Beur teen die winde wat ’n impak op Suid-Afrikaanse landbou het

Estimated reading time: 3 minutes

Soos wat ons die einde van 2022 nader, het beduidende teenwinde steeds ’n impak op die Suid-Afrikaanse landbousektor. Sommige uitdagings soos infrastruktuur, elektrisiteit, belegging, logistiek, siektebeheer en dienslewering is al vir ’n geruime tyd met ons, terwyl ander faktore soos klimaatsverandering en marktoegang ’n voortdurende impak op bedrywighede en groei het.

Ten spyte van hierdie uitdagings is die sektor steeds op ’n positiewe plek. Dit is te danke aan die La Niña-fenomeen, bogemiddelde oeste en soliede kommersiële prestasie. Om dié positiewe aspekte te verstewig, is dit belangrik om die bestaande impak van hierdie teenwinde te verstaan, daaruit te leer, en op langtermynoplossings te fokus om dit te oorkom.

Ná twee agtereenvolgende rekordjare ten opsigte van uitvoere, verwag ons ’n verlaging in netto landbou-uitvoere vir 2022.



Hierdie verlaging in uitvoere word beïnvloed deur die verlaagde produksie van sleuteloeste, dieresiektes en die veranderinge ten opsigte van regulasies in die Europese Unie (EU) se markte, asook die vloede in KwaZulu-Natal in April en stakings by Transnet-hawens in Oktober. Ten spyte van geïmplementeerde noodmaatreëls en belegging in die herbou van infrastruktuur wat vloedskade gely het, sowel as gedeelde lading regoor verskeie ander hawens, kry die sektor steeds swaar.

Bek-en-klouseer – wat in 2021 reeds uitgebreek het – het dinge verder gekompliseer en die lewendehawebedryf het in 2022 steeds daaronder gebuk gegaan.

Pak uitdagings met vernuf aan

Hierdie teenwinde bly steeds ’n uitdaging wat slegs oorkom kan word deur konsekwente betrokkenheid by owerhede in sleutelmarkte, verbeterde siektebeheer, volgehoue belegging in nuwe infrastruktuur, en die instandhouding en herstel van bestaande toerusting.

Dit is ook belangrik om die uitdagings wat deur veranderde wetgewing in die EU oor sitrusinvoere meegebring is, te oorweeg. Daarmee saam moet plaagbeheer van plae soos die valskodlingmot en die behoorlike hantering van ander plantgesondheidskwessies, soos sitrus-swartvlek, ook in ag geneem word. Hierdie uitdagings, saam met verbeterde marktoegang, vereis dat die Suid-Afrikaanse owerhede ingryp om verhoudings met invoerlande wat vir die uitvoersektor noodsaaklik is, te versterk.

Bly uit die spervuur met goeie risikobestuur

Laastens is daar faktore soos die konflik in Oekraïne, die voortslepende impak van Covid-19, ontwrigte voorsieningskettings, wisselende insetkoste, en onstabiele wêreldvoedselpryse wat plaaslike stabiliteit en welstand bedreig. Volgens die VN se Voedsel- en Landbou-organisasie, kan die koste van voedsel en groeiende onsekerheid moontlik onrus op die kontinent veroorsaak.

Kyk hier na ‘n Plaas TV-onderhoud met Nedbank se John Hudson oor Nedbank se betrokkenheid by volhoubare klimaatslimboerdery:

Hierdie ernstige bedreigings moet deur middel van die openbare en privaatsektor se konsekwente en deurlopende belegging in die standvastigheid van die landbousektor aangespreek word. Toegewyde benaderings is die sleutel tot risikobestuur van voedselkoste en -stabiliteit, asook die hantering van voortslepende uitdagings soos beurtkrag, hoë insetkoste en misdaad. Die landboulandskap is kompleks, en om hierdie kompleksiteit op te los vereis dat elke speek in die landbou-wiel saam werk om ’n volhoubare toekoms te bou.

Nedbank se belegging in die landbousektor is ’n kerndeel van ons strategie en ons is daartoe verbind om produsente, landboubesighede, entrepreneurs en organisasies van die kundigheid en finansiële vernuf te voorsien om in komplekse tye te floreer.

Soek jy dus net nóg ’n finansiële vennoot, of die regte vennoot om jou landboubesigheid te laat groei? Om meer uit te vind, stuur ’n e-pos aan agriculture@nedbank.co.za of besoek www.nedbank.co.za/agriculture. – Deur John Hudson, Nedbank se nasionale hoof van landbou

Must read

Plaas TV: Klimaatslim boerdery, AFMA Forum, Agbiz Graan- en Oliesade-simposium en Kubota-trekkers

Hierdie week het Plaas TV weereens vir interessante kykstof gesorg en vandag is #kykweervrydag. Hier is ’n opsomming van dié week se episodes: Die Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur-projek het ten doel om veeprodusente te identifiseer wat klimaatslim boerderypraktyke...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 4 minutes Johan van den Berg ken sy storie as dit by die weer kom. Hy het die afgelope week met Lise Roberts oor die nuutste weersake op RSG Landbou gesels....

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 38

The weekly pork carcass price is brought to you by the South African Pork Producer's Organisation (SAPPO). Click here for this week's report. https://agriorbit.com/rooivleispryse-red-meat-prices-2/ Important notes Domestic pork carcass prices are weighted averaged abattoir purchase prices per category...

RSG Landbou: 28 September 2023 – geborg deur Plaas Media

Die grootste beperkende faktor ten opsigte van produksie-doeltreffendheid in skaapboerdery, is mortaliteit onder pasgebore lammers. In Donderdag se aflewering van RSG Landbou hoor ons by Alheit du Toit van Feedtek wat die oorsaak is...

Biesmelk: Die lewensbron van lammers

Estimated reading time: 3 minutes Die belangrikheid van biesmelk kan nie oorbeklemtoon word nie. Dit is daardie eerste melk wat die lam inneem na geboorte. Dit gee daardie nuwe lam ’n eerste hupstoot en...