Tuesday, December 16, 2025

Bloutong maak amok in Noord-Kaap

Estimated reading time: 4 minutes

Bloutong, veral onder Merino’s en ander skape van Europese herkoms, is vanjaar ’n enorme probleem in die Noord-Kaap. In gebiede langs die Oranjeriver, soos Prieska, Douglas, Luckhoff, en Upington het telers groot getalle diere verloor. Sommige boere het meer as 100 skape verloor.

Die probleem is nie gelokaliseer nie. Grant Naudé, president van Merino SA, sê boere in Hanover, De Aar, en selfs in die Oos-Kaap het groot skade gely. Sommige boere vertel hoe hulle tot ’n derde van hul kudde verloor het.

Marnitz Fourie, ’n wolagent van OVK, vertel dat hy die afgelope maand of twee talle boere met dieselfde problem teëgekom gekom het. Volgens hom het die Noord-Kaap vanjaar soveel reën gekry dat daar oral watergate is en muggies na hartelus kan uitbroei. Van die boere sê hulle het bloutong-gevalle in hul kuddes gehad voordat daar muggies was. Die boere sê almal dat hulle volgens die boek gewerk het met die inentingsprogram, maar vanjaar het dit nie gewerk nie.

Piet Roux, ’n voormalige Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur van Prieska, boer sowat 50km vanaf die Oranjerivier en sy skape het ook onder die bloutong-uitbreking deurgeloop. Hy sê dit is vreemd dat die simptome van die siekte hierdie jaar anders as die normale simptome van bloutong is. Hy het vanjaar geen probleme met muggies gehad het nie. Daar was wel vir ’n week of twee geweldig baie muskiete op die plaas nadat dit begin reën het, maar dit was van korte duur.

Baie om in ag te neem

Dr Otto Koekemoer, ’n bloutongkenner en navorser van Design Biologix, ’n bekende veemedisyne maatskappy, sê daar is baie faktore wat nie altyd in berekening gebring word nie.

Hy verduidelik dat bloutong ’n komplekse siekte is wat deur enige van 24 virusse veroorsaak word. Hierdie virusse manifesteer nie altyd op dieselfde manier nie en dit veroorsaak dat die simptome van die siekte moontlik kan verskil van die gewone, standaardsimptome van ’n siekte. Hy voeg ook by dat dit nie moontlik is om met die inentingsprogram al 24 virusse in een entstof te dek nie.

“Die doel van die inentingsprogram is om die diere se immuniteit teen die virus op te bou. Tans word 11 van die 24 virusse in die entstof vasgevat, maar dit is ook belangrik om daarop te let dat ’n skaap slegs op omtrent drie tot vyf van die virusse reageer elke keer as hy ingeënt word,” verduidelik hy.

Sy voorstel is dat jong skape, veral lammers wat nog nie voorheen ingeënt is nie, meer as een inenting per jaar moet kry. Hy sê daar is wel kruisbeskerming tussen verskillende virusse, maar dit is nie veel nie. Daarom is dit belangrik dat ’n skaap een inenting plus sy skraagdosis kry, en vir jong diere kan daar ’n derde inspuiting gegee word, selfs al is dit ’n dooie entstof.

Verder noem hy dat die muggies wat jy bedags met die oog sien nie noodwendig die bloutongvirus oordra nie. Dit is eerder ’n baie klein muggie wat gewoonlik net in die aand uitkom wat die probleem veroorsaak.

Hy sê hulle het ook nie water nodig om uit te broei nie. As die minimum temperatuur meer as 10 °C is en daar genoeg vog in die lug is, sal hierdie muggies ook uitbroei.

Nuwe variant

Dr Koekemoer noem dat ’n variant van bloutong wat nie tans deur die entsof gedek word nie, moontlik die oorsaak van die probleem in die Noord-Kaap kan wees. Daarom het hy boere versoek om vir hulle monsters te stuur sodat hulle kan bepaal of die bloutong-uitbreking die gevolg van ’n bloutongvirus is wat nog nie deur hulle geïsoleer is nie.

Nog ’n boer van die Prieska-omgewing, Henry Coetzee, het ’n opmerking oor die handhawing van die koueketting van entstowwe gemaak. Volgens hom kan die probleem ontstaan omdat die koueketting nie gehandhaaf word nie. Sy voorstel is dat veemedisynemaatskappye ’n proses moet ontwerp waar daar ’n kleurverskil intree wanneer die koueketting gebreek word. ’n Boer wat die entstof op die einde van die ketting die koop, sal die gevaartekens dan kan sien voordat hy ’n entstof koop wat nie werk nie. Baie van die boere wonder of dit nie dalk ook ’n rede kan wees waarom entstowwe nie vanjaar suksesvol was nie.

Vir meer inligting kontak gerus vir dr Koekemoer by 072 123 9824. – Koos du Pisanie, Plaas Media

Must read

Chubby Chick: Verdagte aangekla vir dubbele moord

Estimated reading time: 3 minutes Die 73-jarige verdagte, wat verbind word met die Chubby Chick-skietvoorval vroeg in November, is steeds onder polisiebewaking in ’n hospitaal...

RSG Landbou – 16 Desember 2025

In vandag se RSG Landbou gesels ons oor handelsooreenkomste met Wolfe Braude van Agbiz en dr Ben Greyling van die Landbounavorsingsraad bespreek die wenners...

Wheat farmers financially strained as Section 7 investigation looms

Estimated reading time: 5 minutes The Wheat Forum has applied for the establishment of a Section 7 Committee to conduct a comprehensive investigation into the...

Agri X Fusion 2026 to align research and industry for the future of South...

Estimated reading time: 2 minutes Agri X, in partnership with the North-West University (NWU), will host the Agri X Fusion Red Meat Value Chain Event...

RSG Landbou: 15 Desember 2025

In vandag se RSG Landbou gesels Agbiz oor hulle fokuspunte vir 2026, ons vind uit wie die 2025 Nasionale Meestersuiwelboer wenners is en dr...