sprinkane

Estimated reading time: 2 minutes

Boere in Bultfontein moes vinnig beweeg om te verseker dat hulle en hul bure se oeste, nie deur sprinkane verwoes word nie. Dit volg nadat sprinkane verlede week met die sterk wind in die Vrystaat aangekom en op oeslande rondom Bultfontein neergedaal het. Dit het egter groot koste-implikasies gehad en Vrystaat Landbou (VL) het ingestem om R60 000 by te dra tot die koste wat hierdie boere reeds aangegaan het om te voorkom dat die swerms na ander plase verhuis.

Beheer van treksprinkane

Die beheer van treksprinkane word deur die Wet op Landbouplae, 1983 (Wet 36 van 1983) bestuur, en deur die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling geadministreer. Laasgenoemde het die verantwoordelikheid om treksprinkane vanuit hul De Aar-kantoor te beheer.

Volgens VL se streeksverteenwoordiger in die Bultfontein-omgewing, André van Rensburg, “was die stelsel nie gereed om die swerms te hanteer nie en moes boere hul eie planne maak, omdat ‘n uitbreking van sprinkane meer as 15 jaar laas so ver in die Vrystaat versprei het. Die grondeienaars het verantwoordelikheid aanvaar om uitbrekings deur middel van ‘n WhatsApp-groep wat deur VL geskep is, aan te meld en te help met beheer.”

Maak ‘n bydrae

Dr Jack Armour, kommersiële bestuurder van VL, sê die organisasie doen ‘n beroep op die publiek om bydraes vir lugbespuiting en gifkoste te maak. Dit sal help dat boere kan aanhou spuit in ‘n poging om te keer dat die swerms na ander provinsies beweeg. Bydraes kan óf direk in die Bultfontein Distriksboereunie-rekening óf aan VL se rampbestuursfonds betaal word. Die bydrae sal naburige streke in Bultfontein en Glen, noord van Bloemfontein, ook help.

Armour sê ook dat VL alle betrokke gebiede sal help met die verkryging van die nodige opleiding en toerusting, in samewerking met die Departement, ter voorbereiding van wanneer die eiers wat deur hierdie sprinkane gelê is, uitbroei. Dit gebeur ná die lentereën en sal dringend gekontroleer moet word terwyl hulle nog in die vakkerstadium is. – Vrystaat Landbou

Vir meer inligting, kontak André Janse van Rensburg, streeksverteenwoordiger, Vrystaat Landbou by sel 082 573 8867; dr Jack Armour, kommersiële bestuurder van Vrystaat Landbou by sel 071 672 0271 of epos jack@vslandbou.co.za; of Elana Bester, Vrystaat Landbou se mediabeampte by 083 483 1859 of elana@vslandbou.co.za