Saturday, April 1, 2023

Boerboktelers moet vóór 2025 by nuwe vereistes aanpas

Estimated reading time: 3 minutes

Suid-Afrikaanse Boerboktelers het net twee jaar om by die nuwe registrasievereistes van die SA Boerboktelersvereniging aan te pas. Indien hulle dit nie doen nie, sal hulle vanaf 2025 nie hul stoetdiere op veilings kan aanbied of aan skoue kan deelneem nie, sê Mac-Hendrik Jordaan, voorsitter van die Wes-Kaapse Boerbokklub.

Jordaan sê die Boerbok is ’n Suid-Afrikaanse landras. Alle Boerbokstoettelers in Suid-Afrika moet by die SA Boerboktelersvereniging, by ’n Boerbokklub en by SA Stamboek geregistreer wees. Om ʼn Boerbok by SA Stamboek te registreer, moet die eienaar ’n lid van die SA Boerboktelersvereniging wees.

“Volgens die nuwe registrasievereistes van die SA Boerboktelersvereniging, sal Boerboktelers van 2025 net volledige stoetdiere (SP-diere) op klub-, streek- of nasionale Boerbokveilings kan aanbied, of met dié diere aan skoue kan deelneem. Telers wat nie betyds hierby aanpas nie, sal vanaf 2025 nie aan skoue kan deelneem of diere op veilings kan aanbied nie,” sê Jordaan.

Alle Boerboktelers het ’n regverdige kans

Om alle Boerboktelers ’n regverdige kans te gee om hul registrasies en oorplaatjies volgens die nuwe voorskrifte in plek te kry, is daar ’n infaseringperiode wat oor twee jaar strek. “Basisdiere word vanaf 2023 nie meer toegelaat nie. In 2023 sal A-, B- of SP-diere aan skoue kan deelneem of op veilings aangebied kan word. In 2024, sal B- en SP-diere toegelaat word en vanaf 2025 net SP-diere.”

Jordaan sê alle Boerbokke wat van 2023 op veilings aangebied word of waarmee geskou word, moet dus deur ’n keurder van die vereniging gekeur word en by SA Stamboek geregistreer wees.

’n Basisdier is ’n Boerbok wie se ma en pa onbekend is, maar die dier self is gekeur en opgegee by SA Stamboek. Soos die diere verder opgeteel word, word dit by die vereniging in A-, B- of SP-afdelings aangeteken.

“’n Basis-dier kan na ’n A-dier opgeteel word as dit met ’n A-, B- of SP-dier gekruis word. Om die A-dier op te teel na ’n B-dier, moet die A-dier met ’n ander A-dier of ’n B- of ’n SP-dier gekruis word. ’n B-dier kan na ’n SP-dier opgeteel word as dit met ’n ander B-dier of ’n SP-dier gekruis word,” sê Jordaan.

Almal wat Boerbokstoettelers wil wees, moet dus so gou moontlik hul Stamboek-registrasies in plek kry. Diere moet gekeur word en die inligting moet aan SA Stamboek deurgegee word.

Lees meer van hierdie verhaal waar boervrou boerbokteler geword het hier.

Nuwe plaatjiestelsel vir Boerbokke

Boerboktelers moet ook onthou dat die SA Boerboktelersvereniging se plaatjiestelsel ook verander. Voorheen het net stoetdiere oorplaatjies gekry en die telers het die oorplaatjies by hulle gehou. Van 1 Maart 2023 af kry alle gekeurde diere – kudde, sowel as stoetdiere – oorplaatjies en die oorplaatjies is nou by die keurders, sê Jordaan.

Lees meer oor hoe ‘n goeie Boerbok lyk.

“Selfs Boerbokke wat die land uitgaan wat jonger as tien maande of tweetand is en nog nie gekeur kan word om ’n stoetplaatjie te kry nie, sal ’n spesiale plaatjie kry. Geen dier kan dus die land uitgaan sonder ’n keuringsplaatjie nie.”

Die kleure van die oorplaatjies van kudde en stoetdiere verskil. Die oorplaatjies is van plastiek en kan net een keer gebruik word. Daar kan nie met die oorplaatjies gepeuter word nie, wat die kopers van Boerbokke groter gemoedsrus sal gee, sê Jordaan. – Hugo Lochner, AgriOrbit

Speen van kalwers en dragtigheidsondersoeke as deel van ’n produksieplan

Estimated reading time: 0 minutes Die Suid-Afrikaanse beesbedryf het 'n behoefte aan 'n nasionake...

The Land Bank: Challenges and prospects

Estimated reading time: 7 minutes The Land Bank has been struggling to fulfil its...

Grondeise: Die pligte van kopers en verkopers van plase

Estimated reading time: 5 minutes Onafgehandelde grondeise begin toenemend 'n faktor raak by die...

Die veranderende Suid-Afrikaanse volstruisbedryf

Estimated reading time: 7 minutes Die Suid-Afrikaanse volstruisbedryf is die wêreldleier in terme van...