Die eerste sooi van Terugploeg se nuwe verpakking-, verwerking- en verspreidingsfasiliteit is op 24 Februarie 2021 gespit.

Die Terugploeg-inisiatief, onder die vaandel van die Atterbury Trust, is amptelik op 17 November 2020 bekendgestel. Die Covid-19-pandemie het aansienlike swaarkry voor Suid-Afrikaners se deure gelê, maar dit het ook wonderlike inisiatiewe van naasteliefde en omgee tot gevolg gehad. Boere, die privaatsektor en individue, span nou saam om minderbevoorregte gemeenskappe te help.

Volgens Lood Bester, medestigter van Terugploeg, het hulle gedurende die inperking bewus geraak van die enorme kosnood in sekere Afrikaans-sprekende gemeenskappe. Hierdie hulpbehoewendes het geen ondersteuning vanaf amptelike bronne ontvang nie.

Terugploeg betrek boere

Bester en sy vriende het ingespring en hul informele voedsel-insamelingsaksies het vinnig momentum gekry. Só is ’n netwerk van boere ook betrek. Boere van so ver as Letsitele en Groblersdal het betrokke geraak en tonne groente, vrugte en wildsvleis geskenk.

Die voorraad is by Vibro Bricks in Pretoria afgelaai. Daar is die kos in kleiner porsies verdeel en met Vibro Bricks-bakkies onder ouetehuise, kinderhuise en skole uitgedeel. Instansies is geverifieer om egte nood te bepaal en om te help waar dit die nodigste is.

Die Terugploeg-fasiliteit.

Die Terugploeg-onderneming het vinnig gegroei en danksy Faan en Dirk van der Walt, stigters van WeBuyCars, kan Terugploeg eersdaags hul eie hoofkantoor vestig. Die grond van 8ha, langs die N4 in die ooste van Pretoria, is deur WeBuyCars geskenk en benewens die kosverwerkingsfasiliteit en koelstoor, word ’n groente- en vrugtetuin asook ’n klerebank beplan. Werkskepping en opleiding is ook deel van hulle doel.

Tot dusver is 25 organisasies gehelp, 73 ton voedsel geskenk en 292 000 etes bedien.

Volgens Bester begin konstruksie sodra hulle planne goedgekeur is. Hulle hoop om op 1 Julie vanjaar hul deure te open. – Lise Roberts, AgriOrbit