Bevordering van inheemse kosse kan voedselsekerheid in SA verbeter

Estimated reading time: 5 minutes

Ondanks ’n oorvloed inheemse groente en vrugte in Suid-Afrika word die inwoners van die streek steeds aan voedselonsekerheid blootgestel. Dit wil lyk asof daar nie waarde geheg word aan hierdie voedselgewasse en die potensiaal daarvan om armoede en hongersnood uit te wis, om gesondheid en voeding te bevorder, en inkomste aan huishoudings te verskaf nie.

“Die verbruik van inheemse voedselsoorte soos Bambara aardboontjies, batsjapinboontjies (of swartbekboontjies), groen blaargroente en pampoenblare is aan die afneem in die meeste Suider-Afrikaanse lande.

“Hierdie afname kan aan verskeie faktore toegeskryf word, insluitende die verwestering van Afrika-diëte, die bitter smaak van wilde groente wat mense afskrik, en die persepsie dat wilde groente lae-inkomstevoedsel is,” sê navorsers in die Afdeling Menslike Voeding in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe by die Universiteit Stellenbosch.

“ ’n Gebrek aan belangstelling om meer oor inheemse voedselsoorte te leer, of die afwesigheid van die ouer garde wat die inligting oor die identifikasie, oes, voorbereiding en preservering van hierdie kossoorte aan die jonger geslag oordra, het ook tot hierdie afname gelei. Kommersiële boerdery, navorsing en ontwikkeling het ook hierdie voedselgewasse in ’n groot mate geïgnoreer, wat dit minder mededingend as gevestigde hoofgewasse maak,” voeg hulle by.

Die navorsers het ’n sistematiese oorsig van bestaande data (2011 tot 2021) oor die beskikbaarheid van inheemse voedselsoorte in Suider-Afrika gedoen, insluitende faktore wat tot die benutting daarvan lei. Hulle wou die beskikbaarheid, gereeldheid van verbruik, benutting, voorbereiding, oes en preservering van inheemse voedselsoorte bepaal. Hulle wou ook die kennis, persepsies en gelowe oor hierdie kossoorte in detail onder hierdie temas opteken.

Die bevindings van hul oorsig het onlangs in die internasionale ooptoegangjoernaal, Sustainability, verskyn.

Vind meer uit oor die rol van besproeiing in voedselsekerheid.

Ondanks ’n oorvloed inheemse voedselsoorte in Suid-Afrika word die inwoners van die streek steeds aan voedselonsekerheid blootgestel.

Tekort aan beskikbaarheid en kennis

Volgens die navorsers het die oorsigstudie aangedui dat die beskikbaarheid en kennis van inheemse voedselsoorte belangrike bepalers van die inname daarvan was. Dit is gevolg deur die geloof dat hul ’n hoër voedingswaarde as vreemde kossoorte het.

“Studies in Kenia, Botswana, Suid-Afrika, Eswatini en Zimbabwe het getoon dat inheemse voedselsoorte ryk aan makrovoedingstowwe (proteïen) en mikrovoedingstowwe (kalsium, vitamiene A, potassium, magnesium, sink en yster) is, maar hul voedingspotensiaal en voordele moet nog behoorlik waardeer en verken word.

“Dit is aangedui dat hierdie voedselsoorte meer gereeld in landelike gebiede deur veral bejaardes en werkloses verbruik word. Studies in ons sistematiese oorsigstudie het getoon dat sommige inheemse groentes wat van veeldoelige plantspesies verkry word, as voedsel en medisyne aangewend word om gesondheid te bevorder. Verder is daar ook verskeie drankies beskikbaar wat van inheemse kossoorte gemaak word, insluitende tradisionele bier, gefermenteerde nie-alkoholiese drinkgoed en kruietees.

“Inheemse voedselsoorte is nie net toeganklik nie, maar word ook in verskeie gemeenskappe verbruik om voedingswaarde en gesondheidsvoordele te bied. Dit is veral belangrik omdat die meeste landelike gebiede in Suider-Afrikaanse lande min of geen toegang tot mediese-sorggeriewe het nie, of mense moet lang afstande stap om by mediese geriewe uit te kom.”

Die navorsers voeg by dat inheemse voedselsoorte volgens ander studies die vermoë het om voedselsekuriteit te verbeter deur die beskikbaarheid, toeganklikheid, volhoubaarheid en benutting daarvan.

Hulle wys daarop dat slegs ’n paar studies die preservering van inheemse voedselsoorte aanspreek, wat verklaar waarom die saadverskaffingsbedryf vir inheemse voedselplante onderontwikkeld is in Suider-Afrika.

“Die langtermynberging van hierdie voedselsoorte word deur die gebrek aan wetenskaplik-gestaafde preserveringstegnieke belemmer. Daarom is dit noodsaaklik om hierdie tegnieke wetenskaplik te toets om te verseker dat geen voedingstowwe verlore gaan nie.”

Volgens die navorsers is kook die gewildste metode vir die voorbereiding van inheemse voedselsoorte om die verteerbaarheid en geur daarvan te verbeter. “Inheemse groente word vóór verbruik gekook, terwyl inheemse vrugte wat nie giftig is nie, gewoonlik geëet word sodra hulle gepluk is.”

Hulle sê die oorsig beklemtoon ook die belangrikheid van suksesvolle internasionale, streeks- en nasionale beleide om inheemse voedselsoorte te bevorder, hoewel daar baie min tot geen ondersteunende beleide in die meeste Suider-Afrikaanse lande bestaan nie. Suid-Afrika is die uitsondering en het die toon aangegee deur navorsing oor hierdie voedselsoorte met behulp van finansiële hulp van organisasies soos die Departement van Wetenskap en Tegnologie en die Landbounavorsingsraad te bevorder.

Maak verbouing winsgewend

Die navorsers beklemtoon die behoefte aan vaardighede om kapasiteit te bou, asook vir gepaste infrastruktuur in landelike gemeenskappe, en genoeg geld vir omvattende navorsing en bemarking sodat diegene wat betrokke is by die verbouing van inheemse voedselsoorte ’n bestaan kan maak uit hulle werk.

“Ons het bewusmakings- en bemarkingsveldtogte regoor die streek in die vorm van werksessies en radio- en televisieprogramme nodig, terwyl toepaslike regeringsorganisasies betrokke moet raak by die bevordering van die aanvaarde gebruik van hierdie voedselsoorte in skole en hospitale, en om dit deel van daaglikse etes te maak.

“Die bewaring van kennis oor inheemse voedselsoorte in boeke en deur voortgesette onderwys vir die jonger geslag oor waarom dit belangrik is om hierdie voedselsoorte te eet, asook die voedingswaarde daarvan, kan help om die aanvaarde gebruik te bevorder. Kennisoordrag kan help om die verbruik, voorbereiding en preservering te bevorder,” voeg die navorsers by. Universiteit Stellenbosch

Uitdagings vir die volgende generasie veeboere

Estimated reading time: 4 minutes Die volgende generasie veeboere sal oor die volgende 20...

Sinkronisasie by skape: Voordele, nadele, tegnieke en vangplekke

Estimated reading time: 7 minutes Skape se teelsiklus word beheer deur twee hormone, naamlik...

Meganiese veldherstel: Kies die regte ploeg vir die regte doel

Estimated reading time: 8 minutes Klimaatsverandering sal vorentoe ‘n al hoe groter rol speel...

Die hof se bevoegdheid om deliktuele eise te bereg

Estimated reading time: 5 minutes ’n Delik kan omskryf word as die daad van...