Estimated reading time: 3 minutes
Geskiedenis is in die stilligheid gemaak toe VEA Stud Breeders van Bonnievale in die Wes-Kaap onlangs die boerbokram, Next Level (762-22-1427), teen ’n allemintige R2,3 miljoen (BTW uitgesluit) by Lukas en Abraham Burger, eienaars van die Lukas Burger Boerbokstoet, gekoop het.
Dié inligting het tydens vanjaar se SA Boerbok-wêreldskou by die Bloemskou rugbaar geword, kort nadat Next Level as die wêreldkampioen agttandram aangewys is.

William Smit, besturende direkteur van VEA Agri & Tourism, sê hierdie was nie ’n oorhaastige koop nie. Hulle het ’n hele paar keer na die ram en sy nageslag gekyk om seker te maak dat hulle optimale genetika aankoop.
Vandag beskryf Smit Next Level as die mees fenotipies korrekte ram wat hy nog ooit gesien het – perfek in balans, al is hy ongelooflik groot in struktuur en die perfekte kleur. “Dit was ’n privaattransaksie, want hierdie is nie die tipe genetika wat enigiemand sommer op ’n veiling sal sit nie.”
Nuwe era vir bokboerdery
Smit sê hierdie transaksie vestig nie net ’n nuwe finansiële mylpaal in die boerbokbedryf nie, maar weerspieël ook VEA Agri & Tourism se vaste verbintenis tot genetiese uitnemendheid.
VEA Stud Breeders is die VEA Agri & Tourism-besigheidsarm waaronder hul boerbokbedrywighede geskied. “Ons glo elite-genetika soos dié van Next Level vorm die kern van ’n wêreldklas-stoetboerdery,” sê Smit. “Hierdie aankoop pas perfek in by ons langtermynstrategie om ‘n wêreldleier in boerbokproduksie te wees.”
Smit glo vas dat Next Level nie net sy naam gestand doen nie, maar ook die vlak waarop Suid-Afrikaanse boerbokstoete funksioneer, verhoog.
“Ons visie by VEA Stud Breeders is om die wêreld se grootste, swaarste (200kg) en snelgroeiendste boerbokke te teel – met ‘n volledige fokus op beide genotipiese en fenotipiese korrektheid op stoetvlak, en uitsonderlike groei- en karkasvermoë op kommersiële vlak. Next Level is presies dit: ’n Unieke teeljuweel wat ons stoetbedryf na nuwe hoogtes neem.”

Hoekom dié bok?
“Die geskiedenis van Boerbok-stoetery leer ons dat daar net af en toe ’n uitsonderlike uitskieter geteel word – ’n ram wat ’n hele bedryf herdefinieer,” sê Smit. “Hierdie ramme is van onskatbare waarde en vorm die hoekstene van nasionale en internasionale genetiese vooruitgang.”
Lukas Burger se stoet het oor dekades talle invloedryke ramme opgelewer, byvoorbeeld Divan, KZ, Classic, Cruiser, Maestro, Tolla, Sako, Maserati, Mocha, Porsche, Poker, Faf, Link en Top-Notch. Al hierdiebokke is teen rekordpryse verkoop. Die mees onlangse hiervan, Formula One, is ook deur VEA aangekoop vir R1,050 miljoen.
Teler, Abraham Burger, sê egter Next Level is in ’n klas van sy eie. Tans is daar geen plaasvervanger van gelyke gehalte in hul stoet nie – en moontlik nêrens anders in die wêreld vir die volgende 30 tot 40 jaar nie. Sy genetiese afstamming is indrukwekkend: Hy is geteel uit die ram, Faf (’n Jaco-ram uit die Conveyer- en Slingshot-lyn), en ’n ooi uit die Lexus-lyn, wat weer uit die bokke, Dakar en Ystervark, stam. – Susan Marais, Plaas Media

