Estimated reading time: 4 minutes

Die bloubessiebedryf is, wat hektare betref, ’n klein bedryf. Die totale aanplanting van 3 200ha is nie baie groot nie. As daar egter na die waarde van die bedryf gekyk word, dan is die bedryf groot. So het Elzette Schutte, operasionele bestuurder van Berries ZA, by die onlangse symposium van die SA Planttelersvereniging op Stellenbosch gesê.

Die bloubessiebedryf was in 2020 agtste op die Wes-Kaapse vrugte- en wynuitvoerprestasielys. “Die bedryf se waarde het in die vyf jaar tot 2020 met 49% per jaar, van R0,27 miljard in 2015 tot R2,01 miljard in 2020, gegroei.”

Schutte het gesê die bedryf het in 2018 vir die eerste keer meer as R1 miljard se produkte uitgevoer. Die uitvoerwaarde het tot meer as R2,5 miljard in 2021 toegeneem.

“Bloubessies is gelykstaande aan werksgeleenthede. Die bedryf is dus ook groot in terme van werkverskaffing en is verreweg die grootste werkverskaffer per hektaar. Op die oomblik neem die bedryf meer as drie mense per hektaar in diens, wat hoër is as by die ander kommoditeite. Die bedryf kan dus ’n groot bydrae tot werkskepping maak, veral as markte in die Verre Ooste oopgemaak word.

Wêreldkonteks

Schutte het gesê die produksie van bloubessies het die afgelope paar jaar wêreldwyd skerp gestyg. Volgens die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) se jongste navorsing was die gemiddelde groei van die wêreldvoorraad 12,3% oor 20 jaar, 14,9% oor tien jaar, 20,3% oor vyf jaar, en 14,5% die afgelope jaar.

BFAP beraam ook dat daar wêreldwyd 218 000ha onder bloubessies is. Die totale produksie is 1,5 miljoen ton en die gemiddelde opbrengs is 7,1 ton/ha.

Schutte het gesê die wêreldwye groei is hoofsaaklik deur groter aanplantings (82%) en ’n verhoging in opbrengs (16%) gedryf. China en Peru het die grootste bydrae tot die onlangse groei gemaak.

Die grootste produsente is China (370 565 ton in 2021), Amerika (293 432 ton), Peru (227 971 ton) en Chili (178 000 ton). Peru se bloubessiebedryf het die afgelope jaar met 27% gegroei en is Suid-Afrika (SA) se grootste mededinger, het Schutte gesê.

Lees meer oor die kanolabedryf in die Wes-Kaap floreer.

Elzette Schutte van Berries ZA gesels onder andere oor indiensneming in die bessiebedryf.

Suid-Afrika in top tien

Die SA bedryf het in 2021 met 31% gegroei en het 33 182 ton geproduseer, wat die land die tiende grootste bloubessiebedryf in die wêreld maak.

Vergeleke met die grootste produsente is die plaaslike bedryf nog baie klein. “Om perspektief aan SA se bedryf te gee; Peru het die afgelope seisoen 200 000 ton bloubessies uitgevoer en SA net 20 000 ton – ’n tiende van Peru se hoeveelheid,” het Schutte gesê.

In SA word bloubessies hoofsaaklik in die Wes-Kaap verbou. Die oppervlakte onder bloubessies het van 461ha in 2014 tot 3 200ha in 2021 gegroei. Na raming sal daar in 2025 sowat 5 000ha onder bloubessies in SA wees.

Die plaaslike bedryf se totale uitvoer het van 1 792 ton in 2014 tot 20 000 ton in 2021 gegroei. In 2025 sal daar na raming 55 000 ton uitgevoer word.

Nuwe uitvoermarkte is nodig

SA se bloubessies word hoofsaaklik na die tradisionele markte uitgevoer. Omtrent 95% van die oes gaan na die Verenigde Koninkryk (VK) en Europa, met die drie grootste markte die VK (36%), Nederland (27%) en Duitsland (20%).

Schutte het gesê die geleenthede lê egter in die Verre Ooste. As ons markte in China, Suid-Korea, Indonesië, Israel, Indië en Kanada kan oopmaak, sal pryse styg, meer hektare geplant en meer werksgeleenthede geskep kan word. “Dit is die enigste pad vir ons. Die aanvraag is reeds daar en SA kan uit die suidelike halfrond die markte diens.

“Dit is baie moeilik om daar ’n mark oop te maak. Dit het die peerbedryf 18 jaar gevat om toegang tot die Chinese mark te kry en die appelbedryf 15 jaar. China hanteer net een produk op ’n slag. Avokado’s is nou op die lys. Ons hoop bloubessies is volgende.”

Schutte het ook gesê bloubessies is nou ’n kommoditeit en nie meer ’n nisproduk nie. “Genetika is die fondasie van die bloubessiebedryf. Hoe beter die kultivars, hoe groter die vraag na die kultivars.

“Die bedryf het die afgelope paar jaar baie verander. In die verlede sou ’n produsent homself tot een van die groot maatskappye verbind en ’n kontrak gesluit het wat hom die reg gegee het om die maatskappy se kultivars te verbou. Die maatskappye het die produsent met tegniese probleme gehelp en ook sy produkte bemark.”

Die hele proses was dus ’n baie beheerde stelsel. Met nuwe maatskappye wat meer kultivars inbring, raak die bedryf meer interessant en hoef die produsent nie meer deur een kanaal te werk nie. Hulle het dus nou meer beweegruimte, het Schutte gesê. – Hugo Lochner, AgriOrbit