Beurtkrag kos aartappelboere miljoene

68

Estimated reading time: 2 minutes

Beurtkrag, tesame met die onlangse versengende hitte, het miljoene rande se skade aan aartappel-oeste in Limpopo aangerig. Daarby moes duisende rande per week aan ekstra diesel bestee word om tydens die onderbrekings krag aan pakhuise met kragopwekkers te voorsien.

ʼn Mens sou ook verwag dat die kragrekening sou daal omdat minder krag gebruik is. Talle boere se rekenings het egter gestyg omdat die spilpuntbesproeiingstelsels elke keer as hulle weer aangeskakel word, piek hoeveelhede krag gebruik voordat dit weer egalig loop.

Lees meer oor hoe beurtkrag die landboubedryf affekteer.

CT van der Merwe, hoofbestuurder van die AL 3 Boerdery en voorsitter van die reëlingskomitee van die Vivo-boerebemarkingsdag, sê beurtkrag het ʼn massiewe invloed op die gebied se aartappelbedryf gehad. Hy skat die verlies aan opbrengs as gevolg van die onderbreking van besproeiing tydens beurtkrag beloop net in hul boerdery sowat R4 miljoen.

Water vir die besproeiing van die sowat 38 000 ton tafelaartappels, 7 000 ton aartappelmoere, 20 000 ton uie en nog groente en vrugte wat geproduseer word, kom uit 40 boorgate. Elke keer wat die krag onderbreek was, moet daar gery word om die pompe by al die boorgate weer een vir een aan te skakel.

Die meeste aartappelboere se pakskure word tydens kragonderbrekings met dieselkragopwekkers aangedryf, wat met beurtkrag gemiddeld R50 000 tot R60 000 per week kos.

Lees meer oor die 2022 Chips artikel van die jaar.

Die staking van vervoerwerkers wat hawens lamgelê het, was nie ʼn onmiddellike probleem nie, aangesien aartappels nie uitgevoer word nie. Die kring-uitwerking daarvan op die verskaffing van noodsaaklike insette soos diesel, kunsmis en chemiese middels kan weliswaar later tref.

Wat die situasie vererger, is dat dié uitdagings saamloop met ʼn relatiewe lae aartappelprys as gevolg van ʼn groter aanbod as gewoonlik omdat dit vanjaar nie geryp het nie en groter aanplantings gedoen is ná verlede seisoen se baie goeie pryse toe boere tot R100 vir ʼn sakkie aartappels gekry het, sê Van der Merwe. – Andries Gouws, Plaas Media