Estimated reading time: 3 minutes
Bonsmara SA se jaarlikse nasionale veiling vir vroulike diere, ‘n hoogtepunt op die veilingskalender, het vanjaar goeie pryse opgelewer. Dit ondanks verskeie negatiewe faktore wat produsente in ‘n drukgang plaas. Lae vleispryse, die swak ekonomiese klimaat en die onsekere politiese landskap danksy volgende jaar se nasionale verkiesing is van die belangrikste uitdagings wat die bedryf in die gesig staar.
‘n Belegging in die Bonsmara
Louis Steyl, uitvoerende hoof van Bonsmara SA, sê gegewe die uitdagende ekonomiese toestande, is die genootskap hoogs tevrede met die veiling. Vleissentraal het die veiling in samewerking met die aanlynplatform, SwiftVee, by die Afridome in Parys aangebied. Die afslaer was Mike Killassy.
Volgens Steyl, is dit veral verblydend dat jong telers goeie pryse vir hul diere ontvang het en dat nuwe toetreders tot die mark, veral in die opkomende mark, diere aangekoop het. Dit wys die bereidwilligheid om in die Bonsmara-ras te belê en sodoende hul kuddes met gehalte diere aan te vul. “Dit is vir seker ‘n mark waarby Bonsmara SA meer betrokke wil raak.”
Goeie aanbieding en gemiddelde
Allan Sinclair, besturende direkteur van Vleissentraal Bloemfontein, sê die aanbieding van 50 vroulike diere, wat dragtige koeie, koeie met kalwers, en dragtige verse insluit, was van hoogstaande gehalte. Dit het verkopers ‘n rede gegee om in die lig van die uitdagende ekonomiese toestande te glimlag.
“Die keurders was baie streng ten opsigte van die diere wat aangebied is en dit is juis die uitgangspunt van Bonsmara SA om van hierdie veiling ‘n super elite geleentheid te maak waarop top telers hul beste genetika aan die mark beskikbaar kan stel.” Sinclair sê ook die veilingsgemiddeld sien goed daarna uit, al is dit ietwat laer teenoor verlede jaar se gemiddeld. Altesaam 28 dragtige verse is aangebied en al 28 is teen ‘n gemiddelde prys van R88 392 verkoop. Koeie met kalwers het ‘n gemiddelde prys van R106 000 behaal en dragtige koeie ‘n gemiddelde prys van R46 666. Die gemiddelde prys vir drie-in-een koeie was R110 000.
ʼn Vers behaal die rekordprys
Die hoogste prys van R260 000 is vir ‘n dragtige Bonsmara-vers, LAR 20-0271, van Derek en Tutu Ralfe se Up George Farms in KwaZulu-Natal, betaal. Hierdie prys is ‘n nuwe nasionale rekordprys vir die genootskap. Up George Farms is een van die oudste en mees gevestigde stoeterye in die land. Die koper was Eloff en Stephen Muller van Tambaraine Bonsmaras in Mosselbaai.
Tambaraine Bonsmaras, wat hoofsaaklik met Dohne Merino’s teel, het in 2021 tot die Bonsmara-bedryf toegetree. Derek Ralfe sê hy is baie tevrede met die goeie gehalte van LAR 20-0271 en die prys wat hy vir hierdie uitsonderlike vroulike dier, wat fenotipies korrek is, ontvang het. Sy het die nodige breedte en diepte en sy beskik oor goeie teelwaardes soos 119 (kalwingsgemak), 116 (speenkalfwaarde), 101 (vrugbaarheid), 111 (koeiwaarde), 100 (groeiwaarde) en 109 vir karkaswaarde.
UP George Farms het nog ‘n dragtige vers (LAR 20-0156) vir R170 000 aan Tambaraine Bonsmaras verkoop. ‘n Dragtige koei met ‘n kalf, SYF 19-0207 van Nico Pieterse se Syferfontein Bonsmaras, is vir R190 000 aan Pieter Labuschagne van Bendito Bonsmaras by Hoopstad verkoop. Syferfontein Bonsmaras het ook ‘n drie-in-een, ADV 18-0113, vir R160 000 aan Ahmed Bhamjee van Bhamjee Bonsmaras in Mpumalanga verkoop.
Aanhouer wen
Sinclair sê die uitdagings in die lewendehawebedryf is groot en toestande is taai danksy die uitbreking van bek-en-klouseer en die speenkalfprys wat met tussen 20 en 30% afgeneem het. Daarmee saam het insetkoste die hoogte ingeskiet. Dit is daarom te verstane dat produsente versigtig is, maar hy glo vas dat boere die vermoë het om vas te byt in hierdie uitdagende toestande. – Christal-Lize Muller, AgriOrbit
Vir meer inligting kontak Louis Steyl by 084 815 9487 of louis@bonsmara.co.za of Allan Sinclair by allan.sinclair@vleissentraal.co.za.