Die Agri Securitas Trustfonds het onlangs geld vir die beskerming van boere en hul plaaswerkers deur gespesialiseerde tegnologie bewillig. Dié geld en boere se planne help hulle om hulself en hul plaaswerkers teen misdaad en geweld te beskerm.

Read it in English. 

Tegnologies gevorderde kamerastelsels word in die Kiepersol-distrik in Mpumalanga, Vierfontein-distrik in die Vrystaat en die Potgietersrus-distrik in Limpopo ontplooi om verdagte persone en voertuie in die gebied te monitor. Dié kamerastelsels, wat deur ’n beheerkamer gemonitor word, verskaf ’n permanente observasievermoë oor die hele gebied waardeur misdadige aktiwiteite opgemerk en daarop gereageer kan word.

“Die tegnologie, wat as beskermingsmaatreël ingespan word, is nie ’n waarborg dat ’n plaasaanval of misdaad sal plaasvind nie,” sê Japie Grobler, voorsitter van die Agri Securitas Trustfonds. “Dit kan egter ’n aanval vertraag of bemoeilik, wat aan slagoffers die geleentheid bied om dit af te weer.”

Van die planne wat tegnologie insluit, behels integriteitskeuringstelsels soos dié wat deur Agri Hertzogville in die Vrystaat ingespan word om die veiligheid van die gemeenskap te bevorder. Dié stelsel word gebruik om persone wat by kriminele aktiwiteite betrokke is en ’n moontlike veiligheidsrisiko vir die gemeenskap kan inhou, vooraf te identifiseer.

“Misdade soos veediefstal, die diefstal van skroot- en koperkabels en die vernietiging van plaasinfrastruktuur neem in die boerderygebiede toe. Boere lei verder toenemende skade weens die diefstal van groot hoeveelhede plaasprodukte, landbou-insette en toerusting, wat ’n wesenlike invloed het op boere se winsgewendheid,” sê Grobler.

“Landbouers word blootgestel aan gewapende rowe, met die gepaardgaande lewensverlies en trauma. Die Agri Securitas Trustfonds probeer om boere en plaaswerkers op ’n praktiese en tasbare wyse te ondersteun met hul finansiële bydraes en beskermingsmaatreëls in die stryd teen misdaad.”

Die Agri Securitas Trustfonds gee ook erkenning aan sy strategiese vennote, naamlik Nissan SA, Sanlam, CrisisOnCall en Sonfin, vir hulle jarelange ondersteuning. Maatskappye soos NWK, Senwes en Santam Landbou is jarelange borge van die fonds.

“Sonder hierdie ondersteuning sou dit ’n onmoontlike taak gewees het om ons boere en plaaswerkers te help beskerm,” sê Grobler. – Persverklaring

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY