Bewerings dat boer diere afmaai is fopnuus

Estimated reading time: 3 minutes

’n Mpumalanga-produsent, Paul Grey, het hom in stormwaters bevind nadat sy plaas eers deur gewapende mans binnegeval is, en wydverspreide bewerings daarna op verskeie nuuswebwerwe gepubliseer is dat hy al sy vee van kant gemaak het.

Volgens Grey het hy na dekades se onsuksesvolle pogings om ’n grondhervormingsprogram van die grond af te kry, in Mei vanjaar moed opgegee en wou hy weer sy grond by die Departement van Grondhervorming terugkoop. Toe hy egter sy oë op Woensdag, 9 Augustus, uitvee het tussen 30 en 40 gewapende mans by sy perseel opgedaag. “Hulle het maklik 40 aanvalsgewere – R4’s en AK 47’s – by hulle gehad,” het Grey gesê en voeg by dat daar ook 16 haelgewere en tussen 20 en 30 9mm pistole was.

Interdik teen besetters

“Die mans het gesê ek moet my goed vat en loop. Hulle het toe ons kantore oopgebreek en ek is uiteindelik weg met net my bril en skootrekenaar,” sê Grey en voeg by dat die invallers by beide sy eie en sy ouers se huise ingebreek het.

Grey het die perseel verlaat en sy regspan het dadelik begin werk aan ’n interdik teen die besetters. Die interdik is op Saterdag, 12 Augustus, deur regter Mpolele Bruce Langa in die Mpumalanga Hoë Hof in Middelburg toegestaan.

Volg hierdie skakel om die interdik te besigtig: https://l.linklyhq.com/l/1tkjP.

Grey sê met dié bevel en die hulp van Ermelo se balju, kon die besetters van die plaas verwyder word.

Nasionale Dierebeskermings vereniging raak betrokke

Grey ontken bewerings dat hy al sy diere doodgemaak en verbrand het, nadat aantuigings en foto’s die rondtes op sosiale media en webwerwe gedoen het.

Jacques Peacock, woordvoerder van die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) sê die organisasie het ’n klag – wat ’n video ingesluit het – oor die aangeleentheid ontvang. ’n Inspekteur van hul plaasdierbeskermingseenheid is uitgestuur om ondersoek in te stel en by sy aankoms het Grey vrywillige toegang tot die eiendom verleen.

“Alle diere wat gevrek het, was in verskillende stadiums van ontbinding aangetref, wat daarop dui dat hulle op verskillende tye gevrek het,” het Peacock gesê en voeg by dat geen karkasse tekens van brandwonde getoon het nie. Daar was ook geen aanduiding dat enige van die diere op ’n opsetlike of wrede wyse doodgemaak is nie.

Die area rondom die plaas se stortingsterrein en brandbane was wel gebrand, maar dit is in ooreenstemming met die bepalings van die Nasionale Veld- en Bosbrandwet, 1989 (Wet 101 van 1989), voeg hy by.

“Die NDBV het ook horings en skedels van verskillende diere gevind. Daar is vasgestel dat dit afkomstig was van diere wat Grey wettiglik uitgeskot het, met gepaardgaande permitte om die diere in Mpumalanga en KwaZulu-Natal te slag.”

Ten tyde van die NDBV-ondersoek was daar meer as 100 wild, ongeveer 1 000 beeste en 3 000 skape, 18 perde en meer as 80 ganse op die plaas – almal lewendig en in ’n goeie toestand. “Grey het die NDBV toegelaat om die hele plaas, sonder begeleiding, te inspekteer om na enige ander diere of karkasse te soek en geen oortredings van die Dierebeskermingswet, 1962 (Wet 71 van 1962) was duidelik nie.”

Peacock sê uit die ondersoek het dit duidelik geword dat Grey nie gedwing is om sy plaas te ‘oorhandig’ nie en dat die hooggeregshof in Mpumalanga bevind het dat hy onwettig uitgesit is. “Dit bevestig ons gevolgtrekking dat Grey nie ’n motief sou hê om kwaadwillig of wreed op te tree nie.”

Kyk gerus onder na ‘n video-onderhoud met regsgeleerde, Hans-Jurie Moolman, oor grondeienaars se regte as dit kom by sake soos onwettige besetting. – Susan Marais, Plaas Media

RSG Landbou: 2 Oktober 2023 – geborg deur Plaas Media

Goeie nuus vir landbou en inwoners wat afhanklik is van water uit die Kougadam...

Plaas TV: Klimaatslim boerdery, AFMA Forum, Agbiz Graan- en Oliesade-simposium en Kubota-trekkers

Hierdie week het Plaas TV weereens vir interessante kykstof gesorg en vandag is #kykweervrydag. Hier is...

Strategies for managing seasonal infertility in pigs

Estimated reading time: 7 minutes The phenomenon of seasonal infertility among pigs is real,...

Avoid unilateral changes to the employment contract

Estimated reading time: 4 minutes The employment contract can be of immense value to...