulle in hulle eie area kan koop. Hierdie uitnemende kwaliteit vroulike diere stel die maatstaf vir funksionele doeltreffende, aangepaste Bonsmaras.

Bonsmara SA nooi almal uit om te kom deel in die fees om ’n Bonsmara-boer te wees.

Klik hier vir toegang tot die jongste Dié Rooi Ras-tydskrif.

Vir enige navrae kontak vir Louis Steyl by louis@bonsmara.co.za.

Plaas TV: Klimaatslim boerdery, AFMA Forum, Agbiz Graan- en Oliesade-simposium en Kubota-trekkers

Hierdie week het Plaas TV weereens vir interessante kykstof gesorg en vandag is #kykweervrydag. Hier is...

Strategies for managing seasonal infertility in pigs

Estimated reading time: 7 minutes The phenomenon of seasonal infertility among pigs is real,...

Avoid unilateral changes to the employment contract

Estimated reading time: 4 minutes The employment contract can be of immense value to...

Snotsiekte: ’n Taai tameletjie

Estimated reading time: 5 minutes Snotsiekte is ’n dodelike virussiekte wat deur wildebeeste na...