Estimated reading time: 3 minutes
Die 2025 Bloemskou wat op 25 April 2025 afgeskop het, is met groot sukses op Saterdag 3 Mei afgehandel. Dit was ’n besondere skou ter viering van 142 jaar in die skoubedryf, met drie vakansiedae en skole-vakansieweek.
Bloemskou sou nie sonder die bydrae van honderde rolspelers, uitstallers, rasgenootskappe, telers, borge en besoekers moontlik gewees het nie.
Vanjaar se skou is gekenmerk deur milde reën in die dae voor die skou amptelik begin het en uitstekende herfsweer, alhoewel die weerlig vanjaar skou-aktiwiteite een keer gestop het en daar ’n koue front die laaste drie dae was. Die veiligheid van besoekers was en bly ’n prioriteit.
Ten spyte daarvan dat die skou een dag korter was as gevolg van die Paasnaweek voor die skou, die skole-vakansieweek waartydens baie mense weg was, en uitdagende ekonomiese tye, het 106 706 mense vanjaar se skou besoek. Dit is sowat 6 000 meer as die vorige keer in 2019 toe daar ook oor nege dae geskou is, en sowat 19 000 minder as in 2024 se skou oor tien dae.
Ekonomiese inspuiting vir die streek
Bloemskou het homself weereens bewys as een van die gewildste en grootste skoue in Suid-Afrika, wat ’n groot finansiële en ekonomiese inspuiting vir die stad en streek beteken. Die gehalte, verskeidenheid, en byvoeging van talle nuwe uitstallers het groot lof van besoekers gekry en die terugvoer van uitstallers was net so goed. 345 uitstallers en 60 kosstalletjies was deel van vanjaar se Bloemskou.
Die skou het vanjaar 2 711 inskrywings by die Kreatiewe handwerk en kuns-afdeling ontvang. Dit is veral verblydend hoeveel inskrywings daar van skole en kinders was, en watter ongelooflike trots daar was om hulle artikels by die Bloemskou te sien. Tans is die afdeling die grootste van sy soort in SA.
Daar was ook vanjaar ’n rekord van 408 suiwelprodukinskrywings ontvang van verskeie suiwelfabrieke in Suid-Afrika.
Propvol landbouprogram
Vanjaar se landbouprogram was propvol, met die grootste lof van telers oor die wonderlike platform, gees, en bemarkingsgeleentheid wat Bloemskou bied vir die stoetveebedryf. Die program het 22 kampioenskappe en 5 759 diere van perde, beeste, skape en bokke ingesluit. Die afdeling en Bloemskou was ook bevoorreg om vanjaar ’n besoek van die minister van landbou, John Steenhuisen, te ontvang.

Besprekings is reeds deur rastelersgenootskappe gemaak vir die 2026 Bloemskou en alle aanduidings is dat die landbouprogram reeds vol bespreek is.
Ons dank aan elke besoeker, vertoner, uitstaller, diensverskaffer, borg, en die media vir die ongelooflike ondersteuning en aandeel aan die sukses van Bloemskou 2025, wat weereens gesorg het vir ’n groot ekonomiese inspuiting vir Bloemfontein en die Vrystaat.
Wat ’n voorreg om deur die Bloemskou, hoop en glimlagte op soveel kinders en skouvriende se gesigte te sit.
Ons sien almal weer by Bloemskou 2026 wat van 23 April tot 2 Mei aangebied sal word! – Persverklaring, Bloemskou










